Rusland maak oorlog … maar wat beteken dit vir plaaslike produsente?

Gepubliseer: 10 Maart 2022

4956
Dr Werner Rossouw, direkteur en graan-handelaar, Silostrat

Suid-Afrikaners het die oggend van 24 Februarie 2022 wakker geword met die ondenkbare nuus: Rusland het begin met ’n volskaalse oorlog teen die Oekraïne. Markte het onmiddellik gereageer met die daaropvolgende tydperk wat gekenmerk is deur groot prysbewegings.

Kommoditeitspryse oor die volgende twee weke het die wêreld se onsekerheid weerspieël. Internasionaal het mieliepryse op die Chicago Board of Trade met $1,17/skepel gestyg, sojaboonpryse met $0,88/skepel en koringpryse het $4,78/skepel sterker verhandel. Oliepryse het met byna $36/vat gestyg!

Plaaslik het graan- en oliesaadpryse ook skerp gereageer. Julie 2022 se wit- en geelmieliepryse het met onderskeidelik R359/ton en R392/ton gestyg. Sojaboonpryse vir die Mei 2022-kontrak was R522/ton sterker, maar dit is veral die koring- en sonneblompryse wat aggressief verhandel het. Die Maart 2022-koringprys het vanaf
R6 049/ton tot R7 250/ton beweeg, terwyl sonneblompryse ontplof het met ’n styging van R2 403/ton!

Waarom het die konflik tussen Rusland en die Oekraïne so ’n groot impak op plaaslike pryse? Hoe lank kan hierdie prysstygings voortduur? Wat is die langtermynimplikasies vir plaaslike produsente en verbruikers en wat beteken die oorlog vir plaaslike insetkoste in die komende seisoen? Hierdie is van die algemeenste en belangrikste vrae onder produsente.

Waarom reageer plaaslike pryse so skerp op die konflik?
Rusland en die Oekraïne produseer saam ongeveer ’n kwart van die wêreld se graan.

Mielies:
Februarie 2022 se WASDE-verslag het die 2022-mielie-oes van die Oekraïne geprojekteer op 42 miljoen ton. Hiervan was die verwagting dat 33,5 miljoen ton uitgevoer sou word. Dit beteken dat die Oekraïne die vierde grootste uitvoerder van mielies is (na die VSA, Brasilië en Argentinië).

Koring:
Rusland is die grootste uitvoerder van koring, terwyl die Oekraïne die derde meeste koring uitvoer. Gesamentlik voer hierdie twee lande jaarliks ongeveer 59 miljoen ton koring uit.

Sonneblom:
Wêreldwyd word daar jaarliks ongeveer 57 miljoen ton sonneblomsaad geproduseer. 58% hiervan is afkomstig vanaf die Oekraïne en Rusland, wat onderskeidelik 17,5 miljoen ton en 15,5 miljoen ton produseer. Die Oekraïne is ook die voorloper wat die produksie van sonneblomolie betref met 7,3 miljoen ton/jaar.

Olie:
Rusland produseer 10 miljoen tot 12 miljoen vate ruolie per dag, die derde meeste wêreldwyd (na die VSA en Saoedi-Arabië). Ongeveer 51% van Rusland se olie-uitvoere is na Europa, met 42% wat na Asië uitgevoer word.

Hoe lank kan hierdie prysstygings voortduur?
Die volgende ses weke is uiters belangrik vir die volhoubaarheid van huidige graan- en oliesaadpryse. Soos genoem, maak produksie in die Oekraïne ’n wesenlike deel uit van die totale wêreldwye aanbod van graan en oliesade. Tradisioneel word sonneblom in April/Mei in die Oekraïne geplant, terwyl die aanplanting van mielies geskied vanaf middel April tot middel Mei.

