Rekordoeste laat produsente en bedryf breed glimlag

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

701
Magda du Toit,
namens Graan SA

Innoverende produksiepraktyke loop hand aan hand met uitstekende opbrengsprestasies. Vanjaar se Graan SA Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie het weer rekords opgele­wer wat oor produksiegebiede en gewasse heen die opbrengsmikpunte net nog hoër opgeskuif het.

Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) was die nasionale gemiddelde opbrengs vir alle mielies gedurende die 2020/2021-plantseisoen 5,88 ton/ha – met geelmielies 7,16 t/ha en witmielies 5,09 t/ha. Die gemiddelde sojaboonopbrengs vir die land was 2,29 t/ha, met sonneblom se gemiddelde opbrengs op 1,42 t/ha.

Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, verwelkom die finaliste by die tweede jaarlikse Groei vir Goud-geleentheid by Muldersdrift.

Die opbrengste wat die wenners in die onderskeie afdelings van die kompetisie behaal het, oortref almal hierdie gemiddeldes in die oortreffende trap.

Met die Groei vir Goud-kompetisie wil Graan SA ’n platform skep waar graanprodusente met mekaar kan meeding vir die beste opbrengs per ka­tegorie. So kan die bedryf gesamentlik nader aan die genetiese potensiaal van die verskillende graangewasse beweeg.

Volgens dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbestuurder (HUB) van Graan SA, is dit ’n groot voorreg om hierdie kompetisie aan te bied. “Ons mikpunt is om met al Graan SA se bedrywighede en inisiatiewe ’n bydrae tot graanprodusente se volhoubaarheid en winsgewendheid te maak. Groei vir Goud is een van ons aksies en ons hoop dat hierdie kompetisie ’n platform sal bied waar graanprodu­sente die geleentheid kry om van mekaar te leer om sodoende ’n standaard vir beste praktyke te skep.”

Dr Pieter Taljaard, HUB van Graan SA, beskou die Groei vir Goud-kompetisie as ’n geleentheid om ’n standaard vir beste praktyke daar te stel.

Vanjaar het 42 graanprodusente in 15 kate­gorieë ingeskryf en uitstekende opbrengste is in mielies, soja­bone en sonneblom opgele­wer. Produsente ding per kategorie, waaronder verbouing onder droëland en besproeiing asook verbouingstreke, met mekaar mee om seker te maak dat die speelveld gelyk is.

Die kompetisie is die enigste in sy soort wat deur Graan SA aangebied word en sluit die produksie van mielies, sonneblom en sojabone in asook ’n aparte afdeling vir koring. Dit skep verder sinergie tussen saadmaatskappye se individuele opbrengskompetisies. Produsente kan deur hul onderskeie saadmaatskappye se opbrengskompe­tisies inskryf – kontak die saadbemarker vir meer inligting.

Inligting rakende die opbrengskompetisie kan op die webwerf www.groeivirgoud.co.za verkry word.

Dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering by Graan SA, aan die woord.