Saadplotproewe van volledige produkreeks lok vele besoekers

Jurgen van Onselen, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 Julie 2023

510

Besoekers kon weer uitsien om Agricol se volledige produkreeks by die pas afgelope NAMPO 2023 van nader te beskou. Wat dit so spesiaal gemaak het, is dat daar 95 saadplotte was met kultivars van 42 verskillende gewasse en 15 weidingmengsels.

Louis Kleynhans, ’n produsent van Heilbron, het na afloop van NAMPO die volgende op sosiale media geskryf: “Ek kan getuig dat Agricol se uitstalling die nommereenuitstalling vir my was! Welgedaan vir maande se harde werk en voorbereiding.”

Somerweidings, somerweidingmengsels, ’n aantal winterweidings, eenjarige en meerjarige raaigras sowel as swenkgrasse en ander mengsels is ten toon gestel. Agricol se uitstaande dekgewasse en dekgewasmengsels is oudergewoonte ook verteenwoordig.

Zak Taljaard van Delareyville plant weidings, maar stel belang in die aanplant van sojabone. Saam met hom op die foto is Joubert Swanepoel (sonneblomprodukbestuurder: Agricol) en agter hulle ’n proef van DM 68R09. Hierdie kultivar spog met uiters goeie staanvermoë asook baie goeie hitte- en droogteverdraagsaamheid. Dit is uiters geskik vir aanplanting in die westelike produksiegebiede.
Carlo Pelster (landboukundige: Agricol) saam met Kelvin Hosken asook Albert en Rohan Otto van Bultfontein. Hulle gesels oor Agricol se swenkgrasmengsels vir skaapweiding. Die planttyd vir hierdie mengsels is Maart tot Mei en is ’n baie goeie  weidingsopsie vir die winter.
William Watson en Frik Botha van Paul Roux gesels met Willem Labuschagne, Agricol-bemarkingsbestuurder: Limpopo en Gauteng (middel). William en Frik plant spesifiek voerraap (Spitfire). Planttyd is November tot Februarie en dit is geskik vir  gebiede met ’n reënval van 350 mm of meer.
Christopher Coetzee (Agricol-bemar­kingsbestuurder: Noordwes,) saam met Jannie Erasmus (Delareyville), Hennie Kotze (Sannieshof) en Rohan Erasmus (Delareyville). Hulle kyk spesifiek na skaapweiding. Agricol se Mooirivier- en Waterberge-mengsels sal goed hiervoor werk.
Dawie du Plessis (nasionale verkoopbestuurder: Agricol), Stuart Stockenstrom, Alister en Ashley York en Chantel Stockenstrom (produsente uit Zimbabwe) asook Henk Crafford (Agricol-bemarkingsbestuurder: Westelike Vrystaat en Noordwes). Agter hulle op die foto is Agricol se lusernkultivar Supernova. Hierdie kultivar het ’n dormansieklas van 9 en spog met hoë opbrengs en goeie kwaliteit. Dit het spesifiek dun stingels sodat dit met gemak gebaal kan word.
Johan Horn, Hannes en Natie Schoeman en Stean van der Linde, almal van Volksrust, plant spesifiek sojabone (Donmario) en mielies, maar stel ook belang in sonneblom. Agter hulle is Agricol se nuwe sonneblomkultivar, Agsun 5111CLP met Clearfield®Plus-tegnologie.
Nico Mynhardt en Flip Young van Brits plant onder andere koring en sojabone. Agter hulle is ’n proef van Agricol se nuwe Donmario koringkultivar, IS Tordo.