Beste praktyk vir toedien van landboukalk op suurgronde

Gepubliseer: 4 Julie 2022

1689
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Met die hoë insetkoste van graan moet produsente baie aandag aan doeltreffendheid en effektiwiteit gee. Die bekalkingsproses word nie hiervan uitgesluit nie.

Die effektiwiteit van landboukalk word in ’n groot mate deur die volgende faktore bepaal:

  • Suiwerheid.
  • Fynheid (kalk moet so fyn as moontlik wees).
  • Korrekte uitstrooi en deeglike vermenging met die grond.
  • Nat grond help die werking aan.

Al hierdie vereistes is belangrik om grondsuurheid teen te werk. Die derde punt is egter van deurslaggewende belang, aangesien landboukalk glad nie of baie min self in die grond kan beweeg. Dit maak nie saak hoe fyn of suiwer die kalk of hoe nat die grond is nie, dit kan nie in die grond beweeg nie. Dit bly waar dit geplaas word met toediening en bewerking. Om grondsuurheid teen te werk, móét die kalk fisies met die gronddeeltjies in kontak kom.

Dis van uiterste belang om die regte hoeveelheid kalk per hektaar toe te dien. Eerstens moet dit reg bereken word en die kalkbehoefte moet omskep word na ton per hektaar landboukalk. Die vog in die kalk moet bereken en bygetel word om die regte toe­dieningspeil te kry.

Vog in landboukalk
Kalk wat by produsente afgelaai word, is dikwels nog klam of in sommige gevalle baie nat. Hierdie vog in die kalk kan die hoeveelheid wat gestrooi word beïnvloed en daartoe lei dat heelwat te min kalk toegedien word. Dit is dus belangrik om die vogpersentasie te bereken en dit by die hoeveelheid wat gestrooi word in aanmerking te bring.

Begin deur ’n standaardgrootte emmer te neem en dit met kalk vol te maak. Weeg die emmer met kalk en skryf die gewig neer. Maak dit dan behoorlik droog deur die kalk vir ’n tyd in die son te laat of dit oornag in ’n oond teen matige temperatuur te los. Gooi dit terug in die emmer en weeg dit weer om sodoende die persentasie vog te bereken. Hierdie persentasie moet nou by die be­hoefte van ton per hektaar getel word om sodoende die strooier te kan kalibreer.

As hierdie aksie nie plaasvind nie, sal daar te min kalk per hektaar gestrooi word – die eerste fout wat in die bekalkingsproses gemaak kan word. Dit is duidelik dat aansienlike onderbekalking sal plaasvind indien hierdie faktor nie in berekening gebring word nie.

Indien bogenoemde metodiek gevolg word vir die bepaling van die hoeveelheid landboukalk wat toegedien moet word, sal die korreksie vir voginhoud ook outomaties bewerkstellig word.

Die voertempo van die band na die spinners en die spoed van die voertuig moet natuurlik ook gekalibreer word. Weer eens moet alle massa omgesit word na oonddroë produk.

Meting is van uiterste belang
Dit is verbasend dat kalibrering en verifikasie van die hoeveelheid landboukalk wat werklik toegedien word, selde korrek plaasvind.

Vir dié doel behoort houers oor die land op vasgestelde afstande geplaas te word sodat die verspreidingspatroon en werklike hoeveelheid landboukalk wat op die grond beland, bepaal kan word. (Let wel dat die massa omgesit moet word na oonddroë produk.)

Baie produsente oorskat die wydte wat die strooier strooi. Hoe fyner die kalk, hoe smaller strooi die strooier. Hoe growwer die kalk, hoe wyer word daar gestrooi. Die plaatjies op die strooierskywe kan ook die strooi van kalk benadeel. As hulle nog reg en nuut is, verskil die werkwydte teenoor as hulle geslyt raak. Produsente moet dus die strooiwydte fisies meet.

