Landbou-gapjaar ’n eerste vir SA

Gepubliseer: 6 Junie 2022

1062
Karina Muller,
SA Graan/Grain-
medewerker

’n Oorbruggingsjaar in die landbou is nou ’n werklikheid met ’n vennootskap tussen die Peritum Agri-instituut en Reitz Landbou-akademie.

Die agri-gapjaar bied ’n oplossing aan jongmense met ’n belangstelling in landbou om holistiese voorbereiding tot die volwasse en werkslewe met ’n pretjaar te kombineer. Die jongmense voltooi terselfdertyd gestruktureerde leerprogramme in landbouproduksiebestuur én kry omvattende blootstelling aan boerdery.

Hierdie toekomsgerigte program rus op dié pilare – opvoed, ontwikkel, opbou, onthou en ophef.

Landboublootstelling bestaan uit vier komponente: praktiese demonstrasies, kort leermodules, weeklikse boerderyrotasie en bestepraktyk-besoeke. Verdere blootstelling sluit ’n skeerkursus, jaarlikse inentingsprogramme, produksiemodelle, stoetkeuring, grondprofielontleding, veilings en karkasontleding in.

Studente sal op ’n weeklikse grondslag roteer en daagliks na die sewe afdelings van die Reitz Landbou-akademie se boerdery omsien. Die program word in die plattelandse gemeenskap van Reitz in die Oos-Vrystaat aangebied. Dié dorp het ’n ryk landbou­geskiedenis en ’n sterk landbou-ekonomie.

Hoërskool Reitz se Lentehof-koshuis is die basis en studente word in dubbelkamers gehuisves. Drie voedsame maaltye word daag­liks voorsien.

Die oorbruggingsjaar word in samewer­king met Reitz Landbou-akademie aan­gebied wat Graan SA, Standard Bank, die Sernick-groep, VKB en John Deere as vennote het.

Die koste beloop R140 300 vir die jaar. Belangstellendes kan ’n e-pos stuur na marketing@peritumagri.com of 086 122 8467 vir meer inligting skakel. Besoek ook die webblad www.peritumagri.com/agri-gap-year.

Studente word tydens die gapjaar deur middel van praktiese demonstrasies en bestepraktyk-besoeke aan verskeie aspekte van boerdery blootgestel.