Kleinsaadkanariegras (Phalaris minor) is oorspronklik afkomstig vanaf die Mediterreense gebied. Dit kom in meer as 60 lande wêreldwyd (Figuur 1) en ook wydverspreid in Suid-Afrika voor. Dit word nie normaalweg beskou as ’n mededinger met gewasse nie, maar dit kan ’n problematiese onkruid raak wanneer dit in groot aantalle voorkom.
Net soos in die geval by ander onkruide, kan die voorkoms van kleinsaadkanariegras in groot aantalle die opbrengs van ’n kleingraangewas beïnvloed. Opbrengsverliese as gevolg van P. minor kan so hoog as 50% wees en baie erge besmettings kan lei tot totale gewasverlies (Malik & Singh, 1995; Singh, 2007). ’n Studie deur Bhan et al. (2006) het bevind dat koring se biomassa betekenisvol verlaag word (14,8%) wanneer daar ’n besmetting van 200 P. minor-plante per vierkante meter voorkom.
Afhangend van die hoeveelheid are wat gevorm word, is bevind dat een P. minor-plant ongeveer 5 000 of meer sade kan vorm, wat bydra tot ’n groter probleem (Torres-Garcia et al., 2018). Hierdie saad (Foto 1) word dan net voor/tydens die kleingraanoes gestort en dra ’n massiewe aantal saad tot die saadbank by. P. minor-saad ontkiem ook nie dadelik nie en benodig vier tot vyf maande na rypwording om optimale ontkieming na verspreiding te bereik (Rezvani et al., 2021).
Ongelukkig is P. minor daartoe in staat om weerstand teen onkruiddoders op te bou. Die eerste aangetekende geval van onkruiddoderweerstand in hierdie onkruid is in 1999 gerapporteer (Pieterse et al., 2002). In hierdie geval is veelvuldige weerstand teen ACCase-inhibeerders, ALS-inhibeerders en PSII-inhibeerders aangeteken. ACCase-inhibeerders (Groep A/1 – Herbicide mode of action-tabel, CropLife SA) en ALS-inhibeerders (Groep B/2 – Herbicide mode of action-tabel, CropLife SA) word na die opkoms van die gewas gebruik vir die beheer van P. minor.
Daar kan twee hoofmeganismes van weerstand in onkruid voorkom. Die twee meganismes is teikenarea-weerstand en nieteikenarea-weerstand. Volgens literatuur kom teikenarea-weerstand wel in P. minor voor en kan daar vir hierdie tipe weerstand getoets word deur van molekulêre merkers gebruik te maak. Daar is dus besluit om te bepaal of teikenarea-weerstand in P. minor in Suid-Afrika voorkom.
Navorsingsresultate
Twee monsters van kleinsaadkanariegras is in die Prieska/Douglas-area in die Noord-Kaap geneem. Dit is afkomstig van twee verskillende plase wat ’n redelike afstand uitmekaar geleë is. DNS van goeie gehalte is van beide monsters verkry en dit is deur middel van molekulêre merkers vir weerstand teen ACCase- en ALS-inhibeerder-onkruiddoders getoets. ALS-merker 197 (die nommer dui aan waar die mutasie op die
alleel in die DNS voorkom) en ACCase-merker 2078 is gebruik vir toetsing. Hierdie twee spesifieke merkers is gekies omdat dit gereeld in literatuur verskyn. Die resultate word in Foto 2 en Foto 3 aangedui.
Volgens die resultate is dit duidelik dat heterosigotiese weerstand teen ACCase-merker 2078 in monster 1 (Foto 2) voorkom. Dit beteken in leketaal dat die meerderheid van die populasie se nageslag weerstandbiedend sal wees en dat ’n klein deeltjie van die nageslag nog sensitief vir sekere ACCase-onkruiddoders sal wees. Let egter daarop dat hierdie weerstand oor seisoene sal vererger. Die voorkoms van weerstand teen onkruiddoders van die ACCase-groep het tot gevolg dat die betrokke produsent baie versigtige keuses ten opsigte van onkruiddoders moet uitoefen. Daar moet gepoog word om eerder onkruiddoders met ander meganismes van werking te gebruik.
Monitering van hierdie area moet gereeld uitgevoer word om die verspreiding van die weerstandbiedende populasie te monitor. Monster 2 (Foto 3) het egter geen mutasies getoon nie en kan dus as sensitief teenoor onkruiddoders van die ACCase-groep geklassifiseer word.
Geen resultate was waarneembaar vir die ALS 197-merker nie. Ander merkers sal dus in die toekoms gebruik word om te bepaal of daar ander mutasies in hierdie populasies voorkom.
Samevatting
Hierdie navorsing het getoon dat teikenarea-weerstand wel in ’n populasie van P. minor in Suid-Afrika voorkom – die eerste offisiële bewys van weerstand sedert die eerste aantekening daarvan in hierdie onkruid. Die bevestiging van onkruiddoderweerstand in P. minor kan die volhoubaarheid van kleingraanproduksie bedreig, aangesien dit tot verlaagde opbrengste kan lei en ook die insetkoste kan verhoog.
Dit is dus uiters belangrik om die probleem op te spoor en daaraan aandag te skenk. Monitor lande gereeld om moontlike problematiese onkruide te identifiseer en te beheer en pas geïntegreerde onkruidbeheer toe. Handhaaf goeie agronomiese praktyke, plant kompeterende gewasse en kultivars en gebruik onkruiddoders volgens die etikette se aanbevelings. Aangesien P. minor-weerstand reeds in Suid-Afrika aangeteken is, is dit belangrik om die weerstandstatus van die populasies op produsente se lande te monitor.
Vir die bronne wat in die artikel gebruik is en vir verdere inligting of die toetsing van onkruidpopulasies, kontak Hestia Nienaber by 058 307 3420 of deweth@arc.agric.za.