Vanjaar se brandstofpryse maak die bewerking van lande besonder duur. Dis nie meer ’n grap om brandstof te bestel nie – dit weet ons almal. Enige enjin wat loop, kos geld en om dit onnodig te laat loop, is nie wys nie.
Teen ’n dieselprys van ongeveer R26/ℓ en die verwagting dat dit verder sal styg, is die brandstofrekening iets wat versigtig bestuur moet word. Om doeltreffendheid te verhoog, is dit belangrik om te weet hoeveel brandstof ’n trekker gebruik om ’n sekere aksie uit te voer en hoeveel begroot moet word om die trekker in stand te hou.
Hierdie plaasinligting is nie algemeen beskikbaar nie omdat die grondtipe, die diepte van bewerking, die operateur asook die toestand van die trekker dit beïnvloed. As produsente hul trekkers se brandstofverbruik kontroleer, kan heelwat koste bespaar word. In hierdie artikel word die koste van verskillende bewerkingsaksies weergegee.
Om die koste van ’n bewerkingsaksie te bereken, moet die kostestruktuur daarvan eers verstaan word. Twee tipes koste is ter sprake, naamlik vaste en veranderlike koste. Vaste koste dui op die besit van ’n masjien en kom voor ongeag of die masjien werk of nie.
Die veranderlike koste van masjinerie spruit uit die gebruik daarvan. Dit bestaan gewoonlik uit brandstofkoste asook herstel- en onderhoudskoste wat direk met die gebruik van die masjien korreleer.
Veranderlike koste
Veranderlike koste word saamgestel uit die herstel en onderhoud asook die brandstofkoste van ’n masjien. Dit is uiters moeilik om hierdie koste te voorspel omdat daar soveel faktore is wat die veranderlike koste beïnvloed. Die vaardigheid van die operateur, die werktoestande, onderhoud en baie meer beïnvloed die werkverrigting en herstelwerk van ’n trekker.
Om die herstelwerk van ’n masjien te voorspel, is ’n ingewikkelde proses. Hoe meer werk die trekker verrig, hoe hoër gaan die herstelkoste wees. Ons weet egter ook dat indien ’n trekker te min werk, breek hy sommer in die stoor. ’n Nuwe trekker sal nie noodwendig soveel herstelwerk as ’n ou trekker benodig nie, maar benodig steeds instandhouding. Tog blyk dit dat herstelwerk aan ouer trekkers toeneem tot op ’n punt en dan afplat. Die gebruik van ’n gemiddelde herstelwerkkoste per uur vir die trekker los in ’n mate die probleem op. Tans word ’n norm aanvaar waar die herstelwerk oor die trekker se lewe bepaal word op 120% van die aankoopprys van die trekker gedeel deur sy gebruik per uur. In Tabel 1 en Tabel 2 word hierdie norme gebruik.
Die herstelwerk van implemente word beïnvloed deur die tipe implement, die werk wat verrig word en die slytasie. Implementherstelwerk word net soos dié van trekkers ook as ’n persentasie van aankoopprys oor die lewensverwagting van die implement bereken. In Tabel 1 en Tabel 2 word hierdie norme aangetoon.
Die berekening van brandstofkoste is heelwat meer ingewikkeld as die van herstelwerk. Aspekte soos die brandstofprys, drywingsvereiste, die ℓ/kW/uur en die persentasie kilowatt gebruik speel ’n belangrike rol in die brandstofkoste. Ander aspekte soos die trekkeroperateur en die grondtoestand speel ook ’n beduidende rol in ’n trekker se brandstofverbruik.
Oor die algemeen maak die meeste publikasies voorsiening vir hoë, medium- en lae drywingsvereistes. Hoë drywingsvereistes word gewoonlik gebruik as die trekker baie swaar werk doen en 60% of meer van die trekkerkilowatt benodig word. Ploeg sal byvoorbeeld hoë drywing vereis. ’n Lae drywingsvereiste sal gebruik word waar ’n trekker spuitwerk doen en waar die gewig van die trekker eerder as die kilowatt ’n rol speel. Vir die berekening van lae drywingsvereistes word tot 35% van die trekkerkilowatt benodig. By mediumdrywingsvereistes word tussen 35% en 60% van die kilowatt benodig. Gewoonlik word die brandstofverbruik van ’n trekker uitgedruk as tussen 0,3 ℓ en 0,4 ℓ/kW/uur.
