Tegnologie in die landbou – waarheen en hoe?

Gepubliseer: 2 Augustus 2022

2001
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Sommige produsente is onder die indruk dat trekker-, implement- en stropertegnologie die alfa en omega is om superwinste te behaal. Dit is ’n feit dat tegnologie, wat presisieboerderypraktyke insluit, winste kan verhoog. Hierdie tegnologie moet egter reg ingespan word. Om te kan werk, moet die hele tegnologiepad reg uitgelê en geïmplementeer word. Hoe lyk hierdie pad en wat is die belangrikste aspekte wat in gedagte gehou moet word?

Vir tegnologie om in die landbou te werk en om die produsent se winsgewendheid te optimeer, moet dit van begin tot einde reg toegepas word. Dit sluit al die volgende aspekte in:

  • bestuur
  • hulpbronne
  • toerusting
  • verbouingspraktyke
  • dataversameling
  • data-ontleding en -verwerking

Tegnologiese verandering
Die produsent is natuurlik die eerste persoon wat moet inkoop in die proses van tegnologiese verandering. Sy ingesteldheid moet wees dat hy die tegnologie vir hom laat werk en hy moet bereid wees om die proses, wat baie dataversameling, -verwerking, -bestudering en -implementering behels, ten volle te implementeer. Alles begin by beplanning: die boerdery se langtermyndoelwitte, die gewasse wat verbou word, die metode van gewasverbouing, die insette wat gebruik word en die bestuur van die finansies. Een aspek is nie belangriker as die ander nie.

Landbou-adviseurs is ’n integrale deel van die span om die besigheid se bestuur te optimaliseer. Hulle moet die besigheid se vooruitgang vooropstel en die produsent se langtermyndoelwitte help bereik. Tot ’n groot mate sal die adviseurs betrokke moet wees by die dataverwerking, beplanning en kontrole van die produksie en besigheid. Die gebruik van plaasdata vir beplanning en aanbe­velings is noodsaaklik.

Plaaswerkers is net so deurslaggewend in hierdie proses. Dit help nie nuwe tegnologie word geïmplementeer, maar die werkers wil dit nie gebruik nie. ’n Trekker met die nuutste tegnologie help niks as die trekkeroperateur dit nie kan gebruik nie.

Begin by kartering
Die vraag is altyd waar om te begin – wat word éérste en lááste aangeskaf? Produ­sente wat dink die tegnologiese proses begin by die aankoop van toerusting, maak ’n groot fout. Tegnologiese vordering begin eerstens by die optimering van fisiese hulpbronne. Hiervoor is die fisiese kartering van die grond ’n vereiste. Dit behels die opstel van potensiaalkaarte asook optimale bewerkingspraktyke betreffende die diepte en tipe bewerking wat op watter grond gedoen moet word.

’n Volledige chemiese ontleding is die volgende stap in die optimering van hulpbronne. In heelwat gevalle is hoëpotensiaalgronde se chemiese ontleding baie swak, terwyl die laerpotensiaalgronde se ontle­dings baie goed is. Een van die groot redes hiervoor is dat eersgenoemde gronde bo die bemestingspeil toegedien produseer, terwyl laasgenoemde selde in die posisie is om goed te produseer. Gewoonlik versuip of verdroog hierdie kolle en sodoende bou die bemestingstowwe hier op.

Die volgende stap in die proses sal die regstelling van die chemie wees. Begin deur die kalk differensieel toe te dien. Dit kan baie duur wees, maar die rendement hierop is gewoonlik oor en oor die moeite werd.

Meet die resultate
Wanneer daar begin word om tegnologie te gebruik, is meting noodsaaklik. Die verandering en aksies toegepas se resultate moet gemeet kan word. Dit beteken dat die oeste wat gestroop word, gekarteer moet word om dit teen die praktyk te vergelyk. Hierdie inligting moet ontleed word en redes vir die afwykings moet gesoek en reggestel word. Die gebruik van satelliet-groeidata is net so belangrik. As die inligting vroeg genoeg beskikbaar is en afwykings word waargeneem, kan dit nog ondersoek en reggestel word. Hier kan landboukundiges ’n groot rol speel. Die spreekwoord “vroeg begin is half gewin” geld hier meer as ooit.

Tydens bemesting moet die potensiaal van die gronde altyd in aanmerking geneem word. Pasop om te dink dat die land se produksie oral presies dieselfde moet wees. Dit is nie realisties nie. Met presisietoerusting kan die potensiaal van elke kol egter behaal en bestuur word. Vir die toekoms kan gedink word om die kultivars wat in ’n land geplant word, te varieer. Plant kultivars wat daarvoor aangepas is op die hoëpotensiaalkolle en ander op die laerpotensiaalkolle.

