Die voorkoms van sekere insekte op landboukundige gewasse kan potensieel tot skade op die gewas asook opbrengsverliese lei. Om ekonomiese verlies te voorkom, is dit nodig om die populasietoename van die betrokke insekpopulasie te voorkom om skade so laag moontlik te hou.
Chemiese plaagdoders kan suksesvol vir hierdie doel gebruik word. As dit egter onoordeelkundig toegedien word, kan dit tot groter skade en ekonomiese verlies lei. Insekpopulasies het die vermoë om weerstand teen plaagdoders te ontwikkel, aangesien daar binne ’n populasie ’n sekere persentasie individue is wat natuurlike weerstand besit. Hierdie individue kan oorleef ten spyte van plaagdodertoediening. Die ander nadeel van die onoordeelkundige gebruik van plaagdoders is dat ander insekgroepe wat belangrike ekosisteemfunksies verrig, ook benadeel word.
Die vier riglyne vir suksesvolle geïntegreerde insekbestuur is:
Monitering en identifikasie van insekte
Monitering is die basis van enige insekbeheerprogram: Dit is die roetine-inspeksie van die voorkoms en die identifisering van insekte wat in die gewasekosisteem voorkom. Hieruit kan bepaal word watter insekte voorkom, watter van hierdie insekte potensieel skade aan die gewas kan veroorsaak en wat die populasiegrootte van die betrokke insek is.
Bepaling van drumpelwaardes en wanneer beheer nodig is
Uit die monitering kan bepaal word of die populasiegroottes van die insekte wat teenwoordig is wel tot opbrengsverliese sal lei. Dit is ook belangrik om die groeistadium en die deel van die gewas waarop die insek voorkom, in ag te neem. Tydens sommige stadiums van die gewas, soos by die saailingstadium in graangewasse, is die plante meer kwesbaar vir insekskade. Insekte wat byvoorbeeld in die aar voorkom, kan ook groter opbrengsverlies tot gevolg hê as insekte wat net op die blare of stam voorkom.
Voorkoming
Dit is belangrik om die seisoen en omgewingsfaktore soos temperatuur, reënval en humiditeit in ag te neem. Insekte se populasiegroei is vinniger by hoër temperature. Wanneer insekte in klein populasies voorkom, maar potensieel kan vermeerder en in ’n kort tyd skadelikheidsvlakke kan bereik, moet hierdie populasies beheer word om groter skade later te verhoed.
Beheer
Wanneer daar uit die monitering gevind is dat dit wel geregverdig is om beheer toe te
pas om opbrengsverlies te voorkom, moet plaagdoders streng volgens die riglyne op die betrokke etikette toegedien word. Onthou ook dat die frekwensie waarteen die betrokke plaagdoder toegedien word, die belangrikste faktor is om weerstand in insekte te verhoed. Die tempo van toename van weerstand in enige populasie sal vinniger wees as die plaagdoder gereeld en wydverspreid toegedien word, aangesien die weerstandbiedende insekte met elke toediening in die populasie bevoordeel word. Die rotasie van aktiewe bestanddele of die gebruik van alternatiewe beheerstrategieë, soos biologiese beheer, sal die ontwikkeling van weerstand in insekpopulasies vertraag.
Om suksesvolle langtermyninsekbeheer te verseker en die ontwikkeling van plaagdoderweerstand en vernietiging van noodsaaklike ekosisteemfunksies te voorkom, is monitering noodsaaklik. Monitering verseker dat beheer teikenspesifiek toegepas word – slegs wanneer dit wel nodig is.