Wat is die verskil wat hommeltuigtegnologie in gewasbespuiting maak – of nie maak nie? Internasionaal en plaaslik bevestig navorsing en ervaring dat die verfyning van hommeltuie vir doelgemaakte aanwending op die plaas, boerdery meer doeltreffend maak.
Teen 2050 sal daar na raming sowat 9,9 miljard mense op aarde wees. Optimale presisieboerderytegnologie is noodsaaklik om voedselproduksie te laat tred hou. Boonop raak die stryd om beskikbare bewerkbare grond daagliks feller.
In 2016 het ’n PricewaterhouseCoopers-opname bevestig dat die gebruik van hommeltuie in gewasproduksie plantkoste met tot 85% besnoei het, terwyl opbrengste per hektaar – weens presisie – met soveel as 75% toegeneem het.
Buiten vir meetbare bydraes tot hulpbron- en omgewingsbewaring is verhoogde opbrengste en mediumtermynkostebesparing met hommeltuie in die landbou reeds ’n werklikheid. Rolspelers is dit eens dat die vierde industriële rewolusie ’n tegnologiese werklikheid is wat boerdery vernuwe.
Wêreldwyd word verwag dat hommeltuigtegnologie toenemend ’n hoër impak sal hê. Ontwerpers, vervaardigers en insetondernemings maak vordering met grootskaalse beleggings in die ontwikkeling van landbouspesifieke hommeltuie.
In die aanlyn koerant, Daily Maverick, berig Teá Bell dat beleggings in die kunsmatige-intelligensiemark in die landbou tans ongekende groei beleef, met ’n verwagte saamgestelde groei van 25,4% oor die volgende vier na vyf jaar.
Graanbedryf omhels tegnologie
In ’n landbousektor wat meer as 5% tot die bruto binnelandse produk (BBP) bydra en wat jaar tot jaar ’n groei van 13,1% toon, is die somer- en wintergraanbedrywe direkte en indirekte verskaffers van kos aan verbruikers en van werk aan miljoene ongeskoolde mense.
Seisoen na seisoen word gesonde toenames in opbrengste per hektaar gesien. Die rol van verbeterde landboupraktyke, optimale prestasie in wisselende klimaatstoestande, aangepaste kultivars, bewaringslandbou asook tegnologie moet hierin raakgesien word.
Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, het die waarde van plaaslike landbou sedert 1994 meer as verdubbel. Dit word moontlik gemaak deur nuwe kultivars en die gebruik van presisiehulpmiddels, soos hommeltuie.
Tog is daar heelwat plek vir verbetering. “Tans blyk dit dat veels te veel water vir gewasbesproeiing gebruik word, en te veel oortollige chemiese oplossings word in die grond opgeneem. Saam met klimaatsverandering en onvoorspelbare weerpatrone, plaas dit toenemende druk op kostedoeltreffende volhoubaarheid,” meen Bell.
Spesialistaak
Kundiges sê hommeltuie en presisieboerderytegnologie sal as bestuurs- en plaastaakhulpmiddels gewasprodusente se seisoenbeplanning verbeter. Volgens Pieter Boshoff van Clarens Chemical Industry in die Oos-Vrystaat, is dit nie uit die staanspoor vanselfsprekend dat hommeltuigbespuiting op lande in alle omstandighede meer kostedoeltreffend sal wees nie.
“Dit is kernbelangrik om deeglike kartering te doen van elke hommeltuigbespuiting. Ons doen die korrekte, voorgeskrewe vermenging van die chemikalieë in die hommeltuigtenk. Optimale akkuraatheid, minimale vermorsing en veilige spuitvlugte verseker presisietoediening.”
Volgens Boshoff vra hulle sowat R250/ha. Wanneer die produsent self bespuit, word die arbeids- en brandstofkoste hierteenoor op sowat R100/ha verreken. ’n Geïntegreerde diens aan die produsent sluit die hommeltuigbespuiting en -kartering in. Die diens word deur die voorsiening van landbouchemiese middels, blaarvoedings en ander groeistimuleerders ondersteun. Produsente word verder bygestaan met saadbehandelings en raadgewende dienste.
Volgens Tim Wise, ’n stigterslid van PACSys Precision Agricultural Systems wat in 2016 gestig is, beloop hommeltuigbespuiting op graan nagenoeg R250/ha. “Daar is egter talle veranderlikes wat die kwotasies van plaas tot plaas laat verskil. Dit sluit landgroottes, die lengte van die seisoen en die geskiedenis van vorige besigheid met kliënte in.”
