Groter kans vir sukses met ’n deklaag

Gepubliseer: 11 April 2022

268
Dr André Nel, onafhanklike agronoom
Gerrie Trytsman, onafhanklike weidingskundige
Dr Hendrik Smith, bewaringslandboufasili­teerder, ASSET Research

Internasionaal word ’n deklaag van oesreste op grond as een van die vereiste praktyke vir bewaringslandbou beskou. Dit is immers grond en water, die twee primêre landbouhulpbronne, wat bewaar moet word – en die deklaag speel ’n deurslaggewende rol daarin. Te oordeel na hoe oesreste hanteer word, lyk dit dikwels of produsente nie altyd die belangrike funksie van ’n deklaag besef nie.

Lede van die Ottosdal Geenbewerkingsklub het uit ondervinding geleer dat geenbewerking sonder ’n deklaag nie sommer slaag nie. ’n Suid-Amerikaanse bewaringslandboukundige beveel aan dat indien geenbewerking geïmplementeer gaan word, die grond eerstens bewerk moet word om enige moontlike verdigting op te hef en dat ’n geskikte gewas, soos babala, dan gevestig moet word om ’n deklaag te skep. Sodra die deklaag geskep is, kan geenbewerking toegepas word – gewoonlik met ’n baie groter kans op sukses.

Winterweiding
Mieliereste word algemeen as winterweiding deur vee benut, wat dikwels weinig reste laat oorbly. Die alternatief is om die reste net so te laat en as deklaag te benut. Die twee alternatiewe moet teen mekaar opgeweeg word om te bepaal watter een die sinvolste is.

Die voedingswaarde van mieliereste is uiters laag. Slegs die blare, skutblare en graan wat op die grond beland het, het ’n noemenswaardige impak op diereproduksie. Blare en skutblare maak sowat 26% en graan sowat 4% van oesreste uit en die vee vreet selektief aan die graan en meer smaaklike gedeeltes. Hulle verloor dan gewoonlik gewig en kondisie. Jong en produserende diere moet dikwels aanvullende voeding kry wat energie sowel as deurvloeiproteïene bevat.

In konvensionele bewerkingstelsels word oesreste dikwels met ’n dis ingewerk. Redes aangevoer daarvoor sluit in om dit vinniger te laat afbreek, om moontlike siektes wat daarin voorkom en in die toekoms probleme kan veroorsaak, te onderdruk en om die grond los te maak vir goeie infiltrasie van reënwater.

Dit is egter hier waar ’n groot oordeelsfout op baie plase en op baie grondsoorte, gemaak word. Die deklaag het gewoonlik ’n groot invloed op die infiltrasiekapasiteit van die grond en dus op die onderskepping van reënwater asook verdamping vanaf die grondoppervlak. ’n Deklaag beperk of voorkom die ontwikkeling van ’n dun infiltrasie-beperkende kors aan die oppervlak van die grond. ’n Groter hoeveelheid water infiltreer die bedekte grondprofiel teenoor grond sonder ’n deklaag en die water is dan vir die gewas beskikbaar. Die teenwoordigheid van ’n deklaag, ’n hoër infiltrasietempo, beperkte verdamping en die voorkoming van die ontwikkeling van grondkorse is in droër omgewings en seisoene die hoofoorsaak van die hoër opbrengste wat met bewaringslandbou teen­oor konvensioneel bewerkte stelsels verkry word.

’n Dun kors ontwikkel tydens ’n reënbui op grond wat bewerk en los is. Grondaggregate aan die oppervlak word deur die impak van reëndruppels vernietig met die gevolg dat los gronddeeltjies die porieë verstop wat die infiltrasievermoë van die grond drasties laat afneem. In Foto 1 is ’n grondkors wat op saadbedvoorbereide grond sonder ’n deklaag na ’n reënbui ontwikkel het, duidelik sigbaar. Die logiese vraag is hoe groot die impak van die grondkors is en wat die gevolg daarvan op mielieproduksie is.

