Na die onlangse ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding tussen NWK, sy medewerkers en die Noordwes-regering se Departement van Paaie, Openbare Werke en Vervoer om sowat 400 km se grondpaaie – wat na graansilo’s in die provinsie lei – te herstel, ontstaan die vraag wat die regsaanspreeklikheid in sulke gevalle is.
Volgens hierdie memorandum het NWK en sy geassosieerde medewerkers, soos Agri NW, die nodige magtiging en vrywaring bekom om met ander sakevennote aan die grondpaaie te begin werk, sê dié maatskappy in ’n persverklaring.
Die grondpadprojek wat saam met Agri NW van stapel gestuur is, het reeds ’n kontrakteur aangestel wat paaie in die omgewing van Rostrataville, Sannieshof, Boschpoort, Coligny, Grootpan, Lusthof en Taaiboschpan skraap.
Boeta du Toit, Agri NW se hoof- uitvoerende beampte, het by navraag gesê daar kan aanspreeklikheid wees nadat nieregeringsorganisasies en lede van die publiek aan paaie gewerk het. “Die grootste risiko is egter die regsaanspreeklikheid indien daar ’n ongeluk sou plaasvind tydens die herstel van of onderhoud aan die paaie. Indien die pad reeds deur die toedoen van produsente verbeter is, is die teenargument dat die pad in ’n beter toestand gelaat is as wat dit voorheen was.”
Meld aan
Om dit te ondervang, het Agri NW ’n aanmeldingstelsel geskep waar padprobleme, met die nodige foto’s en GPS-koördinate, aangemeld kan word. Hierdie dokumente word dan aan die provinsiale direkteur van padonderhoud asook die distriksdirekteur gestuur om ’n kousale verband (verband tussen oorsaak en gevolg) te vestig. Dié dokumentasie dien ook as bewys van die nalaat van die departement om padprobleme tydig te takel, sou daar siviele eise ontstaan.
Du Toit sê versekeringsmaatskappye betaal eise aan versekerde kliënte uit, maar dié benadeelde padgebruikers mag nie bykomende sekondêre eise volgens wetgewing teen die Departement van Paaie, Openbare Werke en Vervoer instel nie. Indien ’n persoon nie verseker is nie, kan hy of sy wel ’n eis teen hierdie departement instel.
“Ons verwag egter dat versekeringsmaatskappye hul verhalingsreg sal uitoefen en koste van dié departement sal terugeis om hulle onder druk te plaas om hul verpligtinge jeens padonderhoud en herstel na te kom.
“Die vrywaring wat NWK verkry het, is die uiteinde van ’n lang proses wat deur beïnvloeding ook by die premier gedraai het voordat dit realiseer het. Agri NW het ’n groot bydrae tydens hierdie proses gelewer.”
Vrywaringsproses
Indien individue noodgedwonge paaie wat hulle daagliks gebruik self wil herstel, moet vrywaring veiligheidshalwe verkry word. Du Toit meen daar is verskeie administratiewe struikelblokke in dié proses, daarom staan Agri NW individue by om die vrywaringsproses te fasiliteer en vordering te monitor.
Dit is belangrik om vrywaring van die betrokke owerhede te kry reeds vóór ’n pad herstel word, aangesien die individu wat betrokke by die herstel is, vir skade aanspreeklik gehou kan word. “Vrywaring beteken dat die owerhede die individu se regsplig aanvaar indien ’n eis vir nalatigheid sou volg,” sê Johan Oosthuizen, vennoot by De Kocks Prokureurs en voorsitter van die Matlosana-sakekamer.
Du Toit beklemtoon egter dat hulle nie paaie wil herstel en só die provinsiale regering van hul plig onthef nie. “Daar behoort in die lang termyn gekyk te word na privatisering van padonderhoud waar produsente reeds die nodige toerusting en ondersteunende kennis het om paaie in stand te hou.”
Die Noordwes-provinsie het tans sowat 15 000 km se grond- en 8 000 km se teerpaaie. Hiervan val 24 primêre paaie onder SANRAL, die land se nasionale padagentskap.
Grondpaaie verval
Die meeste van die grondpaaie in die provinsie toon wisselende tekens van ernstige verval. Die kern van die probleem met die agteruitgang van veral die grondpaaie is die feit dat die departement agter geraak het met die onderhoud daarvan. Korrupsie met onder meer “spookpadskrapers” en tenderbedrog het hierdie situasie vererger.
Volgens Du Toit is herstel- en onderhoudswerk van swak gehalte of word dit slegs gedeeltelik afgehandel. Op sy beurt sê Theo Rabe, groep- uitvoerende hoof van NWK, dat paaie in absolute verval is en dat dit tot grootskaalse ontevredenheid lei. Gebruikers van hierdie paaie ly dikwels skade.
Skade en prysstygings
“Al dié verliese, vernaamlik deur produsente, dra tot verhoogde voedselpryse by. Dit is veral die prys van primêre voedselbronne van arm gemeenskappe wat aanhou styg weens skade aan toerusting en ontoeganklikheid van paaie.”
