Gemoedsrus vir Bloemfonteinse produsent danksy dié sagteware

Grethe Bestbier, Agrico
Gepubliseer: 30 September 2022

734

Wanneer ’n produsent in Bloemfontein woon en ’n hand moet hou op boerderye in Hopetown, Jakkalsdraai en verder, kort hy of sy ’n ekstra paar oë: ’n manier om virtueel teenwoordig te wees op die plaas, om elke pomp, spilpunt en pyp te kan moniteer en – die belangrikste – om met gemoedsrus oor ’n lang afstand in beheer te wees.

Dit is presies wat Gerrie Scholtz ondervind met Agrico Web Control, Agrico se afstandbeheerde en geoutomatiseerde besproeiingsagteware.

’n Aanlyn oplossing vir spilpunte en pompe
Gerrie boer met springmielies, koring en lusern in die Vrystaat. Daarby het hy ook ’n paar veevertakkings waarop hy sy oog moet hou. Sy twee besproeiingsboerderye is geleë rondom Hopetown – beide volledig toegerus met Agrico Web Control.

Agrico Web Control is ’n internetgebaseerde besproeiingsoplossing vir spilpunte en pompe. Die stelsel bied afstandbeheer en outomatisasie vanaf enige slimfoon, tablet of rekenaar met internettoegang.

Die oplossing bied onder meer buigsame programmering, ’n gedetailleerde geskiedenis van gebruikersinsette en gebeurtenisse, SMS- en/of telefoniese kennisgewings, sowel as beheer van meer as een pomp op een hooflyn.

Met die toevoeging van ’n GPS-module op die laaste toring van ’n spilpunt, kan sy posisie akkuraat bepaal word en kan die spilpunt of sy inlaatdruk daarvolgens beheer word. Die druk aan die einde van die spilpunt kan ook gemoniteer word en met behulp van ’n variable speed drive (VSD) op die pomp outomaties en akkuraat beheer word.

Tradisioneel is besproeiingstelsels met konstante inlaatdrukke ontwerp om deurlopend te voldoen aan die maksimum inlaatdruk wat die spilpunt (by die hoogste punt) benodig. Met Web Control en GPS kan druk by die senter gevarieer word volgens die topografie om presies aan die minimale drukbehoefte op enige tydstip te voldoen. So word groot hoeveelhede energie bespaar.

Só besproei die moderne produsent.

Die gemoedsrus van akkurate afstandbeheer
Gerrie het drie jaar gelede as ’n toets sy eerste masjien met Agrico Web Control toegerus. Vandag is daar nie een van sy stelsels wat nie van Web Control gebruik maak nie.

Agrico se Kimberley-tak, onder leiding van Joe Coetzee, was deurentyd betrokke by die ontwerp, installasie en naverkoopdiens. Deur die jare is ’n paar dinge verander, maar te danke aan Joe se kennis en Web Control, het hulle vandag ’n stelsel wat werk.

“Die ontwerp het ’n groot verskil gemaak. Joe is al vir ongeveer 15 jaar betrokke by ons. Ons maak staat op sy akkurate ontwerpe, pompkombinasies en pypkeuses, tesame met die Web Control.

“Die besproeiingstelsel gebruik pompe met VSD’s om water na spilpunte te voorsien. Die sisteem laat jou pompe toe om teen die laagste aanvaarbare spoed water te lewer, in plaas daarvan om onnodig teen vol spoed te werk.

“Dit is belangrik dat alles in die korrekte volgorde verloop – en dis ongelooflik hoe Web Control daarmee help. Omdat ek in Bloemfontein sit, is ek aangewese op die mense op die plaas. Vroeër moes ons iemand stuur om krane groter of kleiner oop te maak. As jy nog ’n spilpunt wou aansit, moes jy ’n addisionele pomp gaan aanskakel wat dalk 3 of 4 km ver was. Nou doen jy dit met jou selfoon.”

Met Web Control kan Gerrie en sy span elke dag die hele sisteem bestuur. As daar foute opduik, tel hulle dit dikwels op voor die ouens op die plaas.

“Web Control het eintlik so half my lewe verander. Omdat ek nie op die plaas bly nie, voel ek net meer in beheer. Daar is baie beter kontrole, van enige plek af.”

Web Control is beskikbaar op enige toestel met internettoegang.

Meer presisie en groot besparing met minder moeite
Behalwe vir die gemoedsrus, laat Web Control die produsent toe om meer akkuraat te boer. “Wanneer jy boer, probeer jy alles met presisie doen. Dit sluit in jou bemesting, jou planttoestand en jou grond. Wanneer dit by water kom, kan jy nie bekostig om te laat glip nie,” sê Gerrie.

Die besparing wat hy met Web Control verkry, kon sedert dag een waargeneem word in sy totale kragverbruik. Soos hy tereg vra: “As jou spilpunt op ’n druk van 2 bar kan loop, hoekom sal jy energie verkwis deur dit teen 3 bar te laat loop? Met hoër energiekoste moet jy investeer om meer effektief te raak en winsgewend te bly. Een manier om dit te doen, is om beter beheer oor jou watervoorsiening en spilpunte te hê.”

Volgens Gerrie moet die belangrikheid van effektiewe watertoediening nie onderskat word nie. ’n Mens kan nie kunsmis effektief toedien as daar nie konstante beheer oor die spilpunt is nie – dit is veral hiermee dat Web Control help. Wanneer die spilpunte bult op en bult af beweeg, pas die sisteem aan by die kontoere van die land en varieer dit die druk soos nodig. Hy sê dit is juis hier waar die groot besparing inkom.

“Met Web Control kan jy hierdie beheer verkry. Dit is nog ’n tegniek om jou boerdery meer presies te maak.”