’n Mentor wat ander inspireer

Gepubliseer: 6 Februarie 2024

198

Desember/Januarie se held: Daniël Pieters

Agri Dwala (Edms) Bpk in die Napier-omgewing word besit en bedryf deur plaaswerkers wat boere geword het. Kosie van Zyl en Piet Blom het die Agri Dwala-program begin om as ’n baken van hoop te dien, met die doel om die gemeenskap te verryk. Hulle het plaaslike inwoners wat in boerdery belangstel, bemagtig en gehelp met grond- en vaardigheidsontwikkeling.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Desember/Januarie is Daniël Pieters.

Daniël Pieters (38) is een van hierdie suksesstories. Hy is nou die trotse mede-eienaar van Jafter Krantz, ’n 580 ha-plaas waar hy en sy vennoot, Marius Engel, koring, kanola, gars en hawer verbou. Hulle het ook ’n veevertakking met beeste en skape. Hy skryf sy sukses toe aan sy passie, harde werk, toewyding en die feit dat hy tyd fyn bestuur.

As klein seuntjie het Daniël, wat in Elim in die Wes-Kaap grootgeword het, al gedroom daarvan om eendag te boer. Sy pa se tuin was sy bron van inspirasie omdat die groeiproses van plante hom gefassineer het. Een van sy onderwysers op skool was Kosie se vrou en só het die eerste deur vir hom na ’n loopbaan in landbou oopgegaan.

Riedewaan Marcus het Daniël genomi­-neer as held in die My Hero-reeks.

Hy het as ’n plaaswerker op Kosie se plaas begin werk totdat sy droom danksy die Agri Dwala-SEB-boerderyprojek in 2010 ’n werklikheid geword het. Kosie is steeds sy mentor, maar nou het Daniël in sý voetspore gevolg en tree hy sedert 2014 as mentor op vir jong manne wat in boerdery belangstel. Een van hulle is Riedewaan Marcus (30) wat Daniël as sy landbouheld genomineer het.

“Daniël is ’n wonderlike mentor wat my alles oor boerdery leer. Omdat hy ingestel is daarop om die regte ding te doen, weet ek wat ek leer gaan my ook suksesvol maak. Hy motiveer my en help my om na beter te streef – ek kyk regtig op na hom,” gesels Riedewaan oor sy landbouheld.

Hierdie mentor is so ernstig oor die toepassing van korrekte landboupraktyke dat hy vinnig aandag skenk aan foute. “As ek iets verkeerds doen, raas Daniël, maar ek aanvaar die goed en die sleg van die mentorskap omdat ek weet hy is die een met ondervinding en dat hy my net wil help om te verbeter,” sê Riedewaan, wat ’n gemengde boerdery bedryf en kanola, gars en kool verbou op 311 ha munisipale grond wat hy huur.

Vir Daniël vorm administrasie en tydsbestuur die twee hoofpilare van ’n suksesvolle boerdery. “Jou papiere moet reg wees,” sê Daniël. “Daar is baie faktore wat jou boerdery kan belemmer as jou administrasie nie in plek is nie.” Net so probeer Daniël vir die beginnerboere leer dat daar in landbou ’n siklus is wat gevolg moet word en dat alles op die regte tyd moet gebeur.

“Die belangrikste dinge wat ek by hom geleer het, gaan oor hoe om finansies en tyd te bestuur. Vir baie kleiner boere is finansies ’n groot kopseer. Die verkeerde finansiële besluit kan jou ‘toemaak’. Hy het my ook geleer dat sukses in boerdery gekoppel is aan die regte ding op die regte tyd.”

Daniël het Riedewaan so geïnspireer dat hy ook nou terugploeg en as mentor optree vir beginnerboere wat min kennis het. “As iemand jou help, moet jy teruggee. Daniël het my geïnspireer om ook ’n mentor te word en nou kan ek oordra wat hy my geleer het.”