Sojabone in die nuwe seisoen en die Noordwes-El Niño

Philip Fourie, landboukundige, Pioneer
Gepubliseer: 4 September 2023

521

Die afgelope dekade het die westelike somersaai­gebied ’n gedaanteverwisseling ondergaan met die verbouing van sojabone. Die gewas, wat eens beskou is as een wat nie in die omgewing aanpas nie, het gegroei tot ’n volwaardige winsgewende gewas in die weste.

Van waar ’n klein groepie produsente in 2010 in ’n stoor op Schweizer-Reneke besluit het op sojabone as ’n alternatiewe gewas om mieliemonokultuur te breek, het aanplantings die afgelope dekade soveel uitgebrei dat selfs mieliehektare onder druk gekom het in die Noordwes-provinsie. In die vroeë 2010’e was daar maar ’n geraamde 10 000 tot 15 000 ha in die provinsie aangeplant. Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se derde verslag vir die 2022/2023-seisoen skat egter die aangeplante aantal hektare op 155 000 ha met ’n gemiddelde opbrengs van 2,5 t/ha in Noordwes.

Die grootste faktor wat bygedra het tot die ongekende groot aanplantings van sojabone die afgelope twee of drie seisoene, was sonder twyfel die hoë kunsmispryse. Die hoë kommoditeitsprys vir die gewas was die kersie op die koek. Die afgelope twee seisoene se hoë reënval, gematigde temperature en vroeë aanplantings was ook ’n resep vir goeie opbrengste.

Weervooruitsigte
Volgens Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige, is ’n El Niño-verskynsel besig om vinnig te ontwikkel. Meimaand se reën wat veroorsaak het dat sojabone met rukke en stote klaar gestroop kon word, is presies wat El Niño veroorsaak. As die weermodelle reg voorspel, behoort Noordwes reën te kry gedurende Augustus, September en Oktober. El Niño sal steeds sterker ontwikkel met gepaardgaande negatiewe vooruitsigte vir reën vanaf November. Die pas afgelope seisoen het groot gedeeltes van die provinsie gebuk gegaan onder ’n vyf- tot sesweekdroogte gedurende Desember en Januarie.

As gevolg van die vroeë aanplantings in November, het soja- en mielieblomtyd reg in die middel van die droogte geval. Produsente moet versigtig optimisties wees oor die moontlikheid van reën vir die volgende seisoen en veral in die Noordwes-gebied. Die vooruitsigte vir ’n tipiese sterk midsomerdroogte is groot, in ag genome dat grondvogvlakke aan die begin van die komende seisoen (as die voorspelde reën nie gaan realiseer nie) op plekke laer sal wees as in die 2022/2023-seisoen.

Kan produsente sojabone plant, gemeet aan die weerverwagtings?
In die veld is daar gemengde gevoelens ten opsigte van sojabone vir die nuwe seisoen wat voorlê. ’n Mens kan dit vergelyk met die pas afgelope seisoen waar produsente nie wou sonneblom aanplant nie of hektare verminder het as gevolg van die vorige seisoen se Sclerotinia-probleme. Die uiteinde was ’n Sclerotinia-vrye oes in die silo. Dit is verstaanbaar dat toetreders van die afgelope drie tot vier jaar baie vrae het oor wat die gewas in die droogte gaan doen. Dit is interessant dat die ouer sojaboonprodusent se beplanning steeds sojabone gaan insluit, dalk ’n paar hektaar minder, maar hy weet watter grond en watter land. Die uitdaging vanjaar is om die nuwe toetreders van die afgelope drie jaar positief te laat dink oor die komende seisoen se uitdagings en aanplantings.

Die volgende punte moet in gedagte gehou word as daar beplan word vir ’n warm, droë seisoen wat voorlê:

    • Maak seker oor die waterbehoeftes van die gewas
    • Kultivarkeuse
    • ’n Paar vereistes as dit kom by sojaboonaanplantings:

      • Fosfaattoediening
      • Saadbehandeling en sojaboonentstof

Agronomiese voordele van sojaboon/mielie-wisselbou in Noordwes
Heelwat plaaslike en internasionaal opgetekende en nagevorste data bestaan oor die agronomiese voordele wat sojabone in rotasie met mielies inhou. Dit sluit in die verhoging van grondvrugbaarheid, ’n afname in grondgedraagde siektes en verhoging van daaropvolgende mielieopbrengste.

