Hoë insetpryse – wees voorbereid en bestuur dit self

Gepubliseer: 4 Julie 2022

640
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Produsente in die somersaaigebied het oor die algemeen die laaste paar jaar goeie landboutoestande beleef. Daar was ongelukkig areas waar dit nie die geval was nie, met sommige produsente wat droogtes beleef het, terwyl ander hul oeste weer weens te nat toestande verloor het. Vanjaar het plantsiektes ook ’n beduidende rol gespeel om verwagte inkomste op die plaas betekenisvol te verminder.

Gegewe uiters hoë produksiekoste ondervind van hierdie produsente ernstige finansiële probleme. Die eerste vraag moet wees wat hierdie probleme werklik veroorsaak het. Die tweede vraag is hoe omvangryk die probleem is en laastens wat hieraan gedoen kan word.

Dit is nie lekker om dié vrae te moet beantwoord nie, maar dit is noodsaaklik. Dit help nie om voort te gaan in ’n bedryf as dit nie die verwagte resultate lewer nie. Dit is belangrik om eerstens die sleuteloorsaak van die probleem te soek. As ander produsente in ’n streek dit kan maak, wat doen hulle anders? Is dit nie dalk tyd vir verandering nie? Is dit nog enigsins moontlik om te verander?

Ontleed die boerdery
Gegewe hierdie era en tegnologie is daar steeds vele produsente wat maar raai wat die potensiaal van hulle lande is. Of nog erger – wat vergeet dat grondvorm en reënval die grootste bepalers van opbrengste is met die gevolg dat oor- of ondergespandeer word. Hierdie is een van die belangrikste vernietigers van welvaart.

Baie produsente oorskat hulle finansiële posisie, wat daartoe lei dat te min geld beskikbaar is om optimaal binne die produksiestelsel te produseer. Verder word die verkeerde benadering tot produksie gevolg.

As alle data nie geïnkorporeer word nie, kan ernstige foute maklik gemaak word. Laepotensiaalgronde het die vermoë om ’n produsent totaal onkant te vang. As alles reg loop, is die opbrengs uiters goed, maar gewoonlik laat die potensiaal hulle in die steek. Weet waar is die hoë-, medium- en laepotensiaalgronde en bestuur hierdie gronde om hul winste te optimaliseer.

Voor die belastingjaar afsluit – gewoonlik in Februarie – moet produsente bepaal of daar in die finansiële jaar ’n wins gemaak is en of daar in die komende jaar ’n wins verwag word. As daar wins is, moet produsente besluit hoe dit bestuur gaan word. Indien nie, moet bepaal word hoe groot die verlies is en wat die impak op die boerdery gaan wees.

Wanneer ’n verlies verwag word en die komende oes ook aan die lae kant is, moet ernstige besluite geneem word. Gaan sit en bepaal die vernaamste verhoudings, naamlik solvabiliteit en likiditeit, en vergelyk dit met vorige jare en die gemiddeld van die boerdery oor tyd.

Ontleed die skuldprobleem asook die oorsake
Enige aksie het ’n reaksie – dit geld ook vir die besigheid se finansies. Indien die probleme geïdentifiseer is, moet die oorsaak gesoek en reggestel word. As die winsgewendheid van die besigheid al ’n ge­ruime tyd onder druk is, is die eenheid dalk te klein. Andersins moet daar ’n produksieprobleem wees. Die fisiese hulpbronne kan ook die oorsaak wees: Dalk is die potensiaal net nie daar om die gewasse winsgewend te verbou nie. Ontleed die winsgewendheid van die verskillende bedryfstakke, insluitend vaste koste, en vergelyk dit met ander rolspelers in die bedryf. Hierdie ontleding sal ook aandui wat vir die spesifieke boerdery moontlik is en hoeveel skuld betaal kan word.

In enige bedryf is daar altyd sekere norme – reeds direk na die oes is daar norme waaraan voldoen moet word. Een van die eerste aanduiders van probleme is die skuldlasverhoudings. Tabel 1 gee ’n aanduiding van wat die maksimum skuldlas van verskillende tipes boerderye behoort te wees. Hierdie is egter net norme en dit moet altyd saam met rentabiliteit, likiditeit en terugbetaalvermoë gesien word. Waar ’n gedetailleerde begroting jaarliks opgestel is, vergelyk die resultate gerealiseer met die begroting en soek antwoorde vir die afwykings. Stel vas hoekom produksie nie met die grondpotensiaal korrespondeer nie en hoe dit reggestel kan word. ’n Ooroptimis­tiese begroting kan ook ’n probleem wees. Dis noodsaaklik om te bepaal waar wel gespaar kan word en waar verkieslik nie gespaar moet word nie.

Praktiese stappe om te volg
Doeltreffendheid en effektiwiteit
Produsente spook dikwels so om alles gedoen te kry dat hierdie aspek agterweë bly. Maak seker dat die regte dinge reg gedoen word. Dit help byvoorbeeld nie die plantproses word afgejaag, maar die planter plant nie reg nie. Kontrole is van uiterste belang. ’n Land móét die regte hoeveelheid kunsmis of onkruiddoder kry anders is probleme en oesverlies die voorland.

