’n Onkruid word algemeen gedefinieer as ’n plant wat groei waar dit nie moet nie. Enige plant kan dus as ’n onkruid beskou word en ’n goeie voorbeeld is opslagmielies in ’n sojaboonland (Foto 1). Ander beskryf ’n onkruid as enige plant wat spontaan ontkiem in gebiede van menslike belang en wat negatief inmeng met boerdery-aktiwiteite. Kompetisie is die mees nagevorste tipe van inmenging in landbougewasse. Die hoofomgewingsbronne waarvoor onkruide kompeteer, is voedingstowwe, lig, water en groeiruimte.
Navorsing het getoon dat sojaboonopbrengs meer word soos wat die onkruidvrye tydperk verhoog tot op 40 dae na plant. Onkruide wat binne die ry groei, is meer skadelik as dié tussen die rye en as gevolg van hul uiters kompeterende invloed kan sommige onkruide gewasopbrengs totaal laat misluk.
Sojabone kompeteer nie goed met onkruide in die saailingstadium nie. Onkruide het gewoonlik ’n hoë groeikrag en kan sojabone in ’n vroeë stadium vinnig van vog, voedingstowwe en lig beroof. Indien effektiewe beheer in ’n vroeë stadium aan sojabone ’n voorsprong gee, sal ’n digte blaredak verdere onkruide gedurende die vegetatiewe groeistadium smoor.
Chemiese onkruiddoders is handige hulpmiddels in onkruidbestuursprogramme. Dit moet egter as bykomende en nie as vervangende hulpmiddels vir ander metodes aangewend word nie. Hierdie ander metodes sluit in goeie verbouingspraktyke (soos wisselbou en behoorlike bemesting en bekalking om die gewas vinnige aanvanklike groei te gee) wat essensieel is vir ’n effektiewe onkruidbestuursprogram.
Onkruidbeheer by sojabone is seker een van die belangrikste faktore – indien nie die belangrikste nie – vir goeie opbrengste. Veral breëblaaronkruide word moeilik beheer. Die koms van Roundup Ready-sojabone het onkruidbeheer vergemaklik, maar eiesoortige ander probleme teweeggebring – soos beheer wat te laat toegepas word. Sekere onkruide word selfs met Roundup moeilik beheer en sluit in purperwinde, wandelende Jood en geeluintjies. “Nuwe” onkruide soos wilde sorghum en tarentaalgras neem ook toe en weerstand teen sekere onkruiddoders is nie uitgesluit nie. Sekere misbrediespesies en van die verskillende skraalhanse (Conyza albida, C. bonariensis, C. canadensis en C. podocephala) is reeds bestand teen glifosaat en daar moet dus teruggeval word op tradisionele gras- en breëblaaronkruiddoders (Foto 2).
Baie sojaboonprodusente doen geen onkruidbeheer tydens planttyd nie en spuit slegs met glifosaat vanaf twee tot vier weke na opkoms. Die afgelope paar seisoene het hierdie praktyk egter vele produsente laat gly (letterlik en figuurlik) met die baie en deurdringende reëns wat voorgekom het vanaf einde November tot diep in Januarie (Foto 3 en Foto 4).
Daar bestaan tans goeie onkruiddoders wat voor opkoms toegedien kan word en wat ’n redelik lang nawerking het. Die aktiewe bestanddeel diklosulam kom voor in die produkte Strongarm en Zeona en word saam met metolachloor as vooropkomsdoder in sojabone gebruik.
Produsente wat die afgelope seisoen diklosulam en metolachloor as vooropkomsdoders gebruik het, het geen probleme met onkruid ervaar nie. Produsente wat slegs glifosaat gebruik, kon nie in die lande inkom nie en het dus die glifosaat baie laat gespuit – met groot opbrengsverliese as gevolg van onkruidkompetisie (Foto 5, Foto 6 en Foto 7).
Die outeur gebruik slegs Strongarm en alachloor in al sy navorsingsproewe sonder enige glifosaatbespuitings. Die nawerking is uitstekend en persele en selfs paaie tussen persele bly skoon tot oestyd (Foto 8 en Foto 9).
Om ’n voldoende onkruidbeheerstrategie te implementeer, is dit essensieel om te bepaal in watter groeiperiode onkruidinmenging die meeste tot oesverlagings sal bydra. Daar is gevind dat indien onkruidkompetisie vanaf die opkoms van sojabone tot en met die V4-stadium of ongeveer 30 dae na opkoms uitgeskakel word, opbrengsverlagings nie meer as 2,5% sal wees nie. Om ’n verlies van meer as 2,5% in opbrengs te verhoed, is die kritieke tyd vir onkruidverwydering tussen V2 tot R3 of ongeveer 9 tot 38 dae na opkoms. Die deurslaggewende tyd vir onkruidverwydering om verlies in opbrengs van meer as 5% te voorkom, is tussen V3 tot R3 en R5 of 16 tot 50 dae na opkoms en vir ’n 10%-verlies is dit tussen V4 tot oes of 22 tot 74 dae na opkoms.
Onkruidbeheer vanaf plant maak dus sin om te verseker dat opbrengsverliese so laag as moontlik gehou word. Dit is gevaarlik om slegs op glifosaat staat te maak, aangesien reënvalpatrone besig is om te verander en die aanhoudende gebruik daarvan teen verhoogde dosisse onkruide boonop weerstandig sal maak.
Gebruik vooropkomsdoders met planttyd en kry gemoedsrus en rustigheid wanneer dit vir dae aaneen reën en ’n mens nie naby ’n land kan kom nie.