Koester die kans om te kan boer

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

135

Mielies word sedert 1947 op die plaas Panfontein net buite Schweizer-Reneke geplant. Die 12,47 t/ha wat vir Jozeph du Plessis van die Locklore Boerdery die eerste plek in die Groei vir Goud-kompetisie se afdeling vir mielies in die Noordwes besorg het, sou sekerlik die Lock-familie se voorsate stom gelaat het.

Jozeph boer saam met sy oom, Koos Lock. Koos en sy seun Abri hanteer tans die beesvertakking wat Jozeph se oupa en ouma, Apie en Annie Lock, in 1973 begin het om oortollige weiding te benut en hulle boerdery te diversifiseer.

DKC 76-77BR, die wenkultivar, is op 30% van die mielielande geplant. “Ons het die vorige twee seisoene elke keer ’n tweede plek in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie behaal met DKC 75-65BR. Hierdie jaar het die lande wat daarmee geplant was versuipskade opgedoen en gevolglik het DKC 76-77BR gewen,” vertel Jozeph.

Die land waarop die wenkultivar geplant is, bestaan uit Clovelly-grond en is ongeveer 2,1 m diep met 8% klei in die bogrond en 22% klei op ’n diepte van ’n halwe meter.

Jozeph du Plessis het met 12,47 t/ha in dieafdeling vir mielies in Noordwes gewen.

Voordeel van wisselbou
Volgens Jozeph plant hulle 70% van hul lande elke jaar. Die ander 30% rus in ’n oorlêstelsel om vog op te gaar. Hulle plant 50% mie­lies, 25% katoen, 20% sojabone en 5% sonneblom. “Wisselbou is baie voordelig. Die deel wat die wenopbrengs gelewer het, was juis op lande waar katoen die vorige seisoen geplant was. Bo en behalwe die voordele wat wisselbou bied ten opsigte van volhoubare produksie, wil ons ook nie net op een gewas staatmaak om ons deur die jaar te trek nie.”

Die onstabiele en onvoorspelbare klimaat in hulle omgewing bied jaarliks groot uitdagings. Van 2012 tot 2019 het hulle agt agtereenvolgende jare van ondergemiddelde reënval beleef. In drie van hierdie agt droë jare was daar geen reën in November en Desember nie en kon hulle nie gedurende die optimale planttyd plant nie.

Heelwat van die laepotensiaallande met vlak grond sonder ’n keerlaag wat nie baie grondwater kan opberg nie, is oor jare na aangeplante weidings vir die beeste omgeskakel. Die beeste benut ook die oesreste op die mielie- en katoenlande, veral as daardie lande in ’n oorlêfase ingaan. Oesreste en van die plaas se eie mie­lies word in die voerkraal benut.

Volgens Jozeph het ’n tweede agtereenvolgende jaar met bogemiddelde reën sy eie stel uitdagings meegebring. “Ons is aangepas om met min reën te boer en ons stelsels is daarvoor geoptimaliseer. Die mielies op die oorlêlande het versuipskade opgedoen en ons het ook baie haelskade op die katoenlande gehad. Hier in die weste is ons egter altyd dankbaar vir goeie reën en ons beskou die afgelope seisoen as ’n baie geseënde jaar.”

Grondvoorbereiding
Wat presisieboerderytegnieke en bemesting betref, verduidelik hy dat hulle Bastion se landboukalkprodukte en Omnia-kunsmis gebruik. Hulle lande is vanaf 2003 gekarteer vir fisiese en chemiese eienskappe op ’n eenhektaar-ruitpatroon en die chemiese karte­ring word elke vier tot vyf jaar herhaal. Die ontledings word by Omnia se laboratorium gedoen. Die bekalking en bemesting van stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) word variërend toegedien volgens vooraf bepaalde preskripsies.

Die waardes van die eenhektaar-ruit­patrone word deur ’n rekenaarprogram geïnterpoleer na 20 m x 20 m-blokke en daarvolgens toegedien. Dit beteken dat elke 0,04 ha sy eie hoeveelheid kalk en bemesting ontvang. Voordat die lande bewerk word, strooi hulle die KCI-korrels variërend met ’n Kuhn-presisiestrooier op die dele waar daar kaliumtekorte voorkom. Dan volg die primêre bewerking waartydens superfosfaat variërend onder die grond op die ry geplaas word.

Wanneer hulle mielies plant, dien hulle ’n konstante hoeveelheid (40 kg N en 8 kg P) vloeibare kunsmis 5 cm weg en 5 cm dieper as die saad deur die planters toe. Hierdie mengsel bevat ook swael, sink, spoorelemente en K-humate. Na die planters volg die presisiestrooier weer met stikstof wat tussen 0 kg N/ha en 100 kg N/ha variërend toedien. Na gelang van die reënval gedurende die eerste ses weke na plant, word die laaste N-bemesting toegedien op ses weke na plant met spesiale toedieners wat ook die laaste onkruiddoders tussen die mielierye spuit. Volgens Jozeph gebruik hulle gewoonlik vloeibare ammoniumnitraat wat met “Y-drop”-toedieners langs die mielie se stam bo-op die grond gespuit word.

Die gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is, het 162 kg N, 28 kg P en 25 kg K ontvang. Oor al die mielielande was die gemiddelde bemesting 119 kg N, 21 kg P en 10 kg K.