Grondpotensiaal
Dit is noodsaaklik om die potensiaal van die grond en lande reg te bepaal en te erken. Dit help nie die potensiaalkaart wys dit is ’n drietonland, maar die produsent bly glo dit het ’n agttonpotensiaal nie. Indien die grond nie fisies gekarteer is nie, kan die land se opbrengsgeskiedenis of stroperdata oor tyd gebruik word. As daar egter niks van hierdie inligting beskikbaar is nie, kan die produsent sy kennis oor die beter kolle in die lande gebruik en bemesting daarvolgens aanpas.

Dit is wel noodsaaklik dat stropers akkuraat gekalibreer word vóór stroop, en dat die rou stroperdata verwerk word om ’n akkurate verteenwoordiging van die opbrengs te skep waarvolgens besluite geneem kan word.

Grondontledings
Akkurate grondontledings kan help om die raaiwerk uit ’n bemestingsprogram te haal – dit is die laaste plek waar gesny moet word. Indien daar nie in die laaste twee jaar ontle­dings gedoen is nie, is dit nou die jaar om dit te doen! Ontledings kan op een-, twee- of vierhektaarruite gedoen word. Kalk en kunsmis kan dan variërend toegedien word mits die toerusting beskikbaar is. Enkel- of verteenwoordigende grondmonsters kan geneem word waar presisietoerusting nie beskikbaar is nie – gebruik stroperdata om te besluit waar om die monsterpunte te plaas.

Bemesting
Waak daarteen om te veel aan die kunsmisbegroting te sny. Dit is nou meer nodig as ooit om seker te maak dat bemesting so effektief moontlik bestuur word.

  • Maak seker dat stikstofbemesting volgens potensiaal geskied: Hier word grondkartering en stroperdata gebruik om opbrengspeile per hektaar of per land vas te stel.
  • Verseker dat die stikstofprodukte, plasing van die produkte en tydperk van toediening so effektief moontlik geskied – konsulteer met kundiges.
  • Fosfaat (P) en kalium (K) kan variërend toegedien word om ’n besparing te verkry deur die grondkonsentrasies van hierdie elemente en die potensiaal van die grond in ag te neem. Daar is dikwels areas in ’n land met hoë P- en K-waardes waar bespaar kan word.
  • Moet nie van swaelbemesting vergeet nie, veral nie op sojaboonlande wat lae of geen bemesting gaan kry nie. Swael loog maklik uit die grond en is van kardinale belang in gewasproduksie.
  • Waak teen onnodige spesialiteitsprodukte wat nie ’n gewaarborgde resultaat gaan lewer nie.
  • Gebruik blaarontledings om te verifieer of enige addisionele toe­dienings of bespuitings gedoen moet word.
  • Mikro-elemente is van deurslaggewende belang en moet spesifiek volgens behoefte toegedien word.
  • Waar moontlik kan hoender- of beesmis gebruik word om bemes­ting aan te vul, maar dit is ongelukkig ook ’n beperkte bron. Elke bron moet afsonderlik ontleed word om akkurate besluite met toedienings te neem.

Fokus op bekalking
Alhoewel kunsmispryse in die laaste twee jaar die hoogte ingeskiet het, het kalk nie noodwendig dieselfde trajek gevolg nie. Effektiewe bekalking en die inwerking daarvan moet geprioritiseer word om sodoende die effektiwiteit van kunsmis te verseker. Kyk gerus na Tabel 2 om die duidelike effek waar te neem wat grond-pH-waardes op bemesting gaan hê.

Alhoewel grond-pH-waardes ’n merkwaardige effek op produksie kan hê, moet alle aspekte van bekalking reg gedoen word.

Bekalking verskaf ook die volgende voordele:

  • Kalsium en magnesium wat belangrik is vir plantvoeding.
  • Deurlugting van grond wat veral nodig is na die versuiptoestande wat geheers het.
  • Verbetering van grondstruktuur.
  • Verhoogde waterinfiltrasie.
  • Verbeterde wortelontwikkeling en -penetrasie.

Produsente moet onthou dat die inwerking van kalk net so belang­rik is as die toediening daarvan.

Bewerking
Brandstof is duur, so doen die nodige bewerking reg. Primêre bewer­king moet volgens die grond se behoefte gedoen word. As diep bewerking nodig is, doen dit, maar as ’n vlakker bewerking die nodige resultaat gaan hê, volstaan daarby. Bepaal vooraf die bewerking wat gedoen moet word en hoe dit moet gebeur. ’n Kundige se raad kan hier ingeroep word.

Optimaliseer die boerdery
Elke besigheid het areas waar die effektiwiteit en doeltreffendheid verhoog kan word. Bepaal die boerdery se beperkings en bestuur dit. Indien finansies die beperking is, moet die rentabiliteit van elke vertakking bereken word. Die vertakking met die hoogste rentabiliteit moet verbou word tot ander beperkinge die produksie stop of tot die fondse beperkend raak. Indien daar ’n oppervlaktebeperking in die boerdery is, moet die vertakking met die hoogste bruto marge per hektaar verbou word tot óf al die lande beplant is óf tot ander beperkinge produksie stop. Onthou net om die risiko van elke vertakking in aanmerking te neem.

Rig navrae aan Pietman Botha by 082 759 2991.