Vir enige saad om optimaal te ontkiem, is die volgende faktore nodig: lewende saad, genoeg vog, ’n gunstige temperatuur en ’n medium waardeur die koleoptiel/hipokotiel maklik kan groei.
Die fondasie vir optimale gewasprestasie is ’n egalige en eweredige opkoms. Daar is ’n groot verskil tussen monokotiele en dikotiele. Monokotiele of eensaadlobbige plante soos mielies, beskik oor ’n koleoptiel wat deur die grond druk en dan blare bokant die grond oopmaak, teenoor die dikotiele of tweesaadlobbige plante, soos sonneblomme en boontjietipes wat eintlik in die saad ontkiem en die hipokotiel deur die grond trek om bogronds te ontvou.
Temperatuur
Op Foto 1 kan gesien word dat saad hitte benodig om te ontkiem. Die optimale temperatuur wissel tussen verskillende gewasse. Bokwiet kan nog by 40,5°C ontkiem, terwyl sade van sekere grasse sal doodgaan teen sulke hoë temperature. Mielies se optimale ontkiemingstemperatuur is 25°C.
Hoe dieper daar geplant word, hoe koeler word die grond. Indien die plantdatum buite die normale plantvenster val, sal temperature en ander omgewingsinvloede sonder twyfel ’n effek op die ontkieming hê.
Indien daar vroeg geplant word, is dit raadsaam om vlakker te plant om sodoende meer hitte by die ontkiemde saad te kry, maar dan moet die vogtoestande van die grond in gedagte gehou word. Met later plantdatums is grond geneig tot hoër temperature en kan dieper geplant word om saad teen uitdroging te beskerm.
Plantdatum is en bly ’n deurslaggewende bestuursfaktor en ag moet geslaan word op die risiko van suboptimale ontkiemingstoestande. Die oomblik as die saad dieper of vlakker as die optimale diepte geplant word, is daar ’n risiko aan verbonde.
Uit Foto 1 kan ook duidelik gesien word dat sade eerste ’n wortelstelsel sal begin ontwikkel en daarna die koleoptiel – dit is hoe ’n mielie normaal ontkiem. Sade moet vir ten minste 48 uur aan optimale vogtoestande blootgestel word om genoegsame vog op te neem vir ontkieming.
Vog
Die oomblik wanneer saad in kontak met vog kom, begin dit om die vog te absorbeer. Indien lewende saad lank genoeg aanvoldoende vog en ’n gunstige temperatuur blootgestel word, sal ontkieming plaasvind.
Plantdiepte is uiters belangrik sodat die saad genoegsame vog kan absorbeer en ook in staat is om deur die grondoppervlak te breek. Indien saad te diep geplant is, kan dit gebeur dat dit begin ontkiem en nie deurdring na die oppervlak toe nie. Indien dit baie diep geplant word, kan dit gebeur dat saad net swel en geen verdere sigbare tekens van ontkieming toon nie.
Plantdiepte
Hoe groter die saadjie, hoe dieper sal dit kan ontkiem en bokant die grond verskyn. ’n Kleiner saadjie, soos byvoorbeeld tef, kan nie so diep ontkiem soos wat die geval by mielies is nie. Plantdiepte is ’n belangrike faktor wat bydra tot goeie plantpopulasies en saailingvestiging en uiteindelik tot ’n goeie opbrengs.
Uit Foto 2a en Foto 2b kan gesien word dat mielies redelik diep kan ontkiem. Die oomblik as die plantdiepte te diep is, kan geen ontkieming plaasvind nie en daardie saad sal doodgaan. Foto 2c toon die voordeel van die optimale plantdiepte teenoor waar daar te vlak of te diep geplant is.
Hou in gedagte dat pitgroottes verskil en dat daar ook verskille tussen kultivars voorkom ten opsigte van die plantdiepte vir optimale ontkieming. Dieper plant kan daartoe lei dat plante eers heelwat later bo die grond verskyn. Dit kan dan aanleiding gee tot ’n swakker plantestand weens die koleoptiel wat onder die grond draai of selfs oopmaak, grasdoderskade weens die langer blootstelling van die koleoptiel aan die grasdoder asook ’n verhoogde kans op kop- en pluimbrand weens verlengde blootstelling onder die grond wat tot infeksie kan lei.
Die koleoptiel het sy drukkrag te danke aan die energie wat in die endosperm gestoor word. Deur te diep te plant, kan die kiemplantjie se reserwes opraak en nooit bokant die grond verskyn nie.
