Die ongekende verhoging in reënvalfrekwensie en -intensiteit het produsente die afgelope seisoen in baie opsigte gekniehalter. Sommige produsente het gesukkel met versuiptoestande, terwyl ander moes toekyk hoe hul lande in riviere verander.
Een aspek wat tereg in die meeste gevalle agterweë gebly het, is onkruidbeheer. Wat produsente deeglik moet besef, is dat vloed- en/of versuiptoestande nie net ’n invloed op onkruide in die 2021/2022-seisoen het nie, maar ook op die komende seisoen se onkruidinfestasie. In hierdie artikel word daar gekyk na internasionale bevindings en aanbevelings rakende moontlike gevolge van so ’n uitermatig nat seisoen en watter stappe gedoen kan word om die onkruidverwante nadraai in die komende seisoen teë te werk.
Impak op onkruidbeheer
Die verhoging in reënvalfrekwensie kon ’n nadelige effek op die opname, behoud en aktiwiteit van die grondtoegediende vooropkomsonkruiddoders tot gevolg hê. Verhoogde loging van hierdie tipe doders in veral sanderige grond met min organiese materiaal kon nie net bydra tot onvoldoende onkruidbeheer nie, maar kon ook lei tot meer grondwaterkontaminasie. Hoër onkruiddruk behoort dus reeds vroeër gedurende hierdie seisoen voorgekom het as in meer gematigde reënvalseisoene van die verlede.
Weens die opeenvolgende reënbuie kon daar verskeie pieke (flushes) van ontkiemende onkruide gewees het wat tot digte onkruidstande gelei het. Onkruidplante wat dus in die lande voorkom en/of voorgekom het, sou verskil het in ouderdom en grootte. Daar waar onkruiddoders wel toegedien kon word, sou dikwels onvoldoende beheer verkry word – nie net omdat van die plante reeds te groot was om te beheer nie, maar ook omdat die kleiner onkruide deur die groter onkruide van die onkruiddoder afgeskerm is. Meer onkruidplante sou dus oorleef wat tot verhoogde saadstorting in die grondsaadbank kon lei.
Die grootste impak van die besonder nat seisoen sou egter op die kompeteringsvermoë van die gewasse self wees. Versuiping of oorstroming van die saadbed beïnvloed ontkiemende saad en jong saailinge van gewasse meer as ouer, meer volwasse plante (Foto 1).
Gewasse wat reeds goed gevestig is, het die vermoë om versuiptoestande beter te verdra en dienooreenkomstig ook beter met onkruide te kompeteer. Die ouderdom van die gewas tydens hewige versuiptoestande sal dus bepaal hoe goed die gewas deur die loop van die seisoen met die onkruide kan kompeteer. Daar waar die gewas te klein was of gevrek het weens versuiping, sou onkruide voordeel getrek het uit die gebrekkige kompetisie, goed gevestig het en gevolglik saad gestort het (Foto 2).
Onkruide wat kenmerkend laat gedurende die seisoen nog onder gunstige sonnige, nat toestande sal ontkiem, sluit in purperwinde (Ipomoea purpurea, Foto 3) en kankerroos (Xanthium strumarium). Omdat onkruidbeheer laat in die seisoen in sommige gewasse problematies kan wees, sal hierdie onkruide ook saam met die oes ryp word. Sade van hierdie onkruide is skadelik en produsente sal moontlik die saad moet laat sif voor of tydens lewering.
Vloedtoestande vertraag nie net die groei van die gewas nie, maar veroorsaak ook dat onkruidsade van omliggende gebiede binne die produksiegebied ingespoel word. Dit kan daartoe bydra dat nuwe onkruidspesies wat nie voorheen ’n probleem in die land was nie, nou gevestig word. Produsente behoort hulself te vergewis van watter onkruidspesies na afloop van die 2021/2022-seisoen in die lande voorkom sodat die korrekte bestuursprogram en/of onkruiddoder gekies kan word vir die 2022/2023-seisoen.
Daar waar vloed- of versuipskade die produksie só aangetas het dat dit nie die moeite werd is om te oes nie, is dit noodsaaklik dat saadstorting van die onkruid voorkom word deur die afsny of bewerking van sulke lande of deur die toediening van ’n nieselektiewe, nieresiduele onkruiddoder. Meer as een keer se aksie asook ’n kombinasie van chemiese en meganiese beheer, sal moontlik noodsaaklik wees. Waar lande oorgelê het weens die onvermoë om in die nat weer te plant, moet produsente seker maak dat onkruide beheer word.