Vaste koste
Vaste koste kan verdeel word in ’n niekontant- en kontantuitgawe gedeelte. Hierdie niekontantuitgawes sluit aspekte soos waardevermindering en rente op kapitaalbelegging in. Die rente op kapitaal word bepaal om die geleentheidskoste van die masjien aan te dui. Die kontantuitgawes van die vaste koste bestaan gewoonlik uit versekering en lisensiegelde.
Waardevermindering kom altyd voor en verwys na die verlies of afname in ’n masjien se waarde oor tyd. Die reglynige metode word algemeen gebruik om waardevermindering te bereken. Hierdie metode sorg dat waardevermindering in gelyke gedeeltes oor tyd afgeskryf word en weerspieël beter wat met ’n masjien gebeur. Om die waardevermindering van masjinerie as koste per uur te bepaal, word die aankoopkoste minus die skrootwaarde van die masjien gedeel deur die lewensverwagting van die masjien. Die gemiddelde lewensverwagting van trekkers word gewoonlik as 12 000 uur aanvaar en die skrootwaarde van trekkers word op 10% van die koopprys aanvaar.
Waardevermindering by implemente word op presies dieselfde wyse as by trekkers bepaal. Die enigste verskil is dat die lewensverwagting van die implemente verskil. In Tabel 1 en Tabel 2 word die verskillende implemente se lewensverwagtinge aangedui.
Om die rentekoste te bereken, word die gemiddelde kapitaalbelegging (aankoopprys plus skrootwaarde gedeel deur twee) vermenigvuldig met die rentekoers wat op ’n mediumtermynbelegging verdien kan word. Hierdie bedrag word deur die gemiddelde jaarlikse gebruik van die masjien – wat op 1 000 uur aanvaar word – gedeel om die koste per uur te bepaal.
Die lisensie- en versekeringskoste van masjinerie is ’n kontantkoste waar die ouderdom van die masjien ’n rol speel. Daar is verskeie maniere om lisensie- en versekeringskoste te bepaal, maar daar word algemeen aanvaar dat 1,75% van die gemiddelde kapitaalbelegging die algemeenste koste is.
Koste per aksie
Wanneer die koste per aksie bereken word, word beide die trekker en die implement se koste bymekaar getel. Die trekker en die implement het albei vaste en veranderlike koste. Indien die koste nie saamgetel word nie, kan dit tot onderskatting van koste lei. In Tabel 1 en Tabel 2 word ’n volledige voorbeeld gegee.
Koste per hektaar
Om die koste per uur om te skakel na koste per hektaar is dit belangrik om te weet hoeveel hektaar per uur bewerk word. Die hektare bewerk per uur word bepaal deur die werkspoed van die trekker, die werkwydte van die implement en die land. Die bewerkbaarheid van die land sal bepaal word deur die hoeveelheid kere wat die trekker moet draai, stop en wag en hoe ver die trekker op die wenakker moet ry. Hoe minder die trekker moet draai, hoe korter is die tyd wat die trekker wag. Hoe minder daar op die wenakker gery word, hoe hoër sal die doeltreffendheid van die trekker wees.
Vir die omskakeling van koste per uur na koste per hektaar kan die volgende eenvoudige formule gebruik word:
(R/uur) ÷ (ha/uur) = R/ha
Om die brandstof per hektaar te bereken, kan die volgende formule gebruik word:
(ℓ/uur) ÷ (ha/uur) = ℓ/ha
In Tabel 1 en Tabel 2 word die koste vir 77 kW- en 250 kW- vierwielaangedrewe trekkers met verskillende implemente aangetoon.
Tabel 1 is opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs en die Meganisasiegids en aangepas na 2022 se gemiddelde nuwe pryse. In Tabel 1 word aangetoon dat ’n 77 kW-trekker 14,91 ℓ diesel gebruik om ’n hektaar te ploeg. Dieselfde 77 kW-trekker behoort 7,13 ℓ diesel te gebruik om een hektaar met ’n sesry-no-till-planter te plant. Die totale koste om ’n hektaar te bewerk, behoort R349,83 te beloop.
Tabel 2 is ook opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs asook die Meganisasiegids en die syfers aan te pas na gemiddelde nuwetrekker- en implementpryse.
Verskeie instansies publiseer jaarliks meganisasiegidse. Landboubesighede soos NWK, Senwes, GWK en VKB asook privaat persone wat kostegidse publiseer, behoort te kan help met meganisasiekoste. Vir enige verdere navrae, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.