Hoe kan Sclerotinia in die komende seisoen beheer word?

1736
Dr Belinda Janse van Rensburg,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Die 2021/2022-groeiseisoen het talle uitdagings gebied, waarvan ’n oormaat reën en Sclerotinia-infeksies – veral by sonneblom – die grootste was. Produsente is nou met reg bekommerd oor die beheer van dié siekte in die komende groeiseisoen.

Voordat beheermaatreëls bespreek word, moet die swam wat Sclerotinia veroorsaak se siektesiklus eers verstaan word. Soos wat die siklus hier verduidelik word, kan daar ook gefokus word op toepaslike beheermaatreëls. Dit sal sommer gou duidelik word dat hierdie swam baie vernuftig is en nie sommer eensklaps beheer kan word nie, maar dat ’n hele arsenaal maatreëls in kombinasie toegepas moet word.

Sclerotinia word deur die swam Sclerotinia sclerotiorum veroorsaak. Nagenoeg 400 plant­soorte (dit sluit onkruide in) is gashere vir hierdie swam. Op die oomblik hou Sclerotinia ’n groot uitda­ging vir sojaboon-, sonneblom- en kanolaproduksie in. Hierdie swam is lug- en grondgedra. Miselium groei uit die sklerotia (Foto 2) wat in die grond is en infekteer die sonneblomsaai­ling se wortels, wat kan lei tot stamvrot asook verwelking van die saailing. Produsente ondervind egter heelwat groter probleme met sonneblom-kopvrotbesmetting as met stamvrotbesmetting. Kopvrotbesmetting­ word veroorsaak deur klein swamspore (askospore). Hierdie swamspore is luggedra en hulle is afkomstig van apotesia (dink aan ’n apotesium as ’n baie klein sampioen) wat vanuit sklerotia wat op die grondoppervlak voorkom, groei (Foto 1).

Foto 1: Onder gunstige toestande ontwikkel apotesia uit die sklerotia. Swamspore (askospore) word uit die apotesia vrygestel en veroorsaak kopvrotinfeksies.
Foto 2: ’n Sklerotium is ’n harde struktuur bestaande uit miselia en voedingstowwe.

Volgens literatuur sal ’n sklerotium wat meer as 2 cm of 3 cm in die grond begrawe is, nie apotesia en dus askospore vorm nie. Miljoene spore kan vanuit ’n apotesium vrygestel word oor ’n periode van ’n paar weke. Hierdie spore land dan op plantgedeeltes soos die sonneblomkop. Koel temperature (18°C tot 26°C) en ’n relatief hoë humiditeit bevorder askospoorontkieming. Askospoorinfeksie vind plaas in die teenwoordigheid van vog en gewonde of verouderende plant­materiaal (dit sluit ook die blommetjies in). Sulke plantmateriaal skei nutriënte af wat die spore gebruik vir in­feksie en verspreiding. Kopvrotinfeksies word gewoonlik eers aan die einde van die blomstadium gesien en die simptome daarvan word aan die agterkant van die kop as ’n waterdeurdrenkte letsel waargeneem (Foto 3) of ’n wit mise­liumgroei aan die voorkant van die kop (Foto 4) en later sklerotia wat plantmateriaal vervang.

Foto 3: ’n Waterdeurdrenkte letsel aan die agterkant van ’n sonneblomkop.
4. Kenmerkende wit miseliumgroei aan die voorkant van die sonneblomkop.

Sclerotinia-beheer
Indien produsente in die afgelope groeiseisoen gesukkel het met Sclerotinia, is die kanse goed dat dit in die volgende groei­seisoen ook ’n probleem kan wees (indien dit weer ’n nat seisoen is) as gevolg van sklerotia wat die grond verder besmet het. Ongelukkig is daar nie ’n enkele beheermaatreël wat vir Sclerotinia werk nie en dus moet die fokus op ’n geïntegreerde beheersisteem wees.

Weerstand
Tans is daar is nie ’n sonneblomgenotipe wat weerstand teen Sclerotinia het nie, maar daar is wel genotipes wat meer verdraagsaam is. Die Landbounavorsings­raad (LNR) is besig met ’n navorsingstudie wat deur die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) befonds word, wat kultivarreaksies teen Sclerotinia in die Noordwesprovinsie evalueer. Inligting wat hier gegee word, is slegs vir een jaar (2020/2021-groeiseisoen, Grafiek 1) en die proewe word vir ’n tweede (2021/2022) en derde jaar (2022/2023) herhaal. Individuele kultivars is geïnokuleer en die letselgroottes is na ’n maand bepaal. Die meeste kultivars het goed gevaar met vier kultivars waarvan die letselgroottes meer as 3 cm2 was. Kultivar SY3970CL was mees vatbaar vir Sclerotinia-infeksie. Produsente word aangeraai om hulle saadagente te kontak vir inligting rakende kultivars wat aangepas is vir hulle spesifieke omgewing en verdraag­saamheid teenoor Sclerotinia toon.

Grafiek 1: Kultivarreaksies ten opsigte van S. sclerotiorum-inokulasies.

