Kontantgewasse is uiters kwesbaar vir nagmuisskade

Gepubliseer: 5 September 2022

1613
Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs- en rentmeester-skapbestuurder,
CropLife SA

Graanprodusente is aan verskeie drukpunte vanuit die natuur uitgelewer. Klimaatsverandering is sekerlik die grootste bedreiging, want dit veroorsaak nie slegs uiterstes wat droogte en reënval betref nie, maar skep ook groot onsekerheid oor weerpatrone wat volgens alle aanduiding ernstig aan die skuif is.

’n Sekondêre gevolg van klimaatsverandering is die voorkoms van plae, siektes en onkruide wat dikwels onbekend of onverwags is. Produsente het al met innoverende praktyke na vore gekom om dié uitdagings die hoof te bied, maar soms is daar chroniese probleme wat op geen manier heeltemal uitgewis kan word nie.

Nagmuise of springhaasrotte is een van die landbouplae wat graanprodusente tot raserny dryf, maar daar moet aanvaar word dat die mens self ’n katalisator vir dié klein peste is. Onkundigheid oor nagmuise blyk steeds ’n probleem te wees, bloot omdat hulle verspreiding gewis aan die toeneem is en produsente dikwels heeltemal onbekend met hulle voorkoms en gedrag is. ’n Nagmuisplaag kan ’n graanoes met soveel as 70% verminder as skadebeheer nie tydig en effektief toegepas word nie.

Hierdie koloniediere word oral in Suid-Afrika aangetref en kan letterlik in hul miljoene in graanlanderye en natuurlike veld voorkom. Daar was selfs vroeg in 2021 in die Kalahari ’n “ontploffing” van nagmuise wat bitter selde in daardie geweste plaasvind.

Tekens van nagmuisinfestasie
Graanprodusente oral in Suid-Afrika, maar veral op die Hoëveld van Mpumalanga en die Springbokvlakte asook in die Vrystaat, Overberg en Swartland moet naspeuring met erns aanpak. Die eerste tekens is gewoonlik enkele ronde gate van omtrent 50 mm in deursnit wat aan tonnels gekoppel is in wenakkers en die buitedele van landerye. Nagmuise leef onder die grond en kom slegs uit om kos te soek – dit is gewoonlik vanaf baie laat in die middag tot net voor ligdag. Hulle oorwinter in wenakkers waar hulle gate en tonnelstelsels maklik misgekyk word omdat dit deur natuurlike plantegroei bedek is.

Sodra die someraanplanting begin, vaar hulle die lande in en stig kolonies wat hele landerye kan oorneem. Gate is soveel as tien elke vierkante meter en tonnels is dikwels so groot in omvang dat trekkers en implemente daarin vasval. Sulke toestande dui op ’n infestasie van epidemiese omvang en dit benodig dringende aksie om die pes die wyk te laat neem.

’n Bosveld-nagmuis wat die aftog geblaas het.

Rol van bewaringsbewerking in nagmuise se toename
Alhoewel minimumbewerkingspraktyke goed vir die produsent, die gewas en die natuurlike omgewing is, is dit een van die hoofredes waarom nagmuise die afgelope twee dekades vir baie graanprodusente ’n oorlas geword het. Die rol van diep bewer­king in grondgesondheid word al te dikwels afgemaak, terwyl daar heelwat meriete vir die graanprodusent in lê. In die “goeie ou dae” toe landerye elke seisoen diep geploeg is, is plantreste saam met hulle oordragsiektes, plae en onkruide onder die grond begrawe, terwyl ook nagmuiskolonies ’n nekslag toegedien is.

Diep ploeg het dus die woonplek, teelplek en wegkomplek van nagmuise vernietig en te­same daarmee verspilde graan begrawe; dit sou nagmuiskos gewees het as die landerye nie geploeg is nie. Met bewaringsbewerking word daar selde of ooit geploeg – dit laat nie alleen nagmuiskolonies in rus en vrede nie, maar los ook plantreste agter waarin plantsiektes en -plae soos stronkboorder kan oorleef. Die probleem is egter dat daar beswaarlik teruggekeer kan word na ’n diep bewerking elke seisoen as gevolg van die nadelige uitwerking daarvan op die grond self.