Potensiële verliese
Die grootste kalkverlies is waarskynlik as gevolg van wind of bloot die opstyg en wegdryf van die fynste fraksie landboukalk – juis die tipe wat in die grond moet kom. Spinnertipe strooiers het gewoonlik die meeste windverliese.

Hierdie verliese word selde gekwantifi­seer, hoewel dit waarskynlik wesenlik is – veral wanneer die wind sterk waai. Om dié rede word kalkstrooiery nie aanbeveel wanneer die wind erg waai nie en om in die nag te strooi, is nie ’n slegte keuse nie.

Die enigste manier om vas te stel hoe­veel kalk verlore gaan, is om dit te meet met behulp van die bakke of seile. Dit kan dieselfde houers wees waarmee die strooier gekalibreer word.

Vermenging met die grond
Dit is absoluut noodsaaklik om die kalk goed met die grond te vermeng. ’n Verskeidenheid implemente kan hiervoor gebruik word. Sommige implemente werk beter as ander, maar die belangrikste beginsel is om te voorkom dat die bewerking die grond omkeer. Dit sal daartoe lei dat suurgrond na die oppervlak geneem word en die landboukalk in “skywe” verdeel word. Jong plantjies sal nie baie mooi in hierdie suurgrond groei nie.

Aksies wat besonder effektief werk om die kalk goed met die grond te vermeng, is om dit eers met ’n skottelimplement in te sny en dan verkieslik met ’n skaarploeg te ploeg. Tandimplemente vermeng nie die grond so goed nie en die kalk gaan dus langer neem om behoorlik te werk. Indien tandimplemente wel gebruik word, probeer om die verskillende aksies se werkrigting te skuif. As die land kruis en dwars gewerk word, sal die kalk in die grond beter vermeng word.

Ondergrondsuurheid
Indien daar vasgestel is dat ondergrondsuurheid teenwoordig is, moet besluit word op die manier om dit reg te stel.

Die algemene ervaring is dat bekalking vir ondergrondsuurheid ’n duur proses is. In baie gevalle word rendement op hierdie koste eers na etlike seisoene verwag. Die beste praktyk is om te sorg dat ondergronde nie versuur nie.

Maak seker dat die bogrond se pH ook in stand gehou word terwyl die ondergrondsuurheidprobleem getakel word. Die produsent behoort hierdie aspek met die verteenwoordiger te bespreek om die aksies wat uitgevoer moet word, te beplan.

Om ondergrondsuurheid meganies op te hef, is die gebruik van ’n dolploeg dalk die beste metode. Hierdie is ’n baie duur aksie en produsente moet dit sien as ’n laaste uitweg. Verskeie ander metodes is al met redelike sukses in sandgronde gebruik.

Koste
Kalkstrooi is vir seker nie meer ’n goedkoop aksie nie. Dit maak absoluut sin om kalk deesdae met presisie toe te dien. Hiervoor is daar ’n presisiestrooier en -trekker nodig wat die nodige tegnologie bevat.

Die koste van strooi bestaan uit vaste en veranderlike koste. Die vaste koste is basies die waardeverminderingslisensies en rente wat betaal moet word, terwyl die veranderlike koste die brandstof en herstelwerk insluit. Vandag kos ’n trekker wat benodig word om ’n tienton-presisiestrooier te trek ongeveer R2 600 000, terwyl die strooier ongeveer R700 000 kos. Teen ’n brandstofprys van R26 beteken dit die koste vir die trekker behoort ongeveer R1 050/uur te wees en die strooier s’n ongeveer R450/uur.

Gegewe die strooier se strooiwydte van 10 m, die trekspoed van 12 km/uur en ’n effektiwiteit van ongeveer 70%, kan min of meer 8,5 ha/uur gestrooi word. Indien hierdie hektare en koste in berekening gebring word, gaan kalkstrooi ongeveer R176/ha kos. (Onthou net dat die laaigraaf se koste ook nog bygetel moet word.)

Kontak Pietman Botha vir meer inligting deur ’n e-pos te stuur na pietmanbotha@gmail.com.