Plantdatum
Indien moontlik, beplan die plantdatum om te verhoed dat blomtyd saamval met nat, koeler weer. In die bogenoemde studie is daar ook na twee plantdatums gekyk waar kultivarreaksies ten opsigte van Sclerotinia vergelyk is (Grafiek 2). Die eerste plant­datum was op 16 Desember 2020, inokulasies in Maart 2021 en siektewaarnemings in April 2021. Die tweede plantdatum was op 21 Januarie 2021, inokulasies in April 2021 en siektewaarnemings in Mei 2021. Die ge­middelde Sclerotinia-letselgrootte van al 30 kultivars is bepaal tydens Maart en April 2021. Alhoewel relatief klein, was Sclerotinia-infeksies hoër tydens die Maart/April-blom­periode in vergelyking met die van die April/Mei-blomperiode. Op die 17de Maart en 29ste Maart was daar onderskeidelik 33 mm en 26 mm reënval, terwyl daar slegs 8 mm reën op die 22ste April geval het. Potchefstroom het 3 mm reën op die 7de Mei ontvang. Data word tans verwerk vir die 2021/2022-seisoen en die resultate sal in ’n volgende artikel bespreek word.

Grafiek 2: Die effek van plantdatum en heersende weersomstandighede tydens blomstadium op verdraagsaamheid teen S. sclerotiorum.

Wisselbou en grondbewerking
Omdat Sclerotinia so ’n wye gasheerreeks het, is dit raadsaam om wisselbou met grasgewasse soos mielies, koring of sorghum toe te pas. Sklerotia kan tot sewe jaar in die grond oorleef en daarom sal ’n grasgewas vir ten minste vyf jaar geplant moet word sodat die sklerotia in die grond voldoende kan verweer. Dit is bekend dat sklerotia wat meer as 2 cm of 3 cm in die grond begrawe is nie apotesia vorm nie (en sodoende nie spore vrystel wat blomme infekteer nie), en daarom sal diep ploeg gekombineer met gewasrotasie Sclerotinia-inokulumvlakke dras­ties verminder. Die grond moet dan nie in die tweede jaar weer diep geploeg word nie, want so kan sklerotia weer na die grond­oppervlak gebring word. In dié geval kan minimumbewerking oorweeg word.

Beheer breëblaaronkruide en opslagsonneblomme
Breëblaaronkruide en opslagplante is uitstekende gashere vir Sclerotinia en moet beheer word.

Swamdoders
’n Goeie swamdoder is noodsaaklik om saailinge te beskerm. Dit is egter moeiliker om swamdoders te gebruik om Sclerotinia-sonneblomkopvrot te beheer. Aan die begin van die artikel is genoem dat die Sclerotinia-spore die sonneblomkop aan die agterkant kan infekteer, maar ook aan die voorkant waar die blommetjies wat besig is om te verwelk, die ideale toegangspunt bied. Heel dikwels verskyn Sclerotinia-simptome eers ’n rukkie nadat infeksie plaasgevind het en dan kan die skade nie omgekeer word nie. Ge­registreerde swamdoders vir die beheer van Sclerotinia op sonneblom is min. Indien ’n swambespuiting beplan word, sal dit voor­komend (eerste bespuiting) en opgevolg met ’n tweede bespuiting moet wees om beheer te verkry. Die sukses van sulke bespuitings is ook beperk omdat die voorkant van die sonneblomkop dikwels nie deur die swamdoder bereik kan word nie.

Biologiese beheer
Daar is verskeie produkte op die mark beskikbaar wat bio­logiese beheer bied teen die sklerotia in die grond. Van die meer suksesvolle produkte bevat die mikoparasitiese swam Coniothyrium minitans. In klam grond met temperature van tussen 12°C en 20°C sal die spore van C. minitans ontkiem waar die miselium dan sklerotia parasiteer. Indien grondtemperature bokant 27°C styg, sal die C. minitans in ’n rusfase gaan. Volgens die produketiket moet die middel voor plant en na oes toegedien word.

Koop gesertifiseerde siektevrye saad
Besmette saad wat teruggehou word, kan veroorsaak dat Sclerotinia soos ’n veldbrand in ’n land versprei. Die sklerotia lyk baie soos sonneblomsaad en kan maklik misgekyk word. Op dié manier keer sklerotia dan terug na die grond tydens plant en so besmet ’n produsent sy land.

Sclerotinia-sonneblomkopvrot is ’n uitda­ging, veral tydens nat seisoene. Die vermoë van die swam om op ’n wye gasheerreeks te oorleef, die lang leeftyd van die sklerotia asook die vrylating van miljoene spore wat die blomme infekteer, maak dit uiters moeilik om die siekte te beheer. Verdere navorsing rakende die beheer van Sclerotinia-sonneblomkopvrot word tans uitgevoer om produsente by te staan. Op plaasvlak is dit belangrik om soveel as moontlik beheermaatreëls te kombineer om die impak van die siekte te verminder.

Vir meer inligting kontak dr Belinda Janse van Rensburg by 018 299 6357 of dr Bradley Flett by 018 299 6362 by die LNR-Graangewasse, Potchefstroom.