Neem kennis
Indien ’n natter en matiger herfs en winter gedurende 2022 in die somerreënvalgebied voorkom, sal die oorlewing van sommige eenjarige winteronkruide moontlik hoër wees. Gewasse wat moontlik langer gaan vat om af te droog, kan die tydige beheer van hierdie onkruide bemoeilik. Die algemeenste winteronkruide in veral die Noordwes en die Vrystaat is radiatorbossie (Senecio consaquineus), vaalskraalhanse (Conyza spp., Foto 4) en witblombloudissel (Argemone ochroleuca). Die toediening van ’n herfsbespuiting met nieselektiewe onkruiddoders alleen of in tenkmengsels met 2,4D (volgens etiketinstruksies) waar gewasse reeds geoes is, sal ’n groot bydrae lewer om die onkruide hul eerste terugslag te gee. ’n Lentebespuiting kan ook oorweeg word waar ’n herfsbespuiting nie moontlik is nie, maar die algemene gevoel is dat ’n herfsbespuiting tot beter onkruidbeheer lei.
Waar loging nie onder versuiptoestande plaasvind nie, word die afbreking van onkruiddoders deur mikrobiese aksie weens anaerobiese toestande asook koeler grondtemperature vertraag. Die gevolg is dat oordrag van onkruiddoderresidue na langdurige koel, nat en versuiptoestande kan verhoog. Sommige kenners is ook van mening dat grond wat deur vloedwaters in laerliggende gebiede gekonsentreer is, dalk ook hoër konsentrasies van onkruiddoderresidue in sulke kolle tot gevolg het, wat weer tot groter gewasskade kan lei. Verder moet in gedagte gehou word dat nuwe grond wat ingespoel het, moontlik onkruiddoderresidue kan bevat.
Alhoewel kundiges meen dit is onwaarskynlik dat sulke residue die gewas van die nuwe seisoen sal beïnvloed, kan dit dalk tog lonend wees om ’n eenvoudige biotoets te doen waar daar kommer is. So ’n toets behels dat grond wat van verskillende areas in die land gekollekteer is, gebruik word om ’n paar sade van die beplande gewas in potte te kweek. Sou daar na twee of drie weke geen sigbare skade of misvorming wees nie, kan aanvaar word dat die grond “veilig” is. Indien daar egter wel simptome is, kan kundiges genader word om te bepaal of dit wel onkruiddoderskade is of eerder moontlike plantvoedingstekorte.
Afhangend van die graad van vloedwater wat in ’n land ervaar is, is sommige kundiges van mening dat dit die moeite werd sal wees om grondmonsters te trek en te toets vir grondtekstuur en pH. Keuse van onkruiddoders en dosisse vir die 2022/2023-plantseisoen moet dan op grond van hierdie analises gedoen word.
Die pad vorentoe
Hou by die beginsels van onkruidbeheer:
- Neem kennis van enige nuwe onkruidspesies wat dalk nou kop uitsteek.
- Maak van ’n geïntegreerde onkruidbeheerstrategie gebruik. Grondbewerking, kultivarkeuse, wisselbou, ry- en plantdigtheid asook die gebruik van onkruiddoders uit verskillende HRAC-groepe moet deel wees van die strategie.
- Lees onkruiddoderetikette deeglik:
- Neem altyd kennis van die residuele effekte van onkruiddoder wat die volgende gewas kan beskadig.
- Maak seker dat spuitapparaat korrek gekalibreer is.
- Neem kennis van enige bymiddels wat benodig word.
- Maak seker dat die gekose produk geregistreer is om die onkruidspesies wat op die land voorkom, te beheer.
- Indien moontlik (waar reeds geoes is), oorweeg ’n herfsbespuiting met nieselektiewe, nieresiduele onkruiddoders soos glifosaat of parakwat. Waar etikette so aandui, kan 2,4D of saflufenasiel ingespan word in tenkmengsels.
- Maak gebruik van vooropkomsonkruiddoders – neem kennis dat dié doders deur die reën ingewas moet word kort na toediening.
- Beheer onkruide wanneer hulle nog klein is met na-opkomsonkruiddoders – sien etikette vir maksimum vereiste plantgroottes.
- Waar etikette dit aandui, spuit tenkmengsels om voordeel te trek uit aktiewe bestanddele met verskillende metodes van werking.
Produsente is welkom om dr Craven met enige vrae te kontak by 018 299 6100.