DEKGEWASSE: Invloed van grondtemperatuur op grondgesondheid

Dawie du Plessis en Carlo Pelster, Agricol
Gepubliseer: 11 November 2024

254

Dekgewasse word deesdae onvoorwaardelik saam met woorde soos grondopbou, grondgesondheid, volhoubare landbou asook grondherlewing of bewaringslandbou genoem. Dekgewasse vorm dus die kern van enige van hierdie ideologiese benaderings.

Die afgelope seisoen is die grondtemperature in ’n pekanneutboord gemonitor gedurende die warmste maande van die somer (November, Desember en Januarie) deur middel van elektroniese vogmeters (probes) wat op verskillende plekke in die boord met ’n dekgewasaanplanting geplaas is. Die tempera­tuurverskille is ook geneem op grond waar daar geen dekgewasse geplant is nie, met ander woorde oop grond. Die doel van die proef was om te kyk wat die temperatuurverskille in die grond was tydens die 2023/2024-seisoen. Die temperature is gemeet op die elektro­niese vogmeter se eerste sensor: 10 cm onder die grond.

Grafiek 1 toon die verskil in die grondtemperatuur oor ’n 24-uurperiode (10 cm onder die grond) van die boord aan met ’n dekgewasaanplanting teenoor die gedeelte met geen plantbedekking (oop grond) nie op ’n gemiddelde somerdag gedurende die 2023/2024-seisoen. Hier kan waargeneem word dat die maksimum temperature by die dekgewasaanplanting ongeveer 21 °C was teenoor die oopgrondgedeelte waarvan die maksimum temperature so hoog as 28 °C was. Dus was die oop grond ongeveer 7 °C warmer op die warmste tye van die dag as die boord met die dekgewasbedekking. Dit is geweldige groot verskille wanneer in ag neem word dat die temperature op ’n diepte van 10 cm onder die grondoppervlak geneem is, waar dit reeds koeler is as op die oppervlak. Die gemiddelde grondtemperature oor ’n 24 uur-periode vir die dekgewasaanplanting was ongeveer 20,6 °C, terwyl dit vir die oopgrondgedeelte 23,8 °C was.

Grafiek 1: Verskille in grondtemperatuur op ’n gemiddelde somerdag (10 cm onder die grond).

Dit is reeds bekend dat temperature op ’n onbedekte grond­oppervlak in die somer so hoog as 75 °C en hoër kan word. Hoë grondtemperature is nadelig vir enige grondlewe, maar lei ook tot ernstige vogverliese. Die persepsie onder sekere pekanneutprodu­sente is dat boorde met dekgewasse meer interplantkompetisie skep vir die bome en dat vogbewaring moeilik kan plaasvind. Die teen­deel is egter waar – vogverlies deur plante se blare (transpirasie) sal waarskynlik minder wees as vogverlies deur evaporasie (verdam­ping van vog uit die grond). Dus kan vogbewaring makliker ge­skied onder dekgewasaanplantings. In die boord was vogbewaring op die dekgewasbedekte gedeeltes aansienlik beter deur die loop van die seisoen in vergelyking met die oopgrondgedeelte. Daar het die elektroniese vogmeters uitgewys dat die pekanneutbome op die oop grond op sekere tye nie genoeg water gehad het vir optimale produksie nie.

Die pekanneutboord en die plasing van die elektroniese vogmeters (probes) in die land.

Wanneer die grondoppervlaktemperatuur 21 °C bereik, is ongeveer 100% van die grondvog in die primêre wortelsone vir plante beskikbaar. Sodra gronde warmer word en die temperatuur styg, vind meer verdamping uit die grond plaas en minder vog is vir die plant beskikbaar. Wanneer die grondtemperatuur byvoorbeeld tot 37 °C styg, verdamp daar daagliks 85% vog uit die bogrond en is slegs 15% grondvog in daardie sone vir die plant beskikbaar.

Gedurende die nag vind daar kapillêre beweging van grondvog na die bogrond plaas, net om weer die volgende dag te verdamp. Sodoende raak gronde baie vinnig droog na ’n paar warm dae sonder reën. Hierdie verliese van vog vererger die verhoging van die oppervlaktemperatuur selfs verder. By ’n grondtemperatuur van 46 °C kan sekere grondmikrobes in die bogrond nie meer oorleef nie en by 60 °C is bykans alle grondlewe dood. Dit beklemtoon die belangrikheid van dekgewasse verder.

Die pekanneutboord op Agricol se navorsingstasie waar navorsing oor dekgewasse vir pekanneutboorde gedoen word.

