Jou trots ons passie

Gepubliseer: 2 Augustus 2022

765

Die belangrikheid van hoëkwaliteitprodukformulasies
Swak geformuleerde produkte kan verskeie negatiewe effekte vir ’n boer inhou. Dit sluit in ’n toename in stof en die afskawing van die aktiewe bestanddele van die saadbehandeling sowel as swak biologiese doeltreffendheid in die land en ’n toename in die skade wat deur peste en siektes aangerig word. Dit kan gevolglik lei tot ’n verlies aan opbrengs en inkomste. Die korrekte hoëkwaliteit-produkte kan ’n beduidende invloed op die kwantiteit en kwaliteit van jou opbrengs hê.

Hoe beïnvloed die toename in stof en afskawing die boer negatief?
Wanneer ons kyk na stof en die afskawing van die aktiewe bestanddele van die saadbehandeling, moet twee hoofimpakte in ag geneem word. Eerstens het die verlies van produk op die saad tot gevolg dat daar minder aktiewe bestanddele beskikbaar is vir die ontkiemende saad om op te neem. Dit lei tot ’n laer vlak van pes- en siektebeheer. Die verlies van produk op die saad kan gesien word as ’n vorm van onderdosering en kan lei tot ’n verlies aan opbrengs en inkomste vir die boer sowel as ’n verhoogde moontlikheid vir pes- en siekteweerstand. Die tweede impak wat in ag geneem moet word, is die toename in die blootstelling wat die operateur aan aktiewe bestanddele kry, sowel as die kans vir omgewingsbesoedeling wat geassosieer word met hoër stofvlakke. ’n Goed-geformuleerde produk met minimale stof en afskawing het ’n hoër effektiwiteit en is veiliger vir mense en die omgewing.

Waaruit bestaan goedgeformuleerde produkte?
Agrochemiese produkte bestaan nie alleenlik uit aktiewe bestanddele nie. Dit bevat ook bymiddels wat bystand bied met ’n groot aantal belangrike prosesse. Eerstens verseker dit dat die aktiewe bestanddele in suspensie bly. Dit verseker ook konstante vloei en verbeter die bedekking van die saad met die aktiewe bestanddeel. Laastens verbeter bymiddels ook die effektiwiteit van die aktiewe bestanddele deur beter opname en absorpsie deur die plant te bewerkstellig. Swak geformuleerde produkte sluit dikwels bymiddels van lae kwaliteit in as ’n manier om die vervaardigingskoste van die produk te verlaag.

Die koste van goedkoper formulasies van laer kwaliteit kan baie hoog wees vir boere. Deur hoëkwaliteitformulasies aan te koop, verseker jy dat jy die volle waarde uit jou produk kry, wat lei tot hoër opbrengste met ’n beter kwaliteit.

Partikelgrootte van aktiewe bestanddele
Wanneer die aktiewe bestanddele van ’n agrochemiese produk geproduseer word, vorm dit verskillende partikelgroottes. Die proses om al die partikels ’n uniforme grootte te maak, is baie duur en word deur sommige vervaardigers vermy om koste te bespaar. Groter partikels van aktiewe bestanddele kan stof en afskawing drasties vermeerder en die biologiese aktiwiteit in die teikengewas grotendeels laat afneem. Die ontkiemende saad en die jong saailinge kan nie die groter partikels absorbeer nie, wat tot ’n laer vlak van pes- en siektebeheer lei. Dit kan gevolglik die opbrengs en kwaliteit van die oes negatief beïnvloed. Die klein partikels van uniforme grootte in goed-geformuleerde produkte verseker egter optimale biologiese aktiwiteit en siektebeheer.

Vir meer inligting: kontak jou naaste Bayer-verteenwoordiger.

www.cropscience.bayer.co.za /// Tel: +27 11 921 5002