Vir hommeltuigbespuiting op graan bring Boshoff se span ’n 650 ℓ-mengkar, twee hommeltuie en ’n 32 kVA-kragopwekker plaas toe. Die produsent voorsien die chemikalieë. In een dag met gunstige weerstoestande kan hulle tans sowat 80 ha bespuit (10 ha/uur). Die bespuitingshommeltuie word deur Wise se PACSys vervaardig. Hulle verskaf ook opleiding.
Boshoff sê die hommeltuie se batterye moet na elke 1 000 batterylaaisiklusse vervang word. “Ons verreken arbeid, kundigheid en die brandstof vir die vervoer van ons hommeltuie en personeel. Op die plaas is ons gelisensieerde vlieënier ten volle verantwoordelik vir die hantering van operasionele bespuitingstake.”
Gespesialiseerd
Deur presisietegnologie, wat kartering en sensorkameras insluit, word data oor topografie, plantdigtheid, grondgesondheid en lewende hawe deur onbemande hommeltuie, wat oor landerye en vee- en voerkrale vlieg, versamel.
Hommeltuigdienste vir ’n besigheid, soos boerdery, vereis dat operateurs ’n korporatiewe RPAS-operateursertifikaat (ROC) by die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid bekom. Daar is vyf fases van lisensiëring. “Dit is ’n omslagtige proses, wat redelik duur is,” sê Boshoff.
“Onthou, die hommeltuig moet baie naby aan die gewas wat bespuit word, verbyvlieg. Dus word windgedrewe surpluschemikalieë baie beter beperk as wanneer hoogloopspuite of ’n vastevlerkvliegtuig gebruik word. Dit beperk besoedeling. Wanneer alles in plek is en die leerkurwe redelik deurtrap is, verloop hommeltuigbespuiting ook vinniger as konvensionele metodes.”
Boshoff se span gebruik aangepaste hommeltuie wat tans ’n 30 ℓ-tenk het, maar
binnekort met ’n 40 ℓ-tenk sal spog. “Ons besigheid tel jaarliks van September af op. Tussen Desember en Maart is ons baie besig in die streek wat Bethlehem, Fouriesburg, Harrismith, Reitz, Senekal en Arlington insluit,” sê hy en sy vrou, Mara, wat omsien na die finansiële bestuur.
Belangrike oorwegings
Die keuse tussen konvensionele en hommeltuiggraanbespuiting word makliker wanneer die hoogte en stadium van plant, wind, droogte- en nat toestande en aangrensende lande/gewasse oorweeg word.
“As die gewas te hoog is vir ’n trekker om in die ry te beweeg sonder plantbeskadiging, of as dit te nat, te glad of te riskant is vir ’n trekker om in te kom, is dit beter om van ’n vliegtuig of hommeltuig gebruik te maak,” beaam Boshoff.
“Wanneer die wind egter waai en toestande vir die toediening van chemie ongunstig is, is dit eerder beter om ’n trekker of hoogloopspuit te gebruik.”
Waar daar aangrensende gewasse is wat deur chemietoediening beskadig kan word, is die hommeltuigspuitopsie beter omdat windgedrewe surplus- chemiese druppels minder is as wanneer ’n hoogloopspuit of ’n vliegtuig gebruik word.
Deel van die plan en span
Bell sê die ontleding van hommeltuigopnames is uiters belangrike aanbevelings vir die produsent. “Doeltreffende lewendehawebestuur, die kartering van gewasaanplantings asook die identifisering en bestuur van gewasbedreigings tel vir seker in die guns van hommeltuie se gebruik in die landbou,” sê sy.
“Ons moet hulpbronne bewaar, koste verminder en opbrengste verhoog deur presisie-oplossings. Ons wil nie koste, besoedeling en ander omgewingsrisiko’s vergroot deur insek-, swam- of onkruiddoders in ’n volle land te spuit as elke gewas of blok individueel beter hanteer kan word nie.”
Die hooftegnologiebeampte van Aerobotics in Kaapstad, Benji Meltzer, sê die kopskuif is groot, maar nie moeilik nie. “Dink net aan die behandeling van ’n enkele gewas of blok se behoefte of simptome, voorkomend of reaktief, voordat alles wat aangeplant is summier dieselfde behandel word.” Meltzer en sy vennoot, James Patterson, gebruik sedert 2014 presisielandboudata-ontledings om optimale plantgesondheid proaktief te bestuur, aldus Bell.