Tradisioneel verbou die weste se produsente mielies op mielies, of mielies in rotasie met sonneblom. Sojaboonrotasie word wêreldwyd aanvaar as ’n volhoubare manier om grondvoedingstatus te verbeter, veral omdat dit die vermoë besit om atmosferiese stikstof in die grond te bind (Franke et al., 2018; Uzoh et al., 2019; Khojely et al., 2018). Sojaboonreste is ryk aan stikstof en kalium. Dit word gewoonlik aangewend as dierevoeding, maar dit kan tot voordeel van die grond ingewerk word om sodoende die grond organies te bemes (Kermah et al., 2018).

Dit is algemeen bekend dat gewasrotasie met sojabone, wat volg op ’n langtermyngeskiedenis van mielie- en sonneblomrotasie, die siektekringloop van verskeie grondgedraagde siektes versteur en verhinder in daaropvolgende gewasse. Die produsent kan diversifiseer tussen gewasse en sisteme ontwikkel wat weerstand bied teen siektefaktore (FAO, 2019).

Ongelukkig is die agronomiese voordele en volhoubaarheid van so ’n sojaboonwisselboustelsel nie maklik meetbaar nie en moet dit oor die lang termyn en oor seisoene gemeet word. Die maklikste manier vir die produsent om hom te vergewis dat hy op die regte pad is, is die baan waar mielies op mielies en mielies op sojabone verbou word in dieselfde land – sien is glo.

Sojaboonwaterverbruik: kernpunte

  • Die totale seisoenale waterbehoefte wissel tussen 500 mm en 660 mm (Krantz & Specht, 2012).
  • Meer as 60% van die behoefte is deurslaggewend gedurende die R1- tot R6-groeistadium.
  • Die grootste gedeelte van wateropname by sojabone vind plaas binne die boonste 60 tot 90 cm van die grondprofiel.
  • Voldoende water is nodig tydens die mees kritieke stadium van peulvul (R3 tot R6).
  • ’n Sojaboonplant beskerm homself teen waterstremming deur die boonste blare onderstebo te draai. Dit stel die onderkant van die blaar bloot aan sonlig wat hittestraling reflekteer. Dit koel die plant af wat dan fotosintese laat afneem en die behoefte aan water neem dienooreenkomstig af.

Sojaboonworteldiepte en -wateropname
’n Goed ontwikkelde wortelsisteem is noodsaaklik vir groei en ontwikkeling. Ligte tot gematigde vogstremming gedurende die vegetatiewe ontwikkelingstadium het min tot geen effek op opbrengs nie. Voldoende water gedurende die vegetatiewe groei­stadiums lei tot uitermatige vegetatiewe groei met min verhoging in opbrengs.

Volgens die LNR is die wateromsettingsvermoë tussen 4 kg en 7 kg graan per hektaar per millimeter water, afhangende van die genetiese potensiaal van die aangeplante variëteit. As die beskikbare vog dus 500 ml/ha is en met ’n omsetting van 5,5 kg/millimeter water realiseer, behoort die produsent 2,75 t/ha­te realiseer. Gegewe die weervoorspelling van moontlike reënbuie gedurende Augustus tot Oktober 2023, behoort aanplan­tings vroeg en op goeie grondvogprofiele te geskied. Indien aanplantings gaan gebeur vanaf 15 tot 30 November, beteken dit dat die sojabone gedurende middel Januarie sal blom – reg in die middel van die normale midsomerdroogte.

Daar is nie groot verskille tussen mielies en sojabone in waterverbruik oor die seisoen nie. Die groot verskil lê daarin dat sojabone baie vinniger klaarmaak in waterbehoefte as mielies. Mielies het ’n geleidelike afname in waterbehoefte, terwyl sojabone aan die einde van hul lewensiklus skerp daal. As sojabone in die R3- tot R6-stadium van hul lewensiklus is, is dit in die veld sigbaar hoe vinnig en aggressief hul water onttrek.

Kultivarkeuse
Die komende seisoen gaan daar duidelike verskille wees tussen grondtipes, veral as dit kom by die rooi, goedgedreineerde gronde sonder ’n keerlaag (niewatertafelgronde). Hoe droër die seisoen, hoe groter die verskille.

P 71T74R is ’n baster wat hou van droogtes, stywer gronde en hitte. P 64T39R gaan beter doen op die sandgrond-, oorlê- en watertafellande.

