El Niño-verskynsels is moeilik voorspelbaar en ons wag in spanning om te sien hoe die somerseisoen afspeel. Ons wintergraanprodusente het ’n taai seisoen beleef – hulle het houe verduur, maar veg steeds voort. Suid-Afrikaanse produsente dra ’n uiters belangrike verantwoordelikheid en dit is om te sorg dat daar elke dag ’n bekostigbare bord kos op elke suid-afrikaner se tafel is.
Soos al ons verantwoordelikhede, neem ons hierdie een baie ernstig op. Dit is nie ’n maklike taak nie, aangesien produsente worstel met peste, siektes, wisselende insetkoste en droogtes terwyl hulle die graan verbou wat nodig is om die nasie te voed. Benewens hierdie uitdagings moet produsente boonop wisselkoerse, internasionale pryse, slaggate, beleid, regulasies en politici trotseer wanneer hulle klaar geproduseer het.
Dit ondersteun die sentrale tema van 2024 se Kongres, “Wat laat ’n produsent snags wakker lê?”. Om ons oor eksterne elemente te bekommer – veral dit wat buite ons beheer is soos die politieke dinamika in die komende verkiesing – lei tot frustrasie, angs en ’n gevoel van hulpeloosheid. Graan SA-lede het egter twee instrumente om gebruik: Individuele produsente kan hul energie kanaliseer na faktore binne hul beheer, terwyl die kollektiewe, proaktiewe pogings van Graan SA sake buite die plaasgrense kan beïnvloed. Ons ernstige voorneme is dat produsente slegs wakker lê wanneer hulle dink oor die verbetering van produksiepraktyke, die uitbreiding van bedrywighede en die aangryp van markgeleenthede.
Georganiseerde landbou is iets waarin ek nog altyd sterk glo. Produsente wat lid is van verenigings en organisasies bepaal hul eie lot op die hoogste vlak en verhoë in Suid-Afrika en die wêreld. Soos oom Kallie Schoeman ons herinner: As jy nie om die tafel sit nie, is jy op die spyskaart. Heelwat dinge het verander en heelwat dinge het dieselfde gebly sedert ek laas in diens van georganiseerde landbou was. Uitdagings soos internasionale handel, tegnologie en wisselkoerse bly altyd met ons. Die grootste verandering wat vir my uitstaan, is die verskuiwing vanaf skakeling met die regering oor nuwe wetgewing en regulasies en die kommer oor die impak daarvan op die sektor na die uitvoering en implementering van openbare verantwoordelikhede in Suid-Afrika.
Ek kry die gevoel dat kollektiewe organisasies nou eerder gemoeid is met uitvoering as met beleid. Baie produsente sê vir my dat ons iets moet doen aan elektrisiteit, paaie, inspeksies, regulatoriese implementering, data, ensovoorts. In die verlede was dit duidelik dat die staat hierdie dienste sou lewer, maar ek voel daar is ’n gedeelde besef dat ons as kollektief die dienste sal moet organiseer én lewer wat nodig is om ons volhoubaarheid en winsgewendheid te verseker.
Dr Dirk Strydom het teruggekeer van vakansie af geïnspireer deur Rassie Erasmus se boek oor sy ervarings met die afrigting van die Springbokke – veral Rassie se visie en planne om die omgewing waarbinne die Bokke hulself van die veld af bevind het, te bestuur. Hy het die pos van direkteur van rugby geskep om hierdie omgewing en belanghebbendes só te bestuur dat niks die spelers se intense fokus om so goed as moontlik op die veld te presteer, kon versteur nie. Net so is Graan SA deur lede gestig om proaktief die omgewing “buite die speelveld” van produsentespelers te betree en dit te bestuur.
Ons sien daarna uit om julle tydens Kongres te betrek by die vorming en fokus van Graan SA se pogings om ’n omgewing sonder afleidings en onderbrekings te skep waarbinne julle kan doen waarmee julle die beste is – om die mees mededingende graanprodusente ter wêreld te wees.