Rabe sê voorts die padnetwerk is beslissend om die algehele voedselproduksieketting doeltreffend te laat werk en om te verseker dat verbruikers bekostigbare voedsel op hul tafels het. Bydraes deur vennote soos NWK en Agri NW help om koste vir die produsent en uiteindelik die eindverbruiker laag te hou.
“Ander padgebruikers wat met busse en minibustaxi’s na skole en werksplekke moet reis, sal baat vind by ons inisiatief. Verskeie vragmotors gebruik ook gereeld die paaie om graan na verwerkingsaanlegte te vervoer.”
Produsente of landbouverenigings wat self herstel- of onderhoudswerk aan paaie wil doen en vrywaring teen moontlike siviele eise benodig, kan met Agri NW se hoofkantoor skakel by 018 632 3612 om aansoekvorms en inligting oor die verloop van die aansoek te bekom.
Juridiese aspekte
Johan Oosthuizen, vennoot by De Kocks Prokureurs en voorsitter van die Matlosana-sakekamer in Klerksdorp, gee duidelikheid oor die juridiese aspekte rondom die instandhouding en herstel van paaie.
- Aanspreeklikheid volg gewoonlik wanneer iemand weens ’n ander persoon (regsentiteit) se nalatige doen of late skade ly. In die regswêreld word gepraat van kontraktuele of deliktuele aanspreeklikheid.
- Vir doeleindes van moontlike aanspreeklikheid weens ’n ongeluk op ’n grondpad wat in stand gehou is of nie in stand gehou is nie, sal deliktuele aanspreeklikheid die toepaslike remedie wees, tensy die “kontrakteur” wat die pad gebou of herstel het kontrakbreuk gepleeg het of selfs nalatig (deliktueel) opgetree het.
- As ’n persoon skade ly, kan hy/sy ’n eis op grond van iemand se nalatigheid (nalatige optrede deur iets te doen of nie te doen nie) instel.
- Die howe hanteer elke saak op eie meriete. Dit wil sê hoewel daar sekere regsbeginsels bestaan oor sekere terme, soos nalatigheid, moet hierdie regsbeginsels op die feite (meriete) van elke saak toegepas word.
- Een van die regsbeginsels wat oor eeue heen ontwikkel het, is ’n sogenoemde regsplig in die vorm van ’n sorgsaamheidsplig (duty to care).
- Hierdie plig word gebaseer op die gemeenskap/samelewing se oortuigings wat oor ’n tyd ontwikkel het en/of wat van tyd tot tyd in wetgewing opgeneem word waardeur ’n plig van sorgsaamheid dan op ’n sekere regsentiteit (soos die staat) geplaas word om iets te doen of nie te doen, om die gemeenskap te beskerm of te beveilig.
- Indien hierdie wetlike plig verbreek word, hetsy deur iets nie reg te doen nie of iets glad nie te doen nie, volg dit dat die spesifieke regsentiteit nalatig opgetree het en dus aanspreeklik vir ’n derde party se skade kan wees.
- Sedert die jare sewentig het die samelewing padveiligheid as ’n reg opgeneem en die verantwoordelikheid (duty of care) vir die beskerming van hierdie reg op die staat geplaas, soos in verskeie ordinansies en/of wetgewing vervat is. Hier kan verwys word na die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se verklaring van die Dekade van Aksie vir Padveiligheid 2011 – 2020 (soos deur Suid-Afrika onderteken); die Suid-Afrikaanse Grondwet (artikel 24(a) wat sê almal het die reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie) asook ander wetgewing, byvoorbeeld rakende SANRAL.
- Dit is dus is die staat se verantwoordelikheid om die paaie-infrastruktuur in stand te hou en die staat kan aanspreeklik gehou word indien hierdie regsplig versuim word en iemand weens hierdie versuim skade ly.
- Om hierdie rede kan ’n individu wat ’n pad wil herstel of in stand hou, aanspreeklik gehou word vir skade wat volg, want hierdie persoon neem inderwaarheid die regsplig van veiligheid en beskerming teenoor die gemeenskap oor. Daarom is die vrywaring van die staat nodig voordat daar aan die pad gewerk word, sodat daardie individu se regsplig deur die staat aanvaar word indien ’n eis weens nalatigheid sou volg.
- Daar bestaan egter ook sekere regsbeginsels oor noodweer of noodtoestand wat moontlik aangewend kan word waar ’n individu noodgedwonge ’n pad herstel het. Weer eens sal elke saak op eie meriete hanteer moet word.
- Daarmee saam is dit ’n feit dat die staat nie oor die fondse beskik om die agterstand in die instandhouding van die padinfrastruktuur uit te voer nie en is die vraag of die gemeenskap nou self die regsplig van moontlike aanspreeklikheid gaan opneem indien paaie “self” herstel word. Die gemeenskap sit tussen die spreekwoordelike duiwel en die diep, blou see.