14/11/2024
In die wêreldekonomie word die rakprys van huishoudelike goedere soos sonneblomolie, brood en mieliemeel beïnvloed deur ’n komplekse web van faktore – wisselkoerse, produksiekoste, vervoer, arbeid, energiekoste en markaanvraag. As die primêre bron van sleutelbestanddele vir hierdie produkte, soos koring vir brood en sonneblomsaad vir olie, word die fluktuasies in produkpryse gereeld aan graanprodusente toegeskryf.
Hierdie artikel delf dieper in die invloed wat graanprodusente op die koste van huishoudelike noodsaaklikhede het en ondersoek die bydrae van die res van die waardeketting.
Witbrood
Brood is ’n stapelvoedsel vir talle Suid-Afrikaners. As primêre bestanddeel is koring van kardinale belang om die langlewendheid van plaaslik geproduseerde produkte in Suid-Afrika te verseker. Daar is verskeie faktore wat bydra tot die uiteindelike prys wat ’n verbruiker vir ’n witbrood op die rakke betaal. Die vraag is egter wat die graanprodusent se aandeel is in die prys van daardie produk op die rak.
Om hierdie vraag te beantwoord word die volgende norme aanvaar: om ’n 700 g-witbrood te bak is ’n gemiddeld van 480 g meel nodig. Vir ’n meule om 480 g meel te produseer, word daar ongeveer 588 g se koring benodig. Daar kan dus 1 700 witbrode met 1 ton koring gebak word.
Gedurende die 2023/2024-bemarkingsjaar was die gemiddelde produsenteprys vir ’n ton koring R5 587 en die gemiddelde prys vir ’n 700 g-brood was R17,92, wat die bydrae van die produsent tot die finale prys 18% maak. Om dit anders te stel, gedurende dié seisoen het ’n produsent se koringprys slegs vier snye van die totale 24 snye in ’n witbrood opgemaak.
Wanneer langtermyntendense vergelyk word, is dit opmerklik vanuit Grafiek 1 dat broodpryse sedert 2009/2010 skerper toegeneem het (154%) as die produsenteprys vir koring (140%). Die koringprodusenteprys word bereken deur die gemiddelde jaarlikse Safex-prys vir elke bemarkingsjaar te neem en die relevante koste, soos die liggingsdifferensiaal asook hanterings- en bergingskoste, af te trek. Gedurende die 16-jaarperiode wat vergelyk word, het die produsenteprys ses keer afwaartse tendense getoon, terwyl ’n oorwegend stygende neiging waargeneem word wanneer die gemiddelde jaarlikse broodprys in ag geneem word. Dit beklemtoon dat produsente nie deel gehad het in of selfs bygedra het tot hierdie hoër kleinhandelpryse nie. Oor die algemeen was roukoringprysbewegings nie die belangrikste bydraende faktor tot die styging in die broodprys nie. Wat kommer wek, is die tendens wat pryse getoon het sedert die 2021/2022-seisoen. Koringpryse het skerp afwaarts beweeg, terwyl broodpryse aanhoudend toegeneem het. Hierdie tendens het volgehou tot en met hierdie bemarkingsjaar, waar die gemiddelde koringprys tot so ’n mate gedaal het dat broodprystoenames se langtermyntendens koringpryse verbygesteek het – wat die punt staaf dat koringprodusentepryse slegs 18% bydra tot die totale broodprys.
Mieliepap
Die samewerking van verskeie rolspelers is nodig om uiteindelik ’n sak mieliepap te vervaardig: insetverskaffers, graanprodusente, opbergers, verwerkers en kleinhandelaars. By elke stop in hierdie waardeketting vind daar waardetoevoeging tot die produk plaas, wat dan lei tot die finale rakprys wat ’n verbruiker betaal.
As die aanname gemaak word dat een ton mielies gelykstaande is aan 1,8 ton meel, is die produsent se aandeel in die finale prys van ’n 5 kg-sak mieliemeel ongeveer 51%. As ’n sak mieliemeel (5 kg) R67,46 kos, is die bydrae van die witmielieprodusenteprys ongeveer R34,40.
Tabel 1 vergelyk die langtermynprystendens van witmielieprodusentepryse met die van ’n 5 kg-sak mieliemeel. In die 2017/2018-seisoen het die produsenteprys van witmielies met 53% afgeneem, terwyl die prys van mieliemeel met slegs 21% gedaal het. Oor ’n sewejaarperiode, tussen 2016/2017 en 2023/2024, het die produsenteprys met 10% toegeneem, terwyl die prys van mieliemeel met 29% gestyg het. Dit is belangrik om in ag te neem dat produksiekoste, soos elektrisiteit en vervoer, gedurende dié tydperk vir die hele waardeketting toegeneem het.
Sonneblomolie
In die meeste Suid-Afrikaners se koskas is daar ’n 750 ml-bottel sonneblomolie. Daar is verskeie oliesade wat vir huishoudelike verbruik geskik is, en dus is daar ’n paar substituutprodukte vir sonneblomolie. Dit lei daartoe dat die rakprys van sonneblomolie uiters kompeterend is.
As aangeneem word dat ’n ton sonneblomsaad ’n olie-inhoud van ongeveer 40% het, is die produsenteprys vir sonneblomsaad se aandeel in die koste van ’n 750 ml-bottel olie omtrent 52%. Dit beteken vir die bottel sonneblomolie (750 ml) dra die produsenteprys R18,15 by, en die res van die waardeketting dra ongeveer R16,75 by. Oor ’n tienjaargemiddeld dra die produsenteprys vir sonneblomsaad 53% by tot die finale rakprys van die produk.
Samevatting
Dit is noodsaaklik om bewus te wees dat die prysstyging van sekere noodsaaklike huishoudelike produkte nie noodwendig gekoppel is aan ’n verhoging in die kommoditeitprys nie, maar eerder toegeskryf kan word aan koste verder af in die waardeketting. Dit is opmerklik dat die produksiekoste van die res van die waardeketting skerper toegeneem het oor die afgelope paar seisoene as die pryse van kommoditeite soos in hierdie artikel bespreek.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.