Foto 1: Weens die impak van reëndruppels op bewerkte grond sonder die beskerming van ’n deklaag, kan ’n dun kors gou ontwikkel. Dit beperk die infiltrasie en lei tot afloop van reënwater. Dit kan selfs die opkoms van plante belemmer.

Afloopstudie
Afloop van reënwater is ’n indirekte aanduiding van die infiltrasievermoë van die grond. In 1990 is ’n wetenskaplike artikel gepubliseer waarin die hoeveelheid afloop vanaf grond wat bedek is met oesreste, waarop gips uitgestrooi is en onbedekte grond vergelyk is. Die studie is op drie plekke gedoen, naamlik Irene (32% klei), Potchefstroom (16% klei) en Aliwal-Noord (17% klei).

Individuele aflooppersele is gemaak deur ’n oppervlakte van 1,5 m2 se grond teen ’n 5%-helling met ’n strook gladde sinkplaat af te skerm sodat reënwater nie daaruit of daarin kan loop nie. Alle donderstorms wat tot afloop aanleiding gegee het se reënval is aangeteken en die afloop is na ’n drom herlei waar dit opgevang is. Die volume opgevangde water is na elke reënbui gemeet en as persentasie van die reënval bereken. Die metings is vir ’n seisoen volgehou.

Die behandelings op die 1,5 m2-persele het bestaan uit kaal of onbedekte grond, grond wat bedek is met die ekwivalent van 3 t/ha strooi (waarskynlik koring) en grond waarop 5 t/ha gips uitgestrooi is. Die aflooppersele se grond is omgespit om ’n tipiese saadbed te verteenwoordig. Alle onkruid is deur die seisoen met glifosaat beheer.

Resultate
Die intensiteit van ’n reënbui, dit wil sê die tempo waarteen die reën val, speel ’n groot rol in die hoeveelheid water wat afloop. Die reënvalintensiteit wissel baie van bui tot bui. So is op die kaal grond gevind dat minder as 10% van die reënwater afloop as die intensiteit laag is, teenoor die 94% van ’n bui met ’n hoë intensiteit.

Oor ’n seisoen gemeet, is die onderskepping van reën ingrypend deur die deklaag verbeter (Grafiek 1). By Irene, waar die reënvalintensiteit van buie relatief laag was, is 29% meer reën deur die deklaag onderskep as deur die onbedekte grond. By Potchefstroom en Aliwal-Noord, waar die intensiteit van buie hoër was, is 59% en 47% meer reën deur die deklaagbedekte grond onderskep. In hoeveelhede uitgedruk, is 100 mm reën by Irene, 186 mm reën by Potchefstroom en 170 mm reën by Aliwal-Noord deur die deklaag onderskep en tot die grondwater toegevoeg. Gips was nie naastenby so doeltreffend soos die deklaag nie, maar het die onderskepping en infiltrasie nogtans met gemiddeld 21% verbeter.

Grafiek 1: Die reënval wat onderskep is op drie lokaliteite: onbedekte grond, grond waarop gips uitgestrooi is en grond met ’n deklaag.
Bron: Stern et al., 1990.

Die water wat deur die deklaag onderskep is, kan die opbrengs van mielies of enige ander gewas ’n groot hupstoot gee as aanvaar word dat die dreinering daarvan dieper as die wortelsone minimaal is. Met ’n reënvalgebruiksdoeltreffendheid van mie­lies teen ’n konserwatiewe 10 kg graan/ha per mm reën, sou die potensiële opbrengs van die bedekte grond by Irene 1 t/ha, by Potchefstroom 1,86 t/ha en by Aliwal-Noord 1,7 t/ha hoër gewees het as die opbrengs op die onbedekte grond.

Daar kan geredeneer word dat die proefresultate van klein 1,5 m2-persele ’n oorskatting is van wat op landskaal en ander lokaliteite met ander gronde en ander hellings gebeur. Al word die wateronderskepping en opbrengsverhogings gehalveer, dit wil sê die opbrengsverhoging is tussen 0,5 t/ha en 0,93 t/ha, is die waarde van die deklaag tussen R1 500/ha tot R2 790/ha teen ’n graanprys van R3 000/ton.

