Boerdery dra by tot persoonlike groei

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 31 Augustus 2023

337

Augustus se held: Thys Benson

Thys Benson het in sy pa se voetspore gevolg en ’n loopbaan in landbou gekies. Oupa Thys hoop om sy kleinkinders te inspireer om ook eendag te boer.

Yolandie Geldenhuys het haar pa, Thys Benson, genomineer as held in die My Hero-reeks.

“My pa was nog altyd iemand na wie ek en my sussie kon opkyk. Hy is ’n voorbeeld van iemand wat elke dag 100% gegee het. Vir hom het sukses deur harde werk gekom. Dit het nie saak gemaak watter kaarte die lewe vir hom uitgedeel het nie, hy het op sy knieë gebly en die lewe vierkantig in die oë gekyk. Of hy nou platgeslaan was deur droogtes of onvoorsiene omstandighede, hy het net weer opgestaan en harder gewerk as voorheen om sukses te behaal.” Dit is die woorde van Yolandie Geldenhuys van Strand in die Wes-Kaap.

Yolandie het haar pa, Thys Benson (60) van Ladismith in die Klein Karoo, benoem as haar held. Thys was vir 35 jaar ’n melkprodusent in die Riversdal-distrik en het besluit om ’n ander rigting in te slaan toe hy “aftree-ouderdom” bereik. As boerdery deur jou are vloei, beteken ’n nuwe hoofstuk egter net ’n ander vertakking in landbou. Thys het die Hessequa-streek verruil vir ’n plaas net buite Ladismith waar hy nou voltyds met Charolais-vleisbeeste boer.

Sy beskryf haar pa as iemand wat sy Christenskap uitleef en hardwerkend en opreg is. As sy aan haar kinderjare dink, kan sy onthou dat harde werk nooit vir haar pa moeite was nie, dat vroeg opstaan en laat aand werk vir hom protokol was. Hy het tot op die einde van sy melkboerdery voluit aangegaan en sy heel beste gegee.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Augustus is Thys Benson. Hier is hy saam met sy kleindogter, Jo-Ané Geldenhuys, wat vanjaar aan die SA Jeugskou-kampioenskappe deelneem.

Thys het vir 23 jaar daagliks tussen 6 000 en 8 000 liter melk aan Ladismith Kaas gelewer. Hy deel dat daar deur die jare baie uitdagings was en dat melkproduksie ’n veeleisende bedryf geword het waar dit moeiliker raak om winsgewend te bly. “Waar jy vroeër jare 50 koeie kon melk om ’n goeie bestaan te maak, het dit op ’n ekonomiese skaal so moeilik geraak met verhoogde voer- en dieselpryse, dat jy nou 500 koeie moet melk om dieselfde lewenstyl te handhaaf. Melkpryse het ongelukkig nie tred gehou met die prysstygings in veral voer en diesel nie.”

Vir Thys was hierdie uitdagings deel van ’n persoonlike groei­proses. “Die uitdagings wat droogtes en lae melkpryse insluit, het my geleer om harder te werk en nooit op te gee nie al raak dit hoe moeilik.” Daar was egter ook hoogtepunte soos die prestasies van jong verse wat gekalf het en goeie terugvoer van tevrede kopers. “Dit was altyd ’n riem onder die hart as ’n koper skakel en vir my vertel hoe tevrede hy met die jong verse is wat hy aangekoop het.” Hy moedig jong produsente aan om hard te werk en nooit moed op te gee as dinge moeilik raak nie. “Bly positief en vertrou altyd op die Here.”

Thys se twee dogters, Yolandie en Michelle, is albei in die onderwys. Hulle probeer egter om as gesin soveel as moontlik deel van die boerdery te wees. “Ons kinders is bevoorreg om met oupa en ouma se beeste aan jeugskoue deel te neem.” Kleindogter, Jo-Ané (10), neem vanjaar aan die SA Jeugskou-kampioenskappe deel – sy glo vas dat sy die een gaan wees wat eendag in oupa se voetspore sal volg.