Oplossings vir nagmuise
Vergeet vir eers van knaagdierdoders (of rotgif soos dit algemeen bekendstaan) en dink holisties oor die probleem. Die be­langrikste doelwit is om te voorkom dat die nagmuisbevolking se aantalle epidemiese afmetings aanneem. Uile, die natuur se wonderwe­sens, moet ingespan word om ten minste die be­volking binne perke te hou. Alle uilsoorte in die graangebiede, soos nonnetjiesuile, grasuile, gevlekte ooruile, Kaapse ooruile en vlei-uile maak jag op nagmuise. Een paar nonnetjiesuile met ses kuikens sal soveel as sestig muise per nag vang! Hulle vreet nie al die muise nie, maar dit wil voorkom asof hulle “sportjag” beoefen omdat daar soveel prooi beskikbaar is.

Hulle bedien ’n area van tot 1 900 ha as hul jaggebied (per paar) en daar kan met gemak meer as een paar op so ’n oppervlakte gehuisves word.

Die wyse om uile aan te moedig, is om geskikte sitplekke op te rig. Gewoonlik is die goedkoopste manier pale wat 2,4 m hoog bo die grond uitsteek. Dis goed genoeg vir nonnetjiesuile en gevlekte ooruile, maar laer sitplekke van 1,4 m en 1,8 m hoog word graag deur vlei-uile gebruik. Grasuile sit nooit op ander plekke as op die grond nie en dus het hulle nie kunsmatige sitplekke nodig nie. Die pale behoort by die bopunt 50 mm in deursnit te wees. Soms monteer produsente klein dwarspaaltjies bo-op, maar dit lyk of die uile standaardpale sonder dwarssporte verkies. Sulke sitpale kan elke 50 m ver om die landery en selfs in die landery geplant word, waarvandaan uile dan hulle jag op die nagmuise kan beplan. Daglewende roofvoëls soos blouvalke, geelbek- en swartwoue, bruin- en rooiborsjakkalsvoëls en die onderskeie vleivalke sal ook die sitplekke gebruik en vinnig met die nagmuise wat dit vroegoggend of laatmiddag uit hul skuilings sou waag, klaarspeel.

Uilkaste soos die bekende JoJo-plastiekkaste en selfgemaakte houtkaste kan ook opgerig word as broeiplek vir gevlekte ooruile en nonnetjiesuile. Kaste moet 60 cm diep, 40 cm wyd en 40 cm hoog wees, met drie geslote kante en een oop kant. Rig die kaste op pale van sowat 3 m tot 4 m hoog op en laat die ingang na die suidooste wys aangesien die warm middagson in die ingang nie gunstig vir die uile is nie. Uile, daglewende roofvoëls en kleiner roofdiere, soos rooikatte, tierboskatte, vaalboskatte, muishonde, meerkaaie, ratels, sil­wervosse en rooijakkalse sal almal hul deel bydra tot die onderdrukking van nagmuise. Dit gebeur egter al te dikwels dat die aantalle bloot ontplof en landerye onbewerkbaar maak.

Diep bewerking tot ten minste 500 mm diep word een keer elke vier jaar aanbeveel in gebiede waar die nagmuise endemies is en wel epidemies raak. Dit is onnodig om diep bewerking toe te pas as kolonies klein en onder beheer is.

Nagmuise knaag jong mielies net bo die pit af.

Verantwoordelike gebruik van knaagdierdoders
Rotdoders kan suksesvol teen nagmuise aangewend word, maar dit hou ’n moontlike risiko vir sekondêre vergiftiging van uile, daglewende roofvoëls en roofdiere in. Sommige aktiewe bestanddele soos kumatetraliel se risiko vir sekondêre vergiftiging is uiters laag, terwyl daar by die alombekende brodifakum ’n kans op sekondêre vergifti­ging is. Die vraag is of dit moontlik is om die risiko vir uile uit te skakel. Die eenvoudige antwoord is ja, maar dit word gekwalifiseer met die voorwaarde dat die knaagdierdoders op die regte wyse aangewend word. Geen knaagdierdoder mag oop en bloot op die grond versprei word nie; dit is in elke geval ’n reusevermorsing van geld, want die nagmuise verkies om hulle kos in veilige plekke te eet, soos byvoorbeeld in hulle eie tonnels.

