Gesprek gevoer met silo-eienaars oor aftrekkings tydens opberging

Gepubliseer: 23 Februarie 2022
Dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering, Graan SA
Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA

1960

Graan SA het aan die einde van 2021 in opdrag van beide die Mieliespesialiswerkgroep en die Sonneblom- en Sojaboonwerkgroep met verskeie graanhanteerders gesprekke gevoer oor onder meer die volgende aspekte:

  • Die hantering van vreemde materiaal en sifsels;
  • vogaftrekkings;
  • die sogenaamde “standaardaftrekking”; en
  • sonneblom se olie-inhoud.

Onderstaande is ’n opsomming en terugvoer vanuit die vergade­rings.

Hantering van vreemde materiaal en sifsels
Hierdie aspek word grootliks deur die graderingsregulasies gereguleer. Binne die regulasies is daar verskeie perke. As mielies as ’n voorbeeld gebruik kan word, is die belangrikste fokuspunt die vreemde materiaal van 0,3% en totale afwyking van 8% op witmielies en 9% op geelmielies vir ’n graad 1-mielie.

As die gewas binne die perke van die gradering is, word dit ingeneem en vind daar geen aftrekkings plaas nie. Sodra die perke oorskry word, word daar verskillende metodes gebruik wat wissel tussen agribesighede afhangende van bestuurspraktyke en beskikbare infrastruktuur. Die verskillende praktyke is as volg:

  • Die agribesigheid kontak die produsent en bied hom die opsie om skoon te sif en te herlewer.
    • Dit vind plaas teen ’n sifkoste – die meeste van die agri­besighede bepaal die sifkoste met inagneming van die ekonomiese waarde van die sifsels. Die produsent kry dan ’n graad 1-mielie minus die siftingskoste en sifselgewig.
    • Sommige van die agribesighede bied die geleentheid vir die produsent om sy sifsels terug te neem, maar dan is die sifkoste hoër. Dit is verder onderhewig aan die logistiek (leweringsproses en versakking) wat beteken die sifsels gaan nie noodwendig dadelik beskikbaar wees nie en dat die produsent nie noodwendig presies sy eie sifsels terugkry nie. Die produsent lewer dus ’n graad 1-mielie minus ’n hoër sifkoste plus die ekonomiese waarde wat die produsent vir sy sifsels kan kry.
      • Die produsent lewer die graan in die bestaande toestand. Die vrag kan dalk ’n laer graad realiseer of dit kan selfs totaal ver­werp word as dit nie voldoen aan voedselwetgewing, bv. toelaatbare giftige sade, nie.

Dit is belangrik dat die produsent die berekening doen om te bepaal waar hy die meeste ekonomiese waarde vir sy gewas gaan kry. Daar is produsente wat ’n hoë waarde aan die sifsels heg om weer in ’n veefaktor te benut, maar dan moet dit binne Wet Nr. 36 van 1947 plaasvind en daar moet nie uitdagings wees wat giftige sade betref nie. As produsente die waarde van hul sifsels wil ontsluit, moet hulle seker maak dat die agribesigheid hulle wel kan ondersteun en dat die fasiliteite by die spesifieke leweringsilo beskikbaar is. Wat ook in berekeninge tydens sif in ag geneem moet word, is dat die toelaatbare perke binne die gradering verlore gaan as 100% skoon/suiwer graan gelewer word. Dit is die waarde van die 8% wat teen ’n mie­lieprys ingeneem word. Dieselfde argument geld as die produsent self op die plaas sif.

Vogaftrekking
Die vogaftrekking vind plaas met behulp van ’n wiskundige formule wat oor die algemeen internasionaal gebruik word. Al die agri­besighede wat besoek is, maak gebruik van dié formule:

Bruto massa x [(100-werklike vog)/(100-droë vog)]

Die maksimum vog waarteen ingeneem word, verskil tussen die verskillende agribesighede – daar is besighede wat graan op vog­vlakke so hoog as 18% en meer inneem. Die standaardneiging is dat meer en meer natter graan ingeneem word. Dit is wel onderhewig aan verskeie veranderlikes wat onder meer die volgende insluit: vraag en aanbod, beskikbare drogingsinfrastruktuur en drogings­koste. Die afgelope seisoen se beurtkrag het ’n groot rol gespeel.

Drogingskoste verskil ook tussen maatskappye afhangende van die besigheid se strategie rakende voginname asook die beskikbare infrastruktuur.

Dit is belangrik dat elke produsent hom vergewis van die strategie van sy omliggende agribesighede asook die koste om sodoende ’n ingeligte besluit te neem en die meeste ekonomiese waarde te ontsluit volgens sy individuele bemarkingstrategie.

Standaardaftrekking vir hanteringsverliese
Hierdie is ’n onderwerp wat menige produsent al warm onder die kraag gehad het en een van die hoofredes waarom Graan SA die agribesighede besoek het. Die hanteringsverliese of meer bekend as standaardaftrekking, is ’n praktyk wat toegepas word sedert die gereguleerde tydperk en wat deur die destydse rade ingestel is. ’n Voorbeeld is die standaardaftrekking van 1% by mielies vir hante­ringsverliese met opberging. Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie aftrekking nie deel van ’n regulasie is nie, maar in die vrye mark deur opbergers bepaal word.

Produsente het gevoel dit is onregverdig en Graan SA versoek om dit te ondersoek. Die ongelukkigheid spruit hoofsaaklik uit twee faktore:

  • Die feit dat daar ’n standaardaftrekking is wat toegepas word (vir almal dieselfde), het heelwat vrae geskep rakende mede­dingendheid.
  • Produsente moet vir hanterings- en massaverliese tydens opberging betaal wat ná lewering plaasvind.

