Die oplossing vir effektiewe onkruidbeheer

Brian de Villiers, Villa Crop Protection
Gepubliseer: 7 November 2022

1234

Onkruiddoders het ’n maksimum potensiaal wat onder optimale toestande bereik sal word. Dit word egter drasties deur verskeie faktore soos weersomstandighede en waterkwaliteit belemmer. On­kruiddoders sal nooit hulle volle potensiaal bereik nie, veral nie in die swak Suid-Afrikaanse omgewings­toestande en met die spuitwater tot produsente se beskikking nie.

Glifosaat is geen uitsondering nie, omdat dit deur lae humiditeit en swak waterkwaliteit benadeel word. Daar moet dus ’n manier gevind word om die effek van hierdie nadelige faktore so ver moontlik te beperk. Villa het ’n antwoord in die vorm van ’n byvoegmiddel wat al hierdie faktore hanteer. CLASS ACT NG (L10477) is ’n vier-in-een-byvoegmiddel vir glifosaat wat onkruidbeheer die afgelope paar jaar geweldig verbeter het. Die verskillende komponente van die byvoegmiddel sluit die volgende in:

Komponent 1: CornSorb-tegnologie
Lae humiditeit is een van die grootste vyande van glifosaat. Onder laehumiditeitstoestande verdamp die spuitwater baie vinnig uit die spuitdruppels en ontbloot dan die glifosaatdruppelresidu op die blaaroppervlak. Glifosaatopname is ’n redelik tydsame proses en indien die druppelresidu nie vir hierdie hele tydperk geskik vir opname bly nie, sal die uitgedroogde onkruiddoder op die blaaroppervlak agterbly. Dit lei dan tot vertraagde en verminderde opname en swak onkruidbeheer. Hierdie verminderde opname sal nog verder deur die swak Suid-Afrikaanse weersomstandighede beïn­vloed word.

CLASS ACT NG bevat ’n bevogtiger (herbenatter) in die formulasie wat bekendstaan as CornSorb-tegnologie. Dit is ’n gepatenteerde hoëfruktosestroop wat die druppelresidu vogtig hou lank nadat die spuitwater uit die druppel verdamp het. Dit skep ’n optimale omgewing vir verlengde en verbeterde opname met gevolg­like beter onkruidbeheer. CornSorb-tegnologie verminder die invloed van lae humiditeit op glifosaat en verwyder dus een van die groot struikelblokke vir glifosaatopname en -effektiwiteit.

Komponent 2: Benatter
Dit is altyd ’n uitdaging om goeie bedekking van druppels op on­kruid te bewerkstellig, veral wanneer die onkruid se blare was- of haaragtig is. Soveel moontlik druppels moet op die blaar behou word, met so min afspat as moontlik. Tweedens moet die indivi­duele druppels versprei sodat voldoende bedekking vir effektiewe on­kruidbeheer bewerkstellig word. Dit is belangrik dat daar nie te veel verspreiding van druppels op die blaar is nie, aangesien glifosaat nie van uitgespreide druppels hou nie.

CLASS ACT NG bevat ’n volle dosis alkiel-poliglikosied-benatter (APG-benatter). Hierdie benatter verlaag die oppervlakspanning van spuitwater tot op die korrekte vlak. Dit verseker verhoogde bedekking met die minimum afspat. Die druppels versprei dan tot die korrekte mate vir verdere verhoging van die bedekkingsoppervlak.

Die werk van die APG-benatter is egter nie verby nie, want die opnameproses begin dan eers. Die benatter staan ook met die opnameproses by deur die wasagtige lae op die blaaroppervlak te hidreer. Dit maak die onkruid meer ontvanklik vir glifosaatopname en die beheer word verbeter.

Komponent 3: Ammoniumsulfaat
Glifosaateffektiwiteit word deur harde en brak spuitwater benadeel. Hoe meer kalsium, magnesium, natrium, kalium en sekere swaarme­tale in die water opgelos is, hoe swakker is die glifosaatopname. Tydens druppeluitdroging op die blaar, bind die antagonistiese katione aan die glifosaat en vorm ’n stroperige stof wat baie swak deur blare opgeneem word. Ongelukkig is beide brak en harde water ’n probleem in verskeie dele van Suid-Afrika en indien dit nie hanteer word nie, kan dit ’n verwoestende uitwerking op glifosaat­effektiwiteit hê.

CLASS ACT NG bevat voldoende spuitgraad-ammoniumsulfaat om hierdie probleem te takel. Die sulfaatioon bind aan die antagonistiese katioon tydens druppeluitdroging, voordat die katioon aan die glifosaat kan bind. Sodoende stel dit die glifosaat vry om effektief opgeneem te word. Die ammoniumioon help weer met die glifosaatopnameproses. Spuitgraad-ammoniumsulfaat is dus ’n integrale deel van die CLASS ACT NG-formulasie.

Komponent 4: Teenskuimmiddel
Glifosaatspuitoplossings is geneig om uitermatig met verroering te skuim. Dit skep probleme met die spuitproses en kan beide tyd en geld mors.

CLASS ACT NG bevat ’n teenskuimmiddel wat die skuimvor­ming van glifosaatspuitmengsels verminder. Dit bied ’n oplossing vir die skuimprobleem en maak glifosaatspuitmengsels baie meer gebrui­kersvriendelik. Die teenskuimmiddel maak geen bydrae tot effektiwiteit nie, maar dit dra wel tot ’n makliker toedieningsproses by.

CLASS ACT NG oorbrug al die belangrikste tekortkominge van glifosaat en dra tot verbeterde onkruidbeheer by. Om dieselfde redes kan dit ook suksesvol saam met onkruiddoders soos glufosinaat gebruik word. CLASS ACT NG is egter nie ’n wonderproduk nie en ander praktyke vir goeie onkruidbeheer moet natuurlik altyd gevolg word. Dit sluit bespuiting onder die beste moontlike toestande, korrekte spuittegnieke en die gebruik van ’n neerslaghulpmiddel soos in INTERLOCK (L10254) in. Indien al hierdie praktyke gevolg word, sal CLASS ACT NG ’n uiters positiewe verskil in onkruidbeheer bewerkstellig.

Die bewys hiervan is die talle tevrede produsente wat die afgelope paar seisoene CLASS ACT NG met hulle glifosaat- en glufosinaatbespuitings gebruik het. Daar word dikwels vertel van verhoogde en versnelde beheer, veral by moeilik beheerbare onkruide met was- en haaragtige blaaroppervlakke. CLASS ACT NG het ’n geregistreerde dosisreeks. Die hoë dosisse moet gebruik word wanneer die waterkwaliteit swak is, die onkruide moeilik beheerbaar is of die toestande nie na wense is nie.

Onthou om die etiket altyd deeglik te lees. Kontak jou Villa-gewasadviseur vir meer inligting of besoek www.villacrop.co.za.