
Tydens Graan SA se Kongres in Maart 2024 is besluit om voort te gaan met die teling-en-tegnologieheffing, oftewel die SACTA-heffing soos die meeste mense dit ken. Dié heffing
het einde Februarie 2024 sy sesde bestaansjaar bereik.
Sojaboonprodusente het tydens Kongres besluit om dit met drie jaar te verleng, met die voorwaarde dat ’n duidelike stel prestasiekriteria opgestel word om die sukses van die heffing te meet.
Die heffing vir die huidige bemarkingsjaar is R92/ton. Vanaf Maart 2025 lyk die heffing soos volg:
Dit is egter belangrik om weer te verduidelik waar die heffing vandaan kom:
Waarom ’n heffing op sojabone?
Vir heelwat jare het plaaslike sojaboonprodusente nie toegang tot die nuutste GMO-tegnologie en genetika gehad nie. Dit is tans aan die verander aangesien die sojaboonbedryf ’n stelsel ontwikkel het om tegnologie- en kultivarontwikkeling te befonds.
Waar het die probleem ontstaan? Dit is wettig dat produsente ’n deel van hul oes mag terughou om in die volgende jaar te plant. Dit is egter belangrik om daarop te let dat produsente nie hierdie saad mag verkoop of verhandel nie. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) word 80% van sojaboonaanplantings met terughousaad geplant. Alhoewel dit alles wettig is, veroorsaak dit dat saadmaatskappye nie vergoed word vir die navorsing en ontwikkeling van nuwe tegnologie en kultivars nie en verhoed dit dus verbeterde sojaboonsaad en -tegnologie om na die plaaslike mark te kom.
Volgens ’n studie in 2022 deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het sojaboonopbrengste oor ’n 20-jaarperiode in die VSA met 1,46% per jaar toegeneem, in Brasilië met 1,33% per jaar en in Argentinië met 0,64%. In dieselfde tydperk het Suid-Afrika se opbrengste met slegs 0,43% per jaar toegeneem. Gedurende hierdie tydperk was die Suid-Afrikaanse opbrengsgemiddeld 40% laer as die gemiddelde opbrengste in hierdie drie produserende lande. Sedert die teling-en-tegnologieheffing ingestel is, het hierdie tendens in Suid-Afrika egter omgekeer en is die gaping besig om te krimp (Grafiek 1).


Hoe word die heffing bereken?
Die teling-en-tegnologieheffing op sojabone is vir ’n volgende drie jaar goedgekeur met ingang 1 Maart 2025. Die heffing is R70/ton; R73/ton en R84/ton vir die volgende drie jaar onderskeidelik. Die heffing word by die eerste punt van verhandeling gehef.
Hierdie waardes is bereken as 1,2% van die vyfjaar- skuiwende gemiddeld van die Safex-sojaboonprys. Die heffing behoort dus te varieer soos die sojaboonprys oor tyd verander.
Deur wie word die heffing geadministreer?
Die sojaboonheffing word deur die Suid-Afrikaanse Kultivar-en-Tegnologie-agentskap (SACTA) geadministreer en volgens markaandeel aan saadmaatskappye uitbetaal. Van die heffing word 20% aan landbou-ontwikkeling spandeer, terwyl minder as 3% aan administrasie toegeken is. Die res word volgens hul markaandeel aan saadmaatskappye uitbetaal – dit wil sê die maatskappye wat die beste presteer gaan die meeste van die fondse ontvang.
SACTA is ’n niewinsgewende maatskappy wat gestig is om saadheffings vir alle oopbestuifde gewasse te administreer.
Heffings op koring, gars, hawer, lupiene en sojabone word reeds deur SACTA ingesamel en uitbetaal. SACTA bestaan uit ’n raad van direkteure wat soos volg saamgestel is:
- Twee verteenwoordigers van Graan SA;
- twee verteenwoordigers van SANSOR;
- twee verteenwoordigers van die Minister van Landbou;
- een verteenwoordiger van Agbiz Grain (silobedryf);
- een verteenwoordiger wat die sojaboonverwerkingsbedryf verteenwoordig; en
- ’n besturende direkteur.
