Om selfgeproduseerde graan terug te hou en dit dan weer te plant, is enige produsent se reg en geen instansie kan dit verbied nie. Om hierdie teruggehoude graan as saad te verkoop, is egter teen die wet en produsente mag dit nie doen nie.
Saadkoste vorm ’n groot komponent van direkte produksiekoste – dit kan maklik tussen 10% en 15% van dié koste uitmaak. Produsente wil dus soms terughousaad plant om sodoende die kostedruk te verminder. Daar is niks met hierdie denke verkeerd nie, maar produsente moet ligloop. Terughousaad is vir seker nie verniet nie en somme moet gemaak word om te besluit of die risiko’s van dié stap dit regverdig.
Hoeveel kos terughousaad die produsent werklik? Heelparty produsente en insetverskaffers sal sê dit kos mos niks. Dit is egter ’n groot fout om so te redeneer en kan veroorsaak dat die produsent die graanprys te laag bepaal en homself so in die voet skiet.
Die koste van terughousaad begin met die geleentheidskoste van die graan. Die produsent kon hierdie graan verkoop het en die geld op ander plekke gebruik of gebank het. Geleentheidskoste gaan ook gepaard met rente – die tweede kostekomponent is dus die rente wat op die geld verkry kon word.
Heelwat argumente is uit te maak rakende die rentesom. Een is om die rente vir een jaar te bereken, terwyl ’n ander is om die rente net vanaf stroop tot plant te bepaal. Renteberekening slegs van stroop tot plant is egter nie die regte metode om die koste van die saad te bepaal nie. Die geleentheidskoste vir die saad behoort die rente vir ’n volle jaar in te sluit. Boonop sal elke produsent se rentekoers verskil. Indien die boerdery ’n kontantbesigheid is, moet die rente op kapitaal belê gebruik word. Die meeste produsente maak egter van geleende geld gebruik – dan moet die oortrokke fasiliteit se rentekoers gebruik word. Hierdie verskil kan beduidend wees.
Die terughougraan moet vervolgens skoongemaak word. Hierdie koste bestaan weer uit twee gedeeltes. Die eerste is die skoonmaak van die saad en dan is daar die graan wat uitgesif word. Skoonmaakkoste verskil baie – dit kan wissel van bykans niks tot meer as R1 500/ton. Hoe meer dit kos, hoe beter behoort die saad vir plant te wees. Sommige verwerkers kan die graan skoonmaak, gradeer, opberg, versak en die ontkieming van die graan verskaf. Hierdie graan is dan gelykstaande aan gekoopte saad, maar dit bly die produsent se risiko as daar ’n fout met die saad kom. ’n Realistiese koste van R600/ton is ’n goeie prys vir die skoonmaak van die saad. Die vervoer van die graan bly ook die produsent se koste.
Heelwat graan word in die saadskoonmaakproses uitgesif. Daar kan tussen 5% en 15% uitgesif word, maar as ’n algemene reël kan 10% gebruik word. Alhoewel die produsent hierdie graan weer terugkry, is die bemarking daarvan moeilik omdat dit al die gesplete sade, gevlekte saad en beskadigde saad insluit.
Indien die saad se ontkiemingspersentasie nie bekend is nie, word maklik meer sade per hektaar geplant as wat nodig is. Dit beteken ekstra saad wat die saadkoste verhoog. Produsente plant maklik 10% tot 15% meer saad as wat nodig blyk te wees. As terughousaad gebruik word, moet produsente self die ontkiemingspersentasie bepaal en hul aanplanting hiervolgens aanpas.
Die hantering en opberging van die saad het ’n beduidende impak op die ontkiemingspersentasie. Maak seker dat die saad reg geberg is en dat dit so sag as moontlik hanteer word. Opberging van saad kan problematies wees. Rotte en plae kan die saad beskadig en ontkieming benadeel. Maak seker dat die vog tydens stroop so laag as moontlik is en berg dit op in ’n stoor wat rot- en plaagvry is en wat nie te warm en te vogtig is nie. (Gekoopte saad moet ook reg geberg word om skade te voorkom.)
Behandeling van die saad met entstof en ander chemiese middels kan nie by die saadkoste getel word nie. Gekoopte saad moet ook behandel word of die meeste saadmaatskappye kan dit teen ’n koste doen. Maak net seker waar daardie koste ingesluit is as ’n vergelyking tussen die koste gemaak word.
Ongelukkig gaan terughousaad met risiko’s gepaard. As die saad nie opkom nie of daar is ’n saadgedraagde siekte, kan dit die produsent baie geld kos. Tabel 1 is ’n voorbeeld van hoeveel teruggehoude sojaboonsaad behoort te kos.
Uit die tabel is dit duidelik dat die saadkoste R11,09/kg is. Hierdie syfer kan nou met nuut gekoopte saad vergelyk word. Alhoewel hierdie koste heelwat laer as die nuwe saad behoort te wees, moet produsente die risiko wat ingesluit is, in berekening bring. Daar word wel aanbeveel om ’n gedeelte van die aanplanting met nuut gekoopte saad te beplant en om nie graan by medeprodusente te koop en as saad te gebruik nie.
Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.