Die somme
Die landbousektor gebruik hommeltuie om inset- en risikokoste te bespaar. Of dit nou vir produksietake, soos bespuiting, of vir bestuursmonitering en -ontleding van data is, bly optimale kostedoeltreffendheid die sleutel.
Volgens Bell het die Moskou-Timiryazev-landbou-akademie in Rusland hommeltuie benut om die gesondheid van koring te moniteer – sodoende kon produsente stikstofkunsmis toedien met ’n 20%-besparing vir spesifiek geïdentifiseerde gewasse.
Wise sê die koste van die nuutste DJI Agras T30-graanspuithommeltuig, wat sowat 10 ha/uur kan baasraak, is vergelykbaar met ander hedendaagse lugbespuitingskoste. “Weens verbeterde tegnologie sal bedryfskoste toenemend minder word.”
Sou produsente in tegnologie van dié aard belê, word volledige opleiding, die hommeltuig en die batterye vir volhoubare bespuiting (deur die herlaai daarvan op ’n mobiele kragopwekker wat uitgesluit is) aangebied. So ’n pakket sal sowat R350 000 kos.
Sonder dat die prys noodwendig hoër word, verbeter hommeltuigspuite se doeltreffendheid met elke nuwe model – nagenoeg elke twaalf maande – met tussen 30% en 50%. “Ons hoor dat die nuwe Agras T40, wat later vanjaar vrygestel word, 15 ha/uur kan bespuit indien dit gestel word teen 30 ℓ/ha. Dit is ongelooflik opwindend vir produsente, maar kan ongemaklik raak vir hommeltuigspuitkontrakteurs wat later elke jaar tot 18 maande nuwe toerusting sal moet oorweeg,” sê Wise.
Toekomsgedagtes
Bedryfspesialiste is dit eens dat produsente selektief, maar toenemend self, hommeltuigeienaars en gelisensieerde vlieëniers sal word. Daarvoor is formele en geakkrediteerde opleiding nodig. Met Wise se span wat in KwaZulu-Natal tot stand gekom het en grootliks op hoëhelling-suikerrietplantasies fokus, is opleiding aan produsente as operateurs uiters belangrik.
“Die hommeltuie is hoogs geoutomatiseer. Dit is egter vir seker nie jou gewone druk-en-vlieg-stokperdjiehommeltuie nie. Ons verseker veilige en kostedoeltreffende gebruik. Kliënte word geleer om alle omgewingsfaktore in ag te neem wanneer optimale beplanning vir bespuiting gedoen word. Dit sluit weerstoestande, landskapstopografie, sensitiewe aanliggende ekosisteme en menslike nedersettings in.”
Ná elke aankoop bly opleiers beskikbaar vir professionele steun aan produsente. Hulle is geregistreerde pesbeheeroperateurs vir lugtoediening. Op kleiner en groter plase met platter of meer heuwelagtige landskappe is spuitervaring uiters noodsaaklik. “In KwaZulu-Natal met styl hellings, klein en onreëlmatige landerye en sterk kuswinde is hommeltuighantering vir bespuiting ’n fyn wetenskap,” sê Wise.
Lugbeheerregulering
Hommeltuigveiligheid word deur plaaslike beheersentrums, soos die BBS (Bethlehem Beheersentrum) in Boshoff se geval, gereguleer. “Elke hommeltuigbespuiting of -vlug word aangemeld. Om ongelukke te voorkom, is dit belangrik om vooraf kartering vir elke bespuiting so noukeurig moontlik te doen. Vlieëniers moet ook maar probeer om van kragdrade weg te bly,” sê hy.
Boshoff stel voor dat produsente wat hommeltuigbespuiting oorweeg soveel moontlik inligting bymekaarmaak. “Kontak dan ’n maatskappy wat hommeltuigbespuitings doen en neem die proses van daar af. Of dit onkruid-, swam- of insekbespuiting op gewasse soos sojabone, droëbone, mielies, sonneblom, koring, kanola, hawer of ander weidingsgewasse is, kostedoeltreffendheid en veiligheid word altyd eerste gestel.”
Sihlobo meen dat die gebruik van hommeltuie in die landbou oor die volgende dekade baie sal toeneem. “Na verwagting sal toenemende beleggings in presisietegnologie tot meer landbouhommeltuie lei. Dit kan die koste van hommeltuie verminder en die tegnologie meer toeganklik maak vir alle boere.”