13/01/2025
Die wêreldekonomie word toenemend deur intense politieke en ekonomiese konflikte getref, en die skeiding tussen die wêreld se groot ekonomiese moondhede verdiep. Baie makro-ekonome waarsku dat die era van globalisering besig is om te kwyn, wat plek maak vir ’n nuwe era van ’n “duopolie” waar twee dominante blokke die ekonomiese landskap beheer.
Aan die een kant staan die G7-nasies (Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State), wat ten spyte van hul aansienlike invloed nou net 30% van die totale BBP uitmaak. Aan die ander kant is die BRICS-nasies (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika), wat meer as 36% van die globale BBP verteenwoordig, se mag besig om te vergroot. Die ekonomiese invloed van die twee blokke word in Grafiek 1 geïllustreer.
Hierdie geopolitieke verskuiwing het momentum gekry ná president Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse verkiesing van 2024, wat die spanning tussen hierdie twee mededingende blokke vergroot het. Die ekonomiese wonde van hierdie stryd word al hoe duideliker, aangesien beide blokke om invloed en beheer meeding, wat tot onstabiliteit in globale markte lei.
Aangesien hierdie spanning deur verskeie sektore en bedrywe spoel, is dit uitdagend om al die veranderlikes te voorspel wat die makro-ekonomie vanjaar kan vorm. In hierdie artikel poog Graan SA se ekonomiespan om lig te werp op van die sentrale faktore wat die graankommoditeitsmark sal beïnvloed.
BRICS
Dié interregeringsorganisasie is in 2009 geskep deur China, Brasilië, Indië en Rusland, waarna Suid-Afrika in 2010 aangesluit het. Sedertdien het die organisasie uitgebrei om ook Egipte, Ethiopië, Indonesië, Iran en die Verenigde Arabiese Emirate (UAE) in te sluit. Sedert die skepping van die organisasie is baie van hul inisiatiewe as teenstrydig met die van die tradisionele G7-lande gesien. By die BRICS-beraad van 2024 het Rusland selfs voorgestel dat die organisasie sy eie graantermynmark (soos die CME) moet skep. Hoewel die skep van so ’n mark nog jare kan neem, is dit ’n duidelike aanduiding van BRICS se voorneme om van die Amerikaanse dollar weg te beweeg en hul afhanklikheid van Westerse markte te verminder.
Hierdie tweespalt tussen wêreldmagte het ook ’n beduidende impak op internasionale graanmarkte. Een van die grootste gevolge is die geskil tussen China en die Verenigde State. So ver terug soos 2019 het handelstariewe tussen dié twee lande reeds daartoe gelei dat die VSA ’n groot uitvoeraandeel na China aan Brasilië verloor het. Dit lei tot bekommernis oor wêreldhandelspatrone tussen die twee groot ekonomiese blokke. Tabel 1 rangskik die BRICS-lande volgens rang in die toptienhandelslande vir sekere graankommoditeite ter wêreld. Vanuit die tabel is die invloed van die BRICS-lande op internasionale graanmarkte duidelik sigbaar.
Indië
In 2022 het Indië amptelik vir China verbygesteek as die wêreld se grootste bevolking. In 2024 het daar 1,44 miljard mense in Indië gewoon. Hoewel die groei van Indië se bevolking nie ’n onmiddellike bedreiging vir die stabiliteit van die wêreldekonomie inhou nie, kan dit daartoe lei dat die land groter volumes graan invoer, veral koring. Die mark het reeds tekens hiervan gesien met Indië wat onlangs planne aangekondig het om plaaslike opberging drievoudig te vergroot, asook die verskuiwing van beleid om meer ingevoerde graan te verwelkom sodat daar aan plaaslike eise voldoen kan word.
Die Verenigde State
Die herverkiesing van president Trump het opnuut kommer geskep vir Amerikaanse uitvoerders. Daar word verwag dat die Trump-administrasie in die eerste 100 dae tariewe van tussen 5% en 10% kan instel op ingevoerde goedere – en tariewe van tot en met 60% op goedere vanuit China. Vergeldende tariewe vanaf China is onvermydelik en die impak daarvan, veral vir Amerika, is ernstig.
Om verder die invloed hiervan op die internasionale graanmarkte te beklemtoon, is dit belangrik om in ag te neem dat China (die wêreld se grootste invoerder) alreeds ’n groot hoeveelheid van hul invoere geskuif het vanaf die VSA na Suid-Amerika. Die verskuiwing was so groot dat Brasilië in 2022 vir Amerika verbygesteek het as die grootste mielieuitvoerder ter wêreld. Verskuiwings in internasionale verhandeling bied natuurlik plaaslik geleenthede: Suid-Afrika is strategies geleë met ’n korter verskepingsroete na China.
Klimaatchaos
Klimaatveranderlikheid voeg nog ’n laag kompleksiteit by tot die globale graanmark, met groot graanproduserende lande wat deur uiterste weerpatrone geraak word. Gedurende 2024 het Europa ’n oormaat reën ervaar, terwyl die Swart See-streek droogtetoestande beleef het. Die onvoorspelbare klimaatdinamiek lei tot verdere onsekerheid wanneer dit kom by die voorspelling van die globale vraag en aanbod van graan.
Winsgewendheid
Alhoewel Suid-Afrikaanse graanprodusente gewoond is aan hoë insetkoste en lae staatsubsidies, bly hulle steeds internasionaal mededingend as dit kom by produksie. Groter produksielande begin egter meer en meer sukkel met winsgewendheid.
Dit het groot opspraak verwek toe die Europese regering aan die begin van 2024 subsidies aan Europese produsente wou sny om die lande te belyn met mikpunte vir ’n “groener” Europa. Produsente was ook ongelukkig oor goedkoper koringinvoere vanuit die Oekraïne wat plaaslike mededingendheid erg negatief beïnvloed het.
Russiese koringprodusente het vroeg in Januarie verklaar dat hul winsgewendheid tussen 2020 en 2024 merkbaar geval het vanaf 32,5% na niewinsgewend. Hierdie afname in winsgewendheid is ook meegebring deur regulasies wat deur die Russiese regering verander is.
Met die wêreldekonomie wat toenemend onder druk verkeer, is daar verskeie lande wat geld wil losmaak deur landbouregulasies en -koste aan te pas. Dit kan die internasionale speelveld vir graanmarkte aansienlik verander.
Samevatting
In 2025 staan die wêreldekonomie op die rand van beduidende transformasie: oorloë sleep voort, geopolitieke spanning neem toe en verskepingsroetes en regulasies verander, om net ’n paar faktore te noem. Suid-Afrika staan midde-in hierdie veranderinge. Alhoewel ons potensieel ’n mededingende voordeel het en baat kan vind by nuwe markgeleenthede, sal ons nie onaangeraak bly deur die volgehoue druk op winsgewendheid en onvoorspelbare klimaatstoestande nie. Die impak van hierdie nuwe wêreldekonomie sal met ’n verskerpte fokus op innovasie, aanpassing en volhoubaarheid benader moet word.
Dit is egter duidelik dat die wêreld se ekonomiese wonde in 2025 nie net uitdagings sal bied nie, maar ook geleenthede.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.