SACTA as niewinsgewende maatskappy word geadministreer deur Agri Manage Solutions (AMS).
Hoe werk die uitbetaling?
Die ingevorderde teling-en-tegnologieheffing word volgens saadmaatskappye se markaandeel in die sojaboonsaadmark uitbetaal. Die maatskappye met die grootste markaandeel behoort dus die meeste voordeel hieruit te trek. Die markaandeelberekening word gedoen deur verskillende gewigte aan die volgende inligtingsbronne toe te ken:
- Nuwesaadverkope
- Lewerings per kultivar by verskillende silo’s en verwerkers
- Vraelyste aan produsente oor kultivars aangeplant
Wat is wie se verantwoordelikheid?
Dit is belangrik om kennis te neem dat dié statutêre heffing ’n verpligte heffing is en ’n beroep word op die sojaboonbedryf gedoen vir almal se samewerking.
Produsente se verantwoordelikheid: Dit is belangrik dat produsente hul kultivars tydens lewering so akkuraat as moontlik rapporteer. Die saadmaatskappy aan wie die kultivar behoort moet ten minste gerapporteer word.
Leweringsinstansies se verantwoordelikheid: Maatskappye wat sojaboonlewerings ontvang, moet so goed moontlik boekhou van die hoeveelhede van die verskillende kultivars wat ontvang is.
Saadmaatskappye se verantwoordelikheid: Maatskappye moet nuwesaadverkope so akkuraat as moontlik aan SANSOR en SACTA weergee.
Wat is die voordeel vir produsente wat tot dusver gemeet kan word?
Produsente kry toegang tot die nuutste kultivars en tegnologie om sodoende met ander lande te kan kompeteer. Hierdie tegnologie sou nie na Suid-Afrika toe kon kom as die bedryf nie hierdie tipe befondsingstrukture tot stand gebring het nie.
In kort is die voordeel vir produsente:
- Toegang tot die nuutste kultivars
- Toegang tot die nuutste tegnologie
- Nuwe toetreders tot die sojaboonsaadmark
- Groter mededinging in die mark
- ’n Uitvoermark vir surplusproduksie
- Verlaagde stikstofinsette as gevolg van kultivars wat met mielies in gewasrotasiestelsels gebruik kan word asook verhoogde mielieopbrengste
In die ses jaar wat die teling-en-tegnologieheffing op sojabone reeds betaal word, is die volgende voordele gemeet:
- Meer as 60 nuwe sojaboonkultivars is gekommersialiseer.
- Daar is twaalf saadmaatskappye betrokke in die sojaboonsaadmark.
- Nuwe tegnologie is in die mark beskikbaar: Intacta RR2 en Conkesta E3 is binnekort beskikbaar.
- Die HB4-droogtegeen is in die pyplyn vir plaaslike registrasie.
Ontwikkeling van prestasiekriteria
By Graan SA se Kongres het Graan SA-lede opdrag gegee dat ’n stel prestasiekriteria ontwikkel word om die sukses van die heffing oor tyd te meet. Die volgende is gedagtes vir ’n kontrolelys wat met die saadbedryf getoets sal word om sukses te kan meet.
Vanuit ’n produsente-oogpunt kan sommige van die volgende in die kriteria ingebring word om die sukses van die teling-en-tegnologieheffing te meet:
- Nuwe variëteite wat kommersieel in die mark kom
- Nuwe tegnologieë wat die mark betree wat waarde vir die produsent skep
- Opbrengs/effektiwiteit gemeet en gemonitor oor tyd
- Saadprysneigings oor tyd
- Saadbeskikbaarheid versus terughousaad
Uit ’n saadmaatskappy-oogpunt:
- Hoe om onwettige saadhandel te hanteer
- Die balans tussen nuwesaadpryse en die koste en risiko vir ’n produsent om saad terug te hou
Potensiële nadele indien ’n teling-en-tegnologieheffing nie bestaan nie
- Verouderde tegnologie
- Verouderde kiemplasma omdat die groter meerderheid van teling in die wêreld gebruik maak van die nuutste tegnologieë
- Agterraak van sojaboonprodusente as dit kom by opbrengsverbetering, wat mededingendheid in gedrang kan bring