Beskerm saailinge teen slakke

Gepubliseer: 8 Februarie 2022

1366
Chris Cumming,
PNS-konsultant

Die toepassing van bewaringsboerdery as be­wer­kingstelsel hou verskeie voordele vir produsente van die Swartland en Suid-Kaap in. Die toepassing van hierdie stelsels waarin die behoud van oesreste op die grondoppervlak en minimum versteuring van die grond as baie belangrik beskou word, skep egter ook gunstige toestande vir ’n verskeidenheid van grondbewonende mikro- en makroörganismes. Sommige hiervan, soos slakke en isopode, kan gewasse aanval en beskadig.

Twee faktore speel ’n beduidende rol in die blootstelling van die kanolasaailing as teiken vir spesifiek hierdie twee plae. Dit is praktyk om enige groen plante voor die aanvang van plant dood te spuit met nieselektiewe onkruiddoders om ’n onkruidvrye saadbed te verseker. Na ontkieming van die kanola is die saailing die enigste groen plantmateriaal op die land. Die jong kanolasaailing word dus direk na opkoms aangeval en afgevreet. Dit lei tot kaal kolle op die land wat letterlik oornag ontstaan.

Isopode
Die tweede faktor is dat kanola vroeg in die seisoen geplant word – in sommige gevalle in droë bogrond. Sou daar genoeg vog in die ontkiemingsone teenwoordig wees om die saad te laat ontkiem, val veral isopode die jong stammetjie aan op soek na vog. Werk gedoen deur dr Geoff Tribe, toe nog by die LNR-Instituut vir Plantbesker­ming in Stellenbosch, het bevind dat isopode soms meer skade aanrig as naakslakke. Isopode verkies klam areas en is van vog afhanklik om te oorleef. Indien dit warm en droog word vir ’n periode na kanolasaailinge ontkiem het, val hulle die jong stam aan.

Toringslak (Cochlicella barbara)

Slakke wat op kanola voorkom
Naakslakke besit beide manlike en vroulike geslagsorgane en het die vermoë om enige tyd van die jaar te reproduseer. Dus is die beheer van hierdie slymerige orga­nismes ’n deurlopende probleem vir kanolaprodu­sente. Daar is drie eksotiese naakslakspesies uit die Mediterreense gebied wat skade by kanola in die Wes-Kaap veroorsaak. Die grys veldslak (Deroceras reticulatum), die bruin veldslak (Deroceras panormitanum) en die naakslak (Milax gagates) met ’n rif of kiel in die middel van die liggaam.

Die toringslak (Cochlicella barbara) kom dwarsdeur die seisoen voor en veral in nat seisoene soos die afgelope een in die Suid-Kaap, kan hoër besmettingsvlakke bereik word. Tydens platsny was dit in sommige gebiede ooglopend sigbaar. Weens kanola se groei­kragtigheid, veral in die vegetatiewe groeifase, is dit egter selde dat die slakke ekonomiese oesverliese teweeg sal bring.

Volgens aanduidings maak M. gagates eerste hulle verskyning in landerye, terwyl die bruin veldslak die laaste verskyn en selfs tot na oestyd in landerye voorkom. M. gagates­ is ook die oorheersende slak wat in die Swartland voorkom.

So word hulle beheer
Wat van uiterste belang is in die beheer van beide hierdie plae, is om die kanolasaailing vir die eerste vier weke na opkoms te be­skerm. Produsente moet in hierdie tydperk daagliks hulle kanolalande inspekteer om betyds op te tree sou die eerste tekens van skade waargeneem word. Dis algemene praktyk in die Suid-Kaap, waar naakslakke en isopode meer geredelik voorkom, om slakpille tydens of kort na plant uit te strooi. Koeler lande (suidelike hellings) en klipperige lande word dikwels die ergste geteiken. Slakpille moet teen die ge­registreerde dosis (meestal 8 kg/ha) toegedien word. Om minder slakpille toe te dien met die aanname dat ’n tweede toediening moontlik nodig sal wees, het al menige produsent duur te staan gekom. Indien beide plae voorkom, is dit ui­ters be­langrik om ’n slakpilformulasie wat beide metaldehied en karbariel as aktiewe bestanddeel bevat, te gebruik. As net naakslakke voorkom (soos meestal in die Swartland), sal die aktiewe bestanddele metaldehied of metiokarb voldoende wees. Indien isopode ook voorkom, moet karbariel deel van die formulasie uitmaak.

Slakpille wat as gevolg van reën of swaar dou geblus het, word minder doeltreffend in die beheer van slakke en isopode. Indien g­ereelde verkenning aandui dat die plae nog aktief is, moet ’n tweede toediening van slakpille oorweeg word. In die Suid-Kaap, veral as goeie somerreëns die ondergrond aangevul het en daar vroeg geplant word, kan die gunstige toestande tot hoër naakslakdruk lei en is daar produ­sente wat tot ’n derde keer slakpiltoediening oorweeg.

Kanola kan baie mooi kompenseer vir ’n effens laer as optimale plantestand indien dit egalig en eweredig oor die land staan, maar kaal kolle gaan beslis tot oesverliese sowel as groter onkruidprobleme lei as gevolg van ’n gebrek aan uitskerming van onkruide deur die kanolaplant. Om nie eers te praat van die koste van oorplant as die kolle beduidend raak nie.

In die Swartland, waar druk van beide plae noemenswaardig laer is as gevolg van die lang, droë somers, is slakbeheer selde nodig. Tog is daar produsente in veral die hoërreënvalgebiede wat dit in sommige seisoene nodig gevind het om naakslakke te beheer. Verkenning vir die eerste vier weke moet nog altyd gereeld uitgevoer word – nie net vir slakke nie, maar ook vir ander insekte en plae soos rooibeensandmyt en plantluise wat groot skade kan aanrig.

Erkenning aan Piet Lombard, Wes-Kaapse Departement van Landbou vir foto’s verskaf en redigering.