Die resultaat moet opgeweeg word teen die waarde wat die oesreste as winterweiding het. Dit is uiters onwaarskynlik – indien nie onmoontlik nie – dat die waarde van die oesreste as weiding die waarde wat dit vir graanproduksie inhou, gaan oortref. Om die oesreste in die grond in te werk, word boonop ’n koste aangegaan om die waarde van die deklaag grootliks te vernietig. Terselfdertyd vernietig die bewerking die grondaggregate wat sedert die vorige bewerking ontwikkel het en bevorder sodoende die ontwikkeling van ’n volgende infiltrasiekors.

In een van die proewe by Ottosdal was die driejaar- gemiddelde opbrengs in geenbewerking met ’n deklaag 4,7 t/ha, teenoor die 3,2 t/ha van bewerkte grond. Dit is ’n opbrengsverhoging van 47% wat dus grootliks aan die deklaag te danke is. Die infiltrasievermoë van die grond met die deklaag was tussen drie en vier keer hoër as die infiltrasievermoë van die onbedekte en bewerkte grond (Foto 2 en Foto 3).

Foto 2
Foto 3.
Onder ’n deklaag van oesreste (Foto 2) word baie meer reënwater onderskep as sonder ’n deklaag (Foto 3) en waar afloop en erosie ooglopend is. Die verbeterde onderskepping van water word dikwels in die opbrengs weerspieël, soos bevestig deur resultate van die Ottosdal Geenbewerkingsklub.

Gips wat op die grond uitgestrooi is, beperk die dispergering van klei en aggregate en bied so weerstand teen die aanslag van reëndruppels. As maatreël om infiltrasie te bevorder, is dit teen 5 t/ha waarskynlik nie kostedoeltreffend nie. Dit behoort ook mettertyd die chemie van die grond op ’n ongewenste wyse te beïnvloed, aangesien dit by herhaling toegedien sal moet word.

Oesreste wat die neweproduk van graanproduksie is, moet dus behou word waar dit geproduseer is. Hoe word dit gedoen? Deur eenvoudig nie daarmee te peuter nie. Staande mieliestamme wat na strooptyd nog in die grond geanker is, is baie doeltreffender om plantreste op die land te hou as reste wat platgerol is as gevolg van die feit dat dit windspoed op grondoppervlak verminder en los blare se beweging beperk.

Die resultate wat in Grafiek 1 getoon word, suggereer dat verskille tussen gronde, hellings en ander faktore die infiltrasie en afloop van reënwater beïnvloed. Daarom is dit sinvol om vas te stel hoe ’n groot rol infiltrasie en afloop op ’n bepaalde grond of plaas speel en hoe ’n deklaag dit beïnvloed. Dit kan maklik gedoen word deur self klein aflooppersele te bou, behandelings soos ’n deklaag daarop toe te pas en na elke reënbui vas te stel hoeveel water afgeloop het. Dit is ook nodig om die persentasie grondbedekking wat ’n deklaag bied, te meet om vas te stel hoe suksesvol dit op ’n bepaalde plaas of grond deur verskillende gewasse geskep word.

Oesreste speel nie net ’n belangrike rol in die onderskepping van reënwater nie, maar is ook die eerste linie teen winderosie op sandgronde. Op die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat is die bekende rip-op-ry-bewerkingstelsel ontwikkel waar soveel moontlik reste op die grond gehou word om winderosie te bekamp.

Die waarde van oesreste as deklaag om grond en water te bewaar en die voordeel wat dit vir droëlandgraanproduksie inhou, moet nie onderskat word nie. Die deklaagreël is eenvoudig: Hoe digter en vollediger die bedekking van die grond, hoe beter.

Bron
Stern, R; Laker, MC en Van der Merwe, AJ. 1990. Field Studies on Effect of Soil Conditioners and Mulch on Runoff from Kaolinitic and Illitic Soils. Aust. J. Soil Res. 29, 249-261.