Plante en mikrobes leef in harmonie of sinergisme en het mekaar nodig vir uitruilings­prosesse wat in die grond voorkom. Die na­tuur probeer om die mikrobes in onbedekte gronde te beskerm deur middel van natuurlike dekgewasse wat ons onkruide noem: bloudissel, oliebome, dubbeltjies en dies meer. Hierdie gewasse is goed aangepas om die bogrond baie vinnig te bedek ten einde die hoë temperature en gepaardgaande verdamping uit die grond te verlaag. Hulle is egter onsmaaklik, ruik sleg en is soms vol dorings, wat daartoe lei dat dit nie as goeie weiding dien nie. Produsente spandeer baie tyd en geld om hierdie gewasse meganies of chemies uit te roei, maar met die implementering van ’n doeltreffende dekgewas kan die probleem opgelos word en kan baie ander voordele terselfdertyd verkry word.

Herstel gronde met dekgewasse
Elke tipe plant in die natuur lok verskillende mikrobes om vir hom tot voordeel te wees deur wortelafskeidings van verskillende tipes sui­kers wat in die blare geproduseer word. Drie hoofgroepe plante is belangrik in grondgesondheid, naamlik grasagtige plante, peulgewasse en knolgewasse. ’n Peulgewas lok byvoorbeeld mikrobes soos Rhizobium om te help met die stikstofbindingsproses.

Deur hierdie plantgroepe en ook subgroepe te kombineer, word daar dus gelyk­tydig ’n groot verskeidenheid mikrobes gelok en in die grond vermeerder. Die doel is om so vinnig as moontlik en soveel as moontlik verskillende mikrobes in die grond te kry, sodat daar weer ’n balans in die grondmikrobe-lewe sal wees. Die balans sorg dat daar nie te veel skadelike mikrobes vir die plant is nie, terwyl die plante maksimum voordeel uit die samewerking en uitruiling van die mikrobes kan geniet.

Die primêre voedsel van mikrobes is koolstof en hulle ruil voedingstowwe uit om dit vanaf plante in die hande te kry. Die suikers wat ’n plant deur sy wortels uitskei, bestaan uit ’n groot deel koolstof wat gratis uit die lug opgeneem word en deur fotosintese bind tot C6H12O6. Grondmikrobes ruil dan fosfaat, kalium, magnesium en ander voeding­stowwe uit om die koolstof te benut – hierdie proses is deel van die koolstofkringloop (liquid carbon pathway).

Mikrobes kry ook koolstof vanaf enige deel van ’n plant wat deur die loop van die groei­tydperk afsterf, veral vanaf dooie wortels. Daar bestaan ’n verhouding tussen bogrondse groei en die hoeveelheid wortels onder die grond. Sodra gewasse byvoorbeeld bewei word, ver­klein die blaarfabriek bo die grond en begin die ondergrondse wortels afsterf tot dit weer in die regte verhouding is. Nadat die diere uit ’n land verwyder is, begin die blaarvolume weer toeneem en nuwe wortels begin groei. Hierdie is ’n natuurlike proses wat daagliks plaasvind. Die dooie wortels wat afsterf bestaan uit koolstof en dien ook as voedsel vir die grond­mikrobes.

Dit is belangrik om op ’n permanente basis aktief-groeiende plante op die grond of in ’n land te hê, aangesien dit keer dat grondmikrobes afsterf en grondgesondheid verswak. Dekgewasse kan meerjarig of eenjarig aangewend word na gelang van behoefte of die tipe hoofgewas. Eenjarige dekgewasse bestaan uit somer- en wintermengsels. Produsente kan seker maak dat hulle goed geformuleerde dekgewasmengsels kies met die beste opbrengspotensiaal en gehalte vir die beste resultate.

Agricol se beweibare Agrilife Grazer-dekgewasmengsels bestaan uit die volgende:

  • Agrilife Grazer 12 is ’n somermengsel wat bestaan uit ’n basis van verskillende voer­sorghums, babala, akkerbone en ook sekere peulgewasse. Die mengsel kan vanaf Oktober tot Februarie geplant word.
  • Agrilife Grazer 2 is ’n wintermengsel wat bestaan uit verskillende groeilengtes ha­wer, stoelrog, radyse en ook wieke. Planttyd is vanaf Februarie tot einde Mei.
  • Agrilife Grazer 14 is ’n gevorderde multispe­siegrondopboumengsel met 14 verskillende gewasse wat somer- en wintergewasse insluit. Die beste planttyd vir Agrilife 14 is Januarie en dit kan weiding of bedekking verskaf tot einde Oktober. Hierdie mengsel is ideaal om by oorlêlande te gebruik.

Kontak jou naaste Agricol-areabestuurder vir meer besonderhede en ’n dekgewasaanbeveling in jou area.