Uit ’n proef wat in Vaalharts uitgevoer is (Grafiek 1), kan gesien word dat dit opbrengs nadelig kan beïnvloed indien te vlak geplant word.
Wortels
Die sekondêre wortelstelsel van mielies wat te vlak geplant word, word nadelig geraak. Vlak plant gee aanleiding tot ’n kleiner wortelstelsel wat weer swakker opname van water en voedingstowwe teweegbring. Plante wat te naby aan die oppervlak ontkiem het, kan dan maklik as klein plantjies omval. Die verskynsel kom veral voor tydens uiters droë toestande asook waar swaar reën opgevolg word deur wind.
Sade het die vermoë om selfs bo-op die grond te ontkiem indien vog en temperatuur na wense is. Daar word dikwels gesien dat afgebreekte koppe se pitte op die oppervlak ontkiem (Foto 3). Indien daar lewende saad en genoegsame vog en hitte is, sal ontkieming plaasvind.
Korsvorming
Ernstige korsvorming op die grondoppervlak of enige verdigting sal die koleoptiel se drukvermoë beperk en veroorsaak dat dit onder die grond oopgaan of afsterf. Indien die grond baie kluiterig is, kan die sonstrale tussen die kluite indring en veroorsaak dat die koleoptiel onder die kluite oopgaan as gevolg van die blootstelling aan lig.
Vermy oormatige bewerking van die saadbed net voor plant, veral as reën ná plant en vóór opkoms voorspel word. ’n Poeieragtige saadbed vorm maklik ’n kors.
Vermy ook oormatige afwaartse druk op die toemaakwieletjies van die planter, veral as die grond baie nat is. In té nat toestande kan die plantervoor toesmeer, wat swak saailinge tot gevolg kan hê.
Stoppel
Hoë volumes stoppel op die oppervlak verg hoë bestuursinsette. Stoppel hou op sigself ’n hoeveelheid water en die grond is gewoonlik koeler op ’n land waarop stoppel voorkom. Verder ontneem dit die saad van waardevolle hitte-eenhede wat nodig is vir ontkieming.
Bewaringsboerderypraktyke, soos geenbewerking, lei tot heelwat bestuursuitdagings. Om net ’n paar te noem: die temperatuur van die grond, die weerstand wat die stoppel bied tydens die plantproses en oneweredige plantdiepte wat verpotte plantjies kan veroorsaak.
Waar te veel stoppel voorkom, word aanbeveel om gebruik te maak van ’n ry-skoonmaker soos in die geval van strookbewerking (strip-till). ’n Ry-skoonmaker skuif die stoppel op die ry om sodoende ’n skoon strook sonder plantreste voor te berei (Foto 4). Dit gee die grond die geleentheid om vinniger hitte in die plantry op te neem as die onbewerkte grond aangrensend. Sodoende word sade nie blootgestel aan kouer temperature en ’n lae imbibisietemperatuur nie (die opname van koue vog deur die saad).
Die voorkoms van saailingsiektes en insekte word hierdeur verminder. Saadbehandeling verminder die effek hiervan betekenisvol, maar hoe langer die saad neem om te ontkiem, hoe groter is die kans vir skade. Indien dit koud genoeg is, sal daar gewoonlik skade voorkom ten spyte van die beste genetika en saadkwaliteit.
Gemiddelde plantdiepte vir verskillende gewasse word in Tabel 1 gegee. Hou altyd die temperatuur in gedagte tydens die plantproses.
Algemene wenke
- Kyk na plantdiepte waar die planttoerusting teen operasionele spoed geplant het en nie waar dit baie stadig gedoen is nie.
- Kyk na saad-grond-kontak en streef na ’n ferm saadbed. ’n Stadiger planterspoed gee ’n beter en meer egalige plantdiepte. Te vinnig plant lei soms daartoe dat saad in die plantervoor bokspring en dit veroorsaak oneweredige plantdiepte.
- Gebruik ry-skoonmakers waar daar baie stoppel op die oppervlak voorkom. Dit veroorsaak ’n hoër temperatuur op die plantry. Planters met ’n afwaartse drukmeganisme verbeter egalige opkoms.
- Sukses kan ook verkry word met ryvoor-oopmakers (furrow openers) waar grond op die plantvoor weggeskuif word om by die vog uit te kom. Daar kan egter probleme ontstaan, veral wanneer daar kort na plant harde reën voorkom wat die plantervoor laat toespoel. Die saad word dan te diep bedek om op te kom. Dieselfde verskynsel word soms waargeneem by sandgronde waar die plantervoor toewaai.