As jy al die woorde “SAGIS is net die donkie” gehoor het, ken jy die boerseun van die Waterberge wat die afgelope tien jaar hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) was. Nico Hawkins, in dié pos sedert April 2012, het einde Februarie afgetree.
Met ’n passie vir ekonomie en markontleding – wat hy by sy pa geleer het – het hy homself verdiep in die wêreld van SAGIS waar beplanning asook die inwin en ontleding van data oor graan en oliesade so uiters belangrik is. Sukses het voortgevloei uit sy behoefte om ’n puik diens aan die graanbedryf te lewer.
Sy aanstelling was ’n aanwins vir die bedryf en SAGIS. In die afgelope tien jaar het hy baie veranderinge en verbeterings by hierdie bedryfsliggaam teweeggebring. Die man wat verkies om agter die skerms te werk, het sy persoonlike stempel op die organisasie afgedruk deur sy lewensfilosofie van voortdurende verbetering deur idees, beste praktyk en innovasie uit te leef. Onder sy bekwame leiding het die instansie alombekend geword as die betroubaarste bron van graaninligting met integriteit. SAGIS word internasionaal erken en jaarliks deur die International Grains Council (IGC) aangeprys as die beste verskaffer van betroubare, tydige inligting oor graanproduksie en -bemarking in Suid-Afrika.
Vir Nico is dit uiters belangrik om verwarring uit te skakel sodat rolspelers binne en buite die bedryf verstaan wat die verskil is tussen die aktiwiteite van SAGIS en die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK). Die hoofdoelwitte van SAGIS is die samestelling, verwerking en analisering van markinligting met betrekking tot die werklike lewering van graan en oliesade op die plaaslike mark, insluitend in- en uitvoere. Sodanige inligting word op ’n gereelde basis deur bemarkers gebruik. Die NOK daarenteen, beraam jaarliks die aanplanting van graan en oliesade en voer dan op ’n maandelikse basis moniteringsaksies uit om hierdie syfers aan te pas waar nodig sodat die vooruitskatting vir die nuwe produksieseisoene deurlopend meer akkuraat word. Die syfers van beide hierdie instansies dra by tot die bepaling van vraag- en aanbod-berekeninge vir graan en oliesade.
En ja, “die donkie” is ’n instansie wat op die been gebring is deur die bedryf, vir die bedryf. Min mense verstaan dat SAGIS slegs die opdragte uitvoer wat deur die bedryf versoek word via die onderskeie stuurkomitees, mits dit deur die spesifieke befondser, hetsy die Mielietrust, Sorghumtrust, Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust of Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust, ondersteun word. SAGIS onderneem geen studies op eie inisiatief nie, maar verskaf ’n broodnodige diens aan die graanbedryf ten opsigte van die kwantifisering van heel graan en ook sommige verwerkte produkte.
Nico is die afgelope 43 jaar betrokke in die landbou, waarvan 39 jaar spesifiek gefokus was op die graanbedryf. Nadat hy in 1979 sy honneursgraad in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het hy in 1983 by die eertydse Suid-Afrikaanse Landbou-unie se bedryfsafdeling aangesluit. In 1989 word hy bestuurder van die Wintergraanprodusente-organisasie en was daarna vir twaalf jaar in diens van Graan SA, eers as senior ekonoom: Marknavorsing en vanaf 2006 as bestuurder: Bedryfsdienste. Hy het deurgaans in die een of ander hoedanigheid bygedra tot die welstand van Suid-Afrika se graan- en oliesadeprodusente.
Een van die grootste omwentelinge wat hy meegemaak het, was die deregulering deur die Bemarkingswet van 1996. Die landboubemarkingsrade is afgeskaf en alle markte in Suid-Afrika is ten volle geliberaliseer. Tydens die aftakeling van hierdie beheerrade was Nico ten nouste betrokke by die skep van ’n produksie- en bemarkingsomgewingstelsel wat alle markdeelnemers – van die produsent tot die verbruiker – sou bevoordeel. Dit is dus geen verrassing dat sy mentor ten opsigte van kundigheid dr Kit le Clus was nie, ’n man wat self diep spore in die landbou en graanbedryf in die land getrap het.
Nico was ook betrokke by die totstandkoming van SAGIS tydens die oorgangstydperk na die vryemarkstelsel in die laat negentigerjare en het ’n magdom institusionele kennis opgebou. Gevolglik is hy ’n wonderlik betroubare bron van historiese inligting rakende die graanbedryf.
As ’n belangrike rolspeler en instansie wat insiggewende insette moet lewer, word SAGIS dikwels deur die hoofbestuurder in bedryfsvergaderings verteenwoordig. Vergaderings was egter nie iets waarvan Nico baie gehou het nie. Alhoewel hy die samesyn en debat sal mis, het hy nie altyd die twis tussen skakels in die landbouketting waardeer nie. Vir hom is dit oorlog wanneer mense van mekaar verskil en in gevegte persoonlik aangevat word.
Hy bly lief vir die Bosveld en veral die Waterberge, waar sy familie destyds as gevolg van onteiening hul familieplaas verloor het, maar hy gaan vir eers in Pretoria bly. Dit sal dien as basis vir die vele reise in Suid-Afrika wat hy beplan vir wanneer vroulief, Lorraine, kan verlof neem by die werk. Beide het grendeltyd goed hanteer omdat hulle huismense is en steeds met die kleinkinders kon speel. Hulle twee seuns woon naby en albei is betrokke in mediese administrasie by groot hospitaalgroepe in Pretoria.
Nico het reeds vyf Comrades-marathons op sy kerfstok en wil op 66-jarige ouderdom die laaste een saam met sy een seun hardloop. Hy gaan egter nie sy drafskoene ophang nie en sal steeds by sy plaaslike drafklub betrokke wees. Ander stokperdjies sluit in huisvlyt en instandhouding in en om die huis. Hy het ’n groot liefde vir kosmaak en veral braaivleis, terwyl Lorraine, ’n regte boekwurm, lekker sit en lees.