Optimalisering van toerusting
Produsente moet die regte trekkers en toerusting aankoop en dan hierdie toerusting optimaliseer. Die gebruik van outomatiese stuur op trekkers is al lankal in die bedryf beskikbaar. Hoe beter die tegnologie op die trekker, hoe minder dubbel werk is daar en hoe goedkoper kan die bewerking wees. Die toerusting kan sleg geoptimaliseer word as alle toerusting op die plaas so saamgestel word dat dit dieselfde kaarte kan lees en implementeer. Die plantertrekker behoort toegerus te wees met hoë tegnologie. Alles op die planter moet presies werk en die rye moet so presies wees dat ander implemente en toerusting, soos ’n hoogloopspuit, in die land kan beweeg sonder om die gewas te beskadig.

Trekkermaatskappye is besig met nuwe tegnologie om die effektiwiteit van die trekker te monitor om probleme voortydig op te merk en te herstel voordat daar baie skade is. Trekkers sonder operateurs is reeds ’n werklikheid en produsente sal hulself hiervoor moet gereed maak as hulle wil deel in hierdie tegnologie.

Spoorverkeer is al bewys as ’n goeie stelsel. Hoe beter die trekkers se tegnologie, hoe beter kan die stelsel toegepas word. Die stroper moet ook by hierdie spore aanpas en sodoende sal graanvermorsing tydens stroop geminimaliseer word.

Al die trekkers op die plaas hoef egter nie noodwendig in dieselfde mate met tegnologie toegerus te wees nie. Daar is wel ’n paar trekkers wat baie goed toegerus moet wees. Die plantertrekker moet oor die vermoë beskik om die planter se tegnologie te akkommodeer. Dit behels nie net die krag om die planter te trek nie, maar ook die olievloei vir die plantereenhede asook die tegnologie om die planter te monitor en planterbeheer toe te pas. Met kalk- en kunsmistoedie­ning is dit deurslaggewend dat die trekkers en toerusting in staat is om dit akkuraat te doen. Hoe beter die kaarte en die tegnologie op die trekkers is, hoe meer akkuraat en presies kan die taak verrig word. Dit sal lei tot beter produksie asook hoër opbrengs en wins.

Die trekker wat die primêre bewerking doen, hoef nie naastenby dieselfde tegnologie as die plantertrekker te hê nie. Die spore wat hy maak moet egter presies wees omdat die res van die aksies in sy spore sal loop. Indien produsente trekkers koop volgens die taak wat verrig moet word, kan hulle heelwat geld op meganisasie spaar.

Spuittegnologie het die laaste tyd ingrypend verander. Dit is nou al amper standaardpraktyk dat spuite in staat is om net die ongewensde plante te bespuit. Indien daar op ’n kol nie onkruid is nie, word daar nie onkruiddoder gespuit nie. Weer eens word geld bespaar en winste gemaksimeer.

Stroperkaarte is een van die belangrikste bronne van data as die produsent tegnologie wil inspan. Hierdie is die masjien wat die werk vir die jaar bymekaarmaak en die resultate meet. Dit is noodsaaklik dat hierdie toerusting data fyn monitor en versamel. Produsente versuim soms om die stroper te kalibreer. Die inligting wat die stroper verskaf, moet egter reg wees omdat die besluite vir die volgende seisoene hierop gegrond gaan wees.

Ontleding van data
Kantoorwerk is nie produsente se gunstelingtydverdryf nie en word dikwels uitgestel. Met al die data wat egter versamel is, moet produ­sente of hul landboukundiges dit gaan ontleed en sin maak daaruit. Die ontleding van die data relatief tot die potensiaalkaarte moet gedoen word en as daar afwykings is, moet die redes gesoek word. Onafhanklike adviseurs kan ’n betekenisvolle rol in die verwerking van die data speel.

Onthou net dat alle besluite op die ou end die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid moet verhoog. Hierdie stappe sal tot optimale produksie en winste bydra en sodoende sal die langtermynvolhoubaarheid van die boerdery verhoog word.

Tegnologie kos geld. As daar nie fondse is nie, begin deur die grond fisies en chemies te karteer. Maak gebruik van kontrakteurs om die chemiese regstellings te doen. Begin dan die lande differensieel te bestuur. Bestuur dus die een land vir hoë produksie en die volgende vir laer produksie, met goedkoper saad en minder bemesting – natuurlik volgens potensiaal. Hierdie besluit sal help om geld bymekaar te kry om die plantertegnologie te bekom om presisieboerderypraktyke volledig toe te pas. Dit is nie wys om in die skuld gedompel te word om beter tegnologie te bekom nie. Gebruik die wins en belê dit weer terug in die boerdery.

Kontak Pietman Botha vir navrae by 082 759 2991.

Trekkers sonder operateurs word reeds op plase wêreldwyd ingespan.