Willem inspireer sy gesin om ook te wil boer

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 28 Julie 2023

642

Julie se held: Willem van Zyl

Karen van Zyl van die Noord-Kaap se held is haar hardwer­kende man, Willem (58), ’n bona fide-boer op die plaas Nooitgedacht in die Orania-distrik. “Willem se hart klop warm vir landbou. Hy het ’n sterk geloof wat hom deur al die ‘op en af’-kurwes van boer­dery dra.” Hy het ook ’n oop hand en help graag waar hy kan omdat hy glo dat daar vir elkeen ’n plekkie in die son is. “Hy bou sy lewe op hierdie vier pilare – geloof, eerlikheid, lojaliteit en getrouheid – en is werklik ’n voorbeeld vir almal met wie sy pad kruis.”

Karen van Zyl het haar man, Willem, genomineer as held in die My Hero-reeks.

Willem het op ’n plaas grootgeword en het aanvanklik eers in Pretoria vir Yskor, die Suid-Afrikaanse Yster- en Staal- Industriële Korporasie Bpk. gewerk. Daarna het hy ’n draai by Eskom se Tutuka-kragstasie in Standerton gemaak. As boerdery egter in jou bloed is, gaan die plaas bly roep tot jy antwoord. In 1994 het Willem “geantwoord” en op Bethal in Mpumalanga begin boer. Hier het hy ’n gemengde boerdery bedryf en mie­lies, sorghum, sojabone en sonneblom op droëland geproduseer. Skape en beeste het die veekomponent uitgemaak.

In 2002 het die Van Zyl-gesin besluit om die Hoëveld vir die Karoo te verruil. Dié skuif van Mpumalanga na die Noord-Kaap het talle uitdagings gebied – die grootste daarvan was om geskikte (en beskikbare) grond te kry om te kan koop. Die ander was om van droëland na besproeiing oor te skakel.

Karen vertel dat Willem baie hard moes werk om die boerdery op die been te bring. Hy het begin om lusern te plant. Daarna het hy oorgeskakel na mielieproduksie onder besproeiing as somergewas en die verbouing van koring as wintergewas. “Dit het lang ure en baie sweet gekos om die finansies aanvanklik te laat klop, maar met harde werk en groot genade gaan dit nou goed,” vertel sy. Geleidelik is die koringproduksie afgeskaal en is daar oorbeweeg na ’n beesboerdery in die plek daarvan.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Julie is Willem van Zyl van die Orania-distrik.

Sy het Willem genomineer omdat hy só passievol en entoesiasties is oor boerdery dat albei hulle kinders in die landbou is. “Ons dogter boer saam met haar man in Namibië en ons seun het by Willem ingeskakel op Nooitgedacht.” Omdat Willem boerdery “eet, drink, slaap en leef” het dit ook vir Karen meer as net ’n belangstelling geword. Nou is sy nie meer net ’n “boer se vrou” nie, maar ’n boervrou ook wat met haar eie vee woeker.

Willem besef die waarde van georganiseerde landbou – hy is nie net lid van Graan SA nie, maar ook van die Havengabrug-boe-revereniging wat onder Agri Noord-Kaap ressorteer.