Vanjaar was daar ook meer groenstam op sommige basters. Solank daar vog teenwoordig is en die baster is onbepaald, sal die sojaboonplant steeds nuwe groei aanlê. As dit in die najaar sou reën, sal dieselfde simptome geld, maar ons vermoed met minder vog en warmer toestande sal die gewas meer egalig afdroog en stroop vergemaklik. Sommige gewasse is meer vatbaar vir strobulien-swamdoders as ander, met ander woorde, die plant sal meer groenstam hê met dié tipe swamdoders. Gebruik die nuutste sojaboonkultivaraanbevelings vir 2022/2023 om die keuse van ’n stabiele baster te vergemaklik.

Fosfaatbemesting
Daar is verskeie persone wat sal verskil met my op hierdie punt, maar vir my is dit ononderhandelbaar om fosfaat in die voor met plant toe te dien. Fosfaat is die energiebron vir sojabone sowel as mielies. In my ondervinding het ek altyd positiewe ervarings gehad met fosfaat, veral in vogstremmende jare in vergelyking met seisoene met goeie reënval. Dit sal beter wees om fosfaat te bandplaas as om dit te strooi. Bemesting van tussen 10P en 15P word aanbeveel. Maxifos 18 kan toegedien word teen 83 kg/ha vir 15P in gronde met lae fosfaat of 56 kg/ha vir 10P in gronde met goeie fosfaatstatus. Omnia se 4:9:18(35) is ’n duur maar uitstekende mengsel vir sojabone – veral as dit nog in die winter ge-preplant word. Die kalium in die produk is wat die prys opjaag, maar chemiese ontledings toon ’n afname in kalium­inhoud in die ondergrond.

Daar moet nie vergeet word dat die verwydering van kalium deur sojabone ’n direkte invloed op mielie-opbrengste het nie (Tabel 1).

Entstof en saadbehandelde swamdoders
Droër toestande het hoër grondoppervlaktemperature tot gevolg. Indien laat in die seisoen geplant word, is die gronde gewoonlik droër en warmer. Rhizoctonia-saailingverwelk floreer in hierdie toestande, so produsente moet sorg dat die saad behandel word met Apron plus Beans. Weens die koeler, vogtiger toestande die afgelope paar seisoene is saailingverwelk min waargeneem en was Rhizoctonia nie ’n groot probleem nie.

Produsente word afgeraai om Apron plus Beans en die Rhizobium-entstof saam in ’n mengsel aan te maak en dan op die saad te sit. Die etiket waarsku daarteen en van die entstowwe beveel dit ook nie aan nie. Behandel die saad eers met Apron plus Beans en dan word die entstof met plant op die saad en in die voor geplaas. Dis die enkel grootste vereiste as dit kom by sojaboonverbouing – dit help nie om hier geld te probeer spaar nie.

Begrotings
Teen ’n Mei 2024-Safex-prys vir sojabone van R7 808/ton moet die produsent 1,5 t/ha stroop. Die koste sluit duur kunsmis, duur aalwurmmiddel en oesversekering op ’n 1,5 ton-mikpunt in. As die mieliemikpunt 5 t/ha is met ’n Julie 2024-prys van R4 050/ton, is daar min verskil tussen die twee gewasse in winsgewendheid. Let daarop dat ’n deeglike begroting deel van die sukses is vir sojaboonverbouing.

Samevatting
Die totale vogbehoefte tussen mielies en sojabone verskil min. Soos verduidelik lê die groot verskil in die vinnige afplat aan behoefte vir water wat sojabone aan die einde van die groeiseisoen het in vergelyking met mielies. Met huidige inset- en kommoditeitspryse is daar min verskil tussen mielies en sojabone se winsgewendheid. Sonneblom teen ’n opbrengs van 1,7 t/ha maak tans meer wins.

Agronomiese voordele van sojabone in wisselbou met mielies is die rede hoekom daar nie minder sojabone aangeplant moet word nie. Dit is ’n langtermynbelegging met hoë winste in grondvrugbaarheid en mielieopbrengste.

Vir meer inligting, kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com of www.pioneer.com/za.

Bronne

  1. Senwes Safex
  2. Graan SA-gewasbegrotings
  3. Kranz, WL & Specht, JE. 2012. Irrigating Soybean. NebGuide G1367. University of Nebraska-Lincoln Extension.