Formidabele boervrou wat haar man kan staan

Gepubliseer: 4 Junie 2024

264

Mei se held: Celeste van der Merwe

Celeste van der Merwe boer naby Reitz in die Oos-Vrystaat. Sy is deur Tiani Claassen, wat saam met haar man, Neil (Graan SA-raadslid), ook by Reitz boer, genomineer as Mei-maand se held in landbou.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Mei is Celeste van der Merwe.
Tiani Claassen het vir Celeste genomineer as held in die My Hero-reeks.

Tiani vertel: “Celeste het na haar man se afsterwe in 2020 net aangegaan met die boerdery en al die aktiwiteite asof sy dit nog al die jare gedoen het. Sy leef naby aan haar Skepper en haar werkerskorps is vir haar be­langrik. Haar sukses met die boerdery skryf sy toe aan ’n goeie span wat haar ondersteun en haar hande sterk maak. Sy probeer altyd die positiewe in elke situasie sien – selfs in die minder lekker dinge is daar altyd ’n les te leer. Sy is ook ’n omgeemens met ’n hart van goud. Celeste se positiewe en lewenslustige uitkyk op die lewe is vir my bewonderens­waardig. Sy is ’n formidabele boervrou wat haar man kan staan in ’n man’s world en ek het baie respek vir die mens wie sy is. Sy is ’n ystervrou.”

Celeste boer tans met beeste en skape en sy produseer mielies en sojabone. Sy vertel dat sy voor haar man se dood die boeke en betalings behartig het. “Dit is maklik om die syfers in ’n program in te voer of ’n betaling te maak, maar dit is ’n ander storie om be­sluite te neem wat groot bedrae insluit,” vertel sy.

Die gedeelte van die boerdery wat sy die meeste geniet, is die beplanning en dan die vreugde wanneer die saailinge deur die grond breek. “Boerdery is geloof – dit is nie in jou hande nie en wanneer jy sukses behaal, besef jy dit is geloof wat in werking gekom het.”

Sy vertel dat sy twee weke voor haar man se dood saam met hom en ’n makelaar boedelbeplanning gedoen het. Daar het sy vir haar man gesê hy moet asseblief nie voor haar sterf nie, omdat sy nie sal weet hoe om al die groot besluite te neem nie. Hy het vir haar gesê dat as iemand dit kan regkry, is dit sy. “Ek hou vas aan sy woorde en ek is dankbaar vir die span wat saam met my werk om seker te maak dat die boerdery voortgaan. Ek kan dit nie alleen doen nie en dit is die genade van die Here wat my deurdra. Ek sien myself nêrens anders as hier op die plaas nie,” vertel sy.