Kyk eers op die etiket of die rotdoder wel vir nagmuise geregi­streer is. Nie alle rotdoders is daarvoor geregistreer nie, bloot omdat almal nie suksesvol teen nagmuise is nie. Daar is ook verskeie formulasies soos wasblokkies, korrels (saamgepersde graan), pastablokkies en stuifpoeier. Gebruik die eetbare lokaas wanneer natuurlike kos skaars is, want dan het nagmuise rede om die lokaas te vreet. Lokaas wat uitgeplaas word wanneer mielies of koring ontkiem, sal baie min aftrek kry omdat nagmuise fokus op ontkiemende saad. Die voordeel van spoorpoeier is dat dit nie voedselverwant is nie. Die spoorpoeier word in die gate gegooi en wanneer die muise daaroor beweeg, sit dit in hulle pels vas. Wanneer hulle hulself kam, neem hulle dan die spoorpoeier, wat die aktiewe bestanddeel kumatetraliel bevat, in.

Een ding wat ’n produsent sommer gou mismoedig maak as die nagmuisprobleem kop uitsteek, is die enorme aantal gate – letterlik duisende gate moet met knaagdierlokaas of spoorpoeier behandel word. Die oplossing vir die uitdaging is eenvoudig: Trek laatmiddag vinnig ’n dis oor die landery om gate toe te maak en kyk dan die volgende dag. Gewoonlik is minder as 10% nuwe gate oopgemaak. Daardie gate word dan behandel en dit spaar die produsent reeds 90% aan koste, tyd en arbeid. ’n Enkele blitsbehandeling met die regte rotdoder sal die nagmuisbevolking genoegsaam uitwis om die uile en ander bondgenote die kans te gee om die res onder beheer te hou.

Sinkfosfiedlokaas is ook beskikbaar. Dit werk baie goed, met ’n uiters lae risiko vir sekondêre vergiftiging omdat die fosfiengas wat die dier doodmaak, na fosforsuur oksideer. Al wat dus oorbly, is fosforsuur en sinkoksied. Aluminiumfosfiedtablette kan ook gebruik word, maar vanweë die hoë koste daarvan is dit slegs aan te beveel vir kleinskaalse infestasies.

Wees egter daarop bedag dat nagmuise soms glad nie lokaas van enige aard wil vreet nie. In so ’n geval moet die spoorpoeier gebruik word.

Seisoenale gedrag van nagmuise: Wees kundig en voorbereid teen ’n gedugte vyand
Nagmuise in die somerreënvalgebiede is vanaf einde Augustus op die uitkyk vir blyplek en kos. Produsente behoort wenakkers te ondersoek om vas te stel of daar nagmuisaktiwiteit is. Indien wel, moet die uile ingespan word om hulle werk te doen. As daar teen einde September reeds gate in landerye opgespoor word, is die skrif aan die muur en moet daar werk gemaak word om die bevolking te rem. Lokaas kan wel aangewend word as daar minder as een gat elke tien vierkante meter is, maar as die digtheid nader aan een gat elke vierkante meter is, is dit raadsaam om die landery se geaffekteerde gedeelte vinnig met ’n dolploeg te takel. Teen planttyd is dit so te sê te laat om iets te doen, want die nagmuise gaan ongelooflike skade aanrig. Hulle wag gewoonlik tot die saad ontkiem en twee blare het waarna hulle die blare afbyt en die sagte saad opvreet.

’n Metode wat nagmuise uit landerye hou al is daar aanplan­tings, is om ’n meter wye digte stand van ’n lokgewas te plant. Dit kan enige gewas wees wat saam met die mielies of koring sal ontkiem en vir die muise ’n oormaat kos bied sodat hulle nie die nuwe aanplanting teiken nie.

In die wintermaande is dit wenslik om iets soos ’n lokaaskorrel te gebruik vir die nagmuise wat ’n veilige tuiste in die wenakkers gevind het. Hulle vreet gewoonlik sulke lokaas geredelik omdat natuurlike kos skaars is. Dit sal die bevolking genoegsaam knou sodat hulle nie epidemies raak as dit planttyd is nie.

Daar is ander planne ook. Stuur ’n e-posnavraag na gerhard@croplife.co.za vir die volledige nagmuisbestuursplan.