Met die oorlog wat steeds voortduur en verskeie landbouhanteringsfasiliteite wat beskadig is, behoort dit aanplantings onder druk te plaas. Hoe langer die oorlog voortduur, hoe meer onwaarskynlik raak dit dat aanplantings voltooi sal word. Daarmee saam is die beskikbaarheid van brandstof en insette ook ’n probleem waarmee produsente gekonfronteer sal word in die aanloop tot planttyd. Volgens Arlan Suderman, hoofekonoom by die StoneX Group, het die oorlog reeds langtermynimplikasies. Suderman is van mening dat die Oekraïne waarskynlik vanjaar nie baie graan sal aanplant nie, selfs al sou die konflik spoedig besleg word.

Die nuutste inligting dui daarop dat slegs ongeveer die helfte van die beplande 2021/2022-uitvoere vanaf die Oekraïne reeds gerealiseer het. Met hawens wat beskadig is en in sommige gevalle deur Russiese magte oorgeneem is, word geen uitvoere tans gedoen nie. Dit lei tot ’n verhoogde vraag vanaf die VSA, Brasilië, Argentinië en Suid-Afrika. Indien Suid-Afrika die huidige uitvoertempo tot September kan volhou, behoort plaaslike pryse ook weg te beweeg vanaf uitvoerpariteit.

Pryse behoort daarom sterk te bly (en sterker te word) hoe langer die oorlog voortduur. Sterk plaaslike uitvoere kan ook pryse op die langer termyn ondersteun.

Impak op insetkoste
Die olieprys het sedert die begin van 2022 met $50/vat gestyg. Daarmee saam het die binnelandse prys van 500 PPM-diesel in 2022 reeds met R2,30/ℓ verhoog, terwyl daar aanduidings is dat verdere prysstygings verwag kan word. Solank as wat die konflik voortduur en sanksies teen Rusland afgedwing word, kan produsente verwag om ’n hoë brandstofprys te betaal.

Boonop word produsente tans gekonfronteer deur die vooruitsig van hoër kunsmispryse. In 2020 het Rusland kunsmis ter waarde van $7 miljard uitgevoer, die meeste van enige land in die wêreld. Indien die voortslepende konflik die beskikbaarheid van kunsmis raak, is verdere prysstygings vir die komende seisoen plaaslike produsente se voorland.

Opsomming
Plaaslike pryse het die afgelope maand sterk ondersteuning gekry vanweë die konflik tussen Rusland en die Oekraïne. Dit is weens die groot bydrae wat hierdie twee lande lewer tot die wêreld se koring-, mielie- en sonneblommarkte. Daarmee saam kan insetkoste in die komende maande styg omdat Rusland ’n wesenlike volume ruolie produseer en die meeste kunsmis wêreldwyd uitvoer.

Die volgende ses weke kan bepalend wees vir kommoditeitspryse in die res van die seisoen (en moontlik ook die komende seisoen). Optimale planttyd vir mielies in die Oekraïne is middel April tot middel Mei, terwyl sonneblomaanplantings tradisioneel vanaf begin April geskied. Indien die oorlog voortduur en produsente nie in staat is om die aanplantings suksesvol te voltooi nie, kan dit groot druk plaas op wêreldvoorrade met gevolglike prysstygings. Met Europa en Westerse lande wat deurlopend finansiële en militêre ondersteuning aan die Oekraïne gee, kan die oorlog langer duur as wat aanvanklik verwag is. Aan die ander kant kan ’n spoedige vredesooreenkoms, winsgewende kommoditeitspryse wat tot groter aanplantings aanleiding kan gee en ook produsente wat gewillig is om te plant, weer druk op pryse plaas.

Deelnemers aan die plaaslike mark kan dus ’n periode van groot onsekerheid en hoë wisselvalligheid verwag met prysbewegings wat irrasioneel kan voorkom. Markte verhandel teen ’n agtergrond waar fundamentele en tegniese prysverwagtings oorskadu kan word deur die oorlog. Oor die langer termyn sal pryse egter weer terugval na die basiese ekonomiese beginsel van vraag en aanbod. Die vraag bly egter tot watter mate die Oekraïne se landbou vanjaar deel gaan wees van hierdie aanbod.

Vir navrae kontak dr Werner Rossouw deur ’n e-pos te stuur na werner@silostrat.com