Proaktiewe maatreëls kan impak VAN HOËR DIESELPRYSE VERSAG

Gerhard Burger en Mlibo Qotoyi, landbou-ekonoom interns, Graan SA
Gepubliseer: 6 Februarie 2025

391

Gedurende die 2024-produksieseisoen moes Suid-Afrikaanse produsente besonder uitdagende toestande trotseer. Stygende dieselkoste het beklemtoon dat brandstof nie net trekkers en besproeiingstelsels aandryf nie, maar ook die landbou-ekonomie van Suid-Afrika onderhou. Inisiatiewe soos die dieselkor­ting speel ’n beduidende rol om die druk op produsente te verlig en produksiekoste te verlaag.

Die skerp styging in dieselpryse benadruk verder die kwesbaarheid van die landbousektor in ’n wêreld waar internasionale en plaaslike ekonomiese faktore verweef is om die produksielandskap te vorm.

2023/2024 se midsomerdroogte het tot die druk op landbou bygedra en het ’n aansienlike impak op oesopbrengste gehad. Daarbenewens het die Noordelike Halfrond uiterste weerveranderlikheid ervaar tydens belangrike produksiestadiums. Geopolitieke spanning en wydverspreide verkiesings, insluitend dié in Suid-Afrika, het verdere onsekerheid veroorsaak. Met ongeveer 66 lande wêreldwyd wat in 2024 verkiesings gehou het, het verskuiwings in beleid en leierskaponstabiliteit onvoorspelbaarheid in die landbousektor verhoog. Produsente produseer in ’n uitdagende koste-omgewing wat verder beïnvloed word deur die wisselende Brent-ruoliepryse en ’n verswakte rand.

Hierdie druk het nie net ’n impak op produksiebegrotings nie, maar op die hele waardeketting. Dit het druk op die verbruiker geplaas deur verhoogde inflasie, wat winsgewendheid verminder. Terwyl enkele streke by gunstige opbrengste baat gevind het wat gehelp het om hierdie uitdagings te versag, het ander, soos die droogtegeteisterde Noordwes, aansienlike finansiële spanning ervaar. Die situasie beklemtoon die ongelyke impak van hierdie dinamika oor die verskillende landbou-areas van Suid-Afrika.

Die dieseldilemma

  • Prysstyging: Groothandeldieselpryse het in Desember 2024 met 54,88 sent/liter (0,05% swael) en 55,88 sent/liter (0,005% swael) gestyg.
  • Globale faktore: Wêreldwye oliepryse, veral Brent-ruolie, het deur die jaar gewissel. Die voortslepende konflik in die Oekraïne en OPUL+-produksiebesnoeiings het veral tot hierdie wisselvalligheid bygedra.
  • Plaaslike valutaskommelinge: ’n Verswakte rand het die pro­bleem vererger aangesien dit brandstofinvoere duurder gemaak het.

Impak op produsente
Die stygende koste van diesel het ’n rimpeleffek in die landbou­sektor gehad:

  • Verhoogde bedryfskoste: Die koste van vervoer, besproeiing en masjineriebedrywighede was hoër, wat druk op produsente se kontantvloei geplaas het.
  • Verminderde winsmarges: Die kombinasie van stygende dieselpryse tesame met verhoogde koste vir kunsmis en saad het winsmarges verlaag.
  • Beperkte belegging in infrastruktuur: Hoër dieselkoste het vele produsente verhoed om in infrastruktuuropgraderings, soos bergingsfasiliteite en nuwe masjinerie wat moontlik langtermynproduktiwiteit kan verbeter, te belê.

Soos in Tabel 1 getoon, skat Graan SA dat brandstof 17 tot 20% van die totale veranderlike koste op ’n tipiese sonneblomplaas vir die 2024/2025-produksieseisoen uitmaak. Dit illustreer hoe stygende brandstofpryse plaaskoste kan beïnvloed, wat daarop dui dat ’n beduidende toename in brandstofkoste winsgewendheid kan verminder. Volgens Graan SA kan ’n geraamde styging van 8,7% in brandstofkoste vir die produksieseisoen verwag word. Dit is byna dubbel die jaar-tot-jaar-toename van 4,8% van 2022/2023 tot 2023/2024.

’n Kykie na 2025
Om die uitdagings van stygende dieselpryse te bestuur, kan produsente die volgende strategieë oorweeg:

  • Doeltreffendheidsmaatreëls: Optimaliseer dieselgebruik deur doeltreffende masjinerie en operasionele praktyke te implementeer.
  • Grootmaataankope: Koop diesel in groot maat teen laer pryse of oorweeg termynkontrakte om gunstige pryse ten volle te benut.
  • Gebruik van dieselkorting: Verseker akkurate rekordhouding om die voordele van die dieselkortingsprogram ten volle te geniet.
  • Ondersoek alternatiewe: Oorweeg oplossings vir hernubare energie soos sonkragaangedrewe besproeiing om afhanklikheid van diesel te verminder.
  • Belegging in presisielandboutegnologie: Neem kostebespa­rende tegnologieë aan vir plant, oes en ander landboubedrywighede.

Terwyl 2024 ’n uitdagende jaar vir Suid-Afrikaanse produsente was, kan proaktiewe maatreëls en strategiese beplanning help om die impak van stygende dieselpryse in 2025 te versag en die langtermynvolhoubaarheid van die landbousektor te verseker.