Die aftrekking vind plaas weens verliese tydens hantering en opberging – dit sluit onder meer verliese soos gewigverlies en breekskade in. Graan word verhandel deur middel van rug-aan-rug-kontrakte binne die fisiese en termynmark. Dit beteken dat as 100 ton aangekoop word, moet 100 ton verkoop word. Die aftrekking se doel is om voorsiening te maak vir verliese, om die proses te verseker en die nodige waarborge in plek te plaas.

Met die ondersoek is gevind dat daar nie meer ’n standaardaf­trekking van ’n vaste persentasie toegepas word nie. Agribesighede se aftrekkings verskil en dit het meer markgedrewe geraak. Party besighede het studies gedoen om verliese te bepaal en pas die aftrekking volgens die resultate toe. Dit het tot gevolg dat daar agribesighede is wat volstaan het by die 1%, sommiges het dit verlaag en party oorweeg selfs om dit te verhoog. Van die besighede maak van ’n glyskaal gebruik. Met ander woorde: Hoe skoner die graan gelewer word, hoe kleiner die aftrekking. Neem in ag dat die skoner graan slegs help om van die verliese beter te bestuur, dit dek nie al die verliese nie. Die sentiment van die meeste van die opber­gers is dat die 1%-hanteringsverlies te laag is, maar dat dit ook tussen seisoene verskil.

Graan SA het dit duidelik gestel dat die organisasie nie ten gunste van ’n standaard is nie en dat daar mededinging moet plaasvind tussen die agribesighede.

Dit is ’n feit dat daar verliese plaasvind in die opbergingsproses, maar moet die produsent die verlies dra as die gradering reeds ’n standaard skep? Is dit nie die opberger/waardeketting wat die verlies/risiko moet dra nie? Die opberger gaan die verlies iewers moet verhaal, maar die vraag bly of die volle verlies deur die produsent gedra moet word. Tans is dit standaardpraktyk om dit van die produsent te verhaal. Graan SA het dit benadruk dat dit nie regverdig is nie en eerder deur die hele waardeketting geabsorbeer moet word. Agribesighede moet deur middel van ander metodes die koste verhaal, eerder as net ’n direkte aftrekking by die produsent. Die versoek was dat ’n vryemarkstelsel die koste moet bepaal, iets soos in- en uithanteringskoste of opbergingskoste waarin almal kan deel en dit nie net van die produsent verhaal word nie.

Produsente behoort hulle te vergewis van die verskillende agri­besighede se aftrekkingspersentasies en moet dit vergelyk as deel van hul bemarkingstrategie. As daar direk by ’n verwerker afgelaai word, is daar nie verliese in die aanbodketting nie en is die verliese dié van die verwerker. Daar is nie rug-aan-rug-kontrakte nie, omdat die graan verwerk en nie weer verhandel word nie. Produsente wat direk aan verwerkers lewer, moet dus die aankoopterme onderhandel.

Graan SA is van mening dat dit nie regverdig is vir nét die produsent om die verliese in opberging te dra nie, dit moet op vrye­markbeginsels werk. As opbergers verliese beter kan bestuur, moet hulle die markvoordeel kan benut.

Graan SA-fotokompetisie – Amari Bornman, Julie 2014

Sonneblomolie-inhoud
Die afgelope twee seisoene was daar baie vrae binne die bedryf rakende die olie-inhoud van sonneblom. Tans word heelwat werk gedoen om die redes vir verlaagde olie-inhoud te ondersoek en seker te maak dat die bedryf mededingend teenoor invoere bly.

Verskeie verwerkers is bereid om selfs ’n premie te betaal vir ’n hoër olie-inhoud en daar is sprake van nuwe kultivars wat geleent­hede bied in hierdie verband.

Deel van die besoek aan die agribesighede was om te bepaal of opbergers die olie-inhoud tydens inname meet en wat die tendense is. Alhoewel daar tans ’n paar loodsprojekte van maatskappye is, is NWK die enigste een wat die olie-inhoud van sonneblom tydens lewering meet. Vir produsente wat premies vir hoër olie wil bekom, gaan dit toenemend belangrik raak dat olie-inhoud tydens lewering getoets word; dat die regte praktyke gebruik word; dat hulle in optimale planttye plant en dat hulle kultivars met ’n inherent hoë olie-inhoud gebruik. Die alternatief is om direk met afnemers te kontrakteer.

Gevolgtrekking
Dit was duidelik uit die gesprekke dat agribesighede wat meer produsentgerig is in die meerderheid gevalle die voordeel aan die produsent gee en nie net ’n suiwer besigheidsbesluit neem nie. Die agribesighede poog om graan vinniger in te neem en die neiging is om dit op ’n hoër vogbasis in te neem. Die standaardaftrekking is nie meer in plek nie en daar is reeds meer mededinging tussen agribesighede rakende die aftrekkings. Die uitdaging is steeds dat produsente die hanteringsverlies moet dra. Daar is geleentheid vir agribesighede om markaandeel te wen as hulle op kreatiewe maniere die koste na die res van die waardeketting kan verplaas en nie as ’n aftrekking by produsente verhaal nie. Produsente moet verstaan wat die doel van die aftrekking is om sodoende met afnemers in die verband te onderhandel, veral as dit in direkte verwerking opgeneem word.