Suid-Afrikaanse saaiprodusente word as die beste ter wêreld gereken. Die rede hoekom hulle so hoog aangeslaan word, is as gevolg van hulle aanpasbaarheid. Produsente hier het geleer hoe om aan te pas by toestande waaroor hulle nie noodwendig beheer het nie.
Dié aanpasbaarheid kan op verskeie vlakke waargeneem word. Dit wat binne die produsent se beheer is, word onder omstandighede so goed as moontlik beplan, bestuur en uitgevoer. Enige besigheid het risiko – ook boerdery. Die risiko’s moet beperk word deur beplanning, aanpassing en korrekte bestuur.
Gedurende die 2020/2021-seisoen het bogemiddelde reënval in die westelike mielieproduksieareas voorgekom. Die grondprofiele was vol tydens strooptyd in 2021. Dit is opgevolg deur baie reën in 2021/2022. Met die bewolkte weer was die hitte-eenhede ook nie voldoende nie, veral waar gewasse laat aangeplant is. In Grafiek 1 word die grondwatertekort (mm) om die profiel tot by veldwaterkapasiteit aan te vul, aangedui. Met ’n tekort van slegs 88 mm vir die 2021/2022-seisoen was dit duidelik dat baie reën groot opbrengsverliese tot gevolg sou hê.
Vogbewaringspraktyke is deel van produsente in die Wes-Vrystaat en Noordwes se DNS – veral omdat die droogtes van vorige seisoene nog vlak in die gedagtes lê. Dit is dié uiterste seisoene (nat of droog) wat ’n mens dikwels laat twyfel aan die praktyke en besluite wat geneem is. Wanneer daar twyfel is, is dit belangrik om ’n bietjie terug te kyk na data uit die verlede. Gou word besef dat die praktyke en seisoenale besluite wel reg was.
In die natuur loop dinge nie altyd 100% reg nie. Dit is moeilik om te aanvaar, veral as 110% se moeite gedoen is. Dit is dan wanneer die ware Suid-Afrikaanse produsent na vore tree. Hulle leer uit hul foute en maak alles ’n bietjie beter met die hulpmiddels tot hul beskikking. ’n Nuwe seisoen, nuwe hoop, nuwe geleenthede en sigbare wonderwerke om elke hoek en draai.
Kennis en ervaring gee elke produsent die geleentheid om bestuur en gewasmanipulasie op sy grond toe te pas om sodoende die beste moontlike oes wat die seisoen bied, te behaal. Die wisselvalligheid van die klimaat maak beplanning ’n uitdaging. Dit is ’n goeie begin om die produksieprosesse te verdeel en scenario’s te bedink. Deur byvoorbeeld te kyk na hoe mielies en sojabone op ’n verskeidenheid van produksiescenario’s reageer, behoort meer duidelikheid te gee (Tabel 1).
Sojabone benodig meer as dubbeld die hoeveelheid water om ’n ton graan te produseer as dit met mielies vergelyk word (Tabel 1). Die water wat vir produksie benodig word, is grondwater asook reën. Nie net is die hoeveelheid reën belangrik nie, maar ook die verspreiding van die reënbuie.
Die afgelope produksieseisoen was dit duidelik dat sojabone heelwat beter gevaar het onder die nat toestande as mielies. Die opbrengs van sojabone was in baie gevalle heelwat meer tonne per hektaar as die mielies op aangrensende lande. Mielies wat op sojaboonlande geplant is, het ook aanvanklik heelwat beter vertoon. ’n Oormaat reën het egter die wisselbou-effek gekanselleer.
Mag die nuwe produksieseisoen ook genoeg uitdagings hê om te verseker dat Suid-Afrikaanse produsente die beste in die wêreld bly.