Kartering en presisieboerdery
Deur die seisoen word satellietbeelde gebruik om die vordering van die gewasse te moniteer. “Ons stropers en katoenplukkers het almal opbrengsmonitors en ons evalueer ons opbrengs teen die poten­siaalkaarte om te sien of ons orals op die lande die potensiaal kon ontgin. Hierdie kaarte word verder gebruik om die onttrekking van voedingstowwe te bereken en gevolglik bepaal dit die hoeveelheid bemesting wat vorentoe toegedien moet word.”

Die massa inligting wat oor die jare van elke land versamel is, word veilig bewaar in die SMS Advanced-presisieboerderyprogram van Agleader. De Wet van Wyk, Omnia-landboukundige, help hulle met die interpretasie van die inligting en die opstel van parameters sodat die bemestingselemente korrek bereken kan word. “Ek skryf die meeste van die preskripsies self op hierdie program en dra dit dan oor na die toerusting wat die toedienings op die lande moet doen,” sê Jozeph.

Wat onkruidbeheer betref, span hulle rolstaafskoffels in voor plant. Direk na geplant is, doen hulle ’n algehele bespuiting met ’n mengsel van 0,25 ℓ/ha mesotrioon 480; 0,8 ℓ/ha terbutielasien 500; 0,6 ℓ/ha metolachloor 915 saam met ’n beveiliger en 10 g/ha flumetsulam. Vyf weke na plant spuit hulle ’n mengsel van 1,6 ℓ/ha glifosaat 540; 0,8 ℓ/ha sulkotrioon en 0,6 ℓ/ha metolachloor 960 met spesiale toedieners wat tussen die mielies spuit en nie in die kelk nie. Op ses weke dien hulle 0,4 ℓ/ha azoxystrobin-swamdoder op die mielies se blare toe.

Hulle het ’n sesrystelsel van 6,84 m. Die treinspoorrye se rywydtes is onderskeidelik 0,76 m x 1,52 m met ’n gemiddelde rywydte van 1,14 m. Hulle doen skeurploegbewerkings volgens ’n spoorverkeerstelsel teen verskillende dieptes na gelang van grondtipe. Die saadbed word met rolstaafskoffels op sandgronde en stoppelskoffels op sterker klipperige lande voorberei. “Ons probeer so een keer elke vyf jaar, veral na bekalking, die grond omkeer met skaarploeë. Dit help baie om kalk en voedingstowwe egalig in die grond in te meng en die ondergrond se vrugbaarheid te verbeter. In droë periodes neem ons gewasse baie van hulle voedingstowwe dieper uit die ondergrond op.”

Die afgelope seisoen is 720 mm reën op die plaas gemeet. Die land waarop die wenkultivar geplant is, se grondvog was ongeveer 75% van versadigingspunt af teen planttyd op 3 Desember 2020. Daarna het dit 115 mm in Desember gereën, 176 mm in Januarie en 184 mm in Februarie. Die bewolkte weer in Januarie het koeler toestande as gewoonlik meegebring. Maart en April was weer warmer as normaalweg, maar het genoeg hitte-eenhede gegee vir die goeie oes. Die diep grond het ook gehelp dat die mielies nie versuip het nie. “As ’n mens die beskikbare vog meet in opbrengs, het ons 17,33 kg/mm reën gerealiseer.”

“Ons het gemiddeld 7,6 t/ha op die mielies gestroop oor al die lande vanjaar. Dit was ons derde beste mielie-oes ooit per hektaar. Ons is baie dankbaar vir die groot genade dat ons so ’n fantastiese jaar kon beleef.”

Op vyf weke na plant, besig met die laaste N-toediening en onkruidbeheer.

Om te meet is om te weet
Bemesting is sy duurste inset, maar hy meen dit is die inset wat die grootste rendement op kapitaal kan lewer as dit optimaal toegedien word. Daarom doen hulle baie moeite om bemesting korrek en akkuraat toe te dien.

Die direkte insetkoste was R681,39/ton en R8 500,00/ha vir die spesifieke kultivar en aanplanting. Hy wys uit dat katoen die duurste gewas is wat hulle plant, hoofsaaklik as gevolg van die duur stroopkoste. Daarna volg mielies en dan sonneblom. Sojabone is die goedkoopste gewas per hektaar om te plant.

Volhoubare winsgewendheid is die enigste manier om aan te hou boer en vooruit te gaan, meen Jozeph. Wins word bepaal deur opbrengste, produkpryse, hoeveelheid insette gebruik en die koste van aankope van die insette. “Om te meet is om te weet. Graanprodusente moet presies weet wat elke aspek en aksie kos. Ons doen volledige ontledings van elke vertakking na elke seisoen en vergelyk die verskillende gewasse met mekaar wat winsgewendheid betref. Ons stel ook begrotings vir elke gewas op voor die seisoen begin en kyk na die gelykbreekpunte van prys en opbrengste asook na die risiko’s. Dit help ons om beter besluite te neem en fokus ons aandag op waar ons moet verander en verbeter.”

Bemarking bly ’n uitdaging. “Daar is soveel veranderlikes wat die mielieprys beïnvloed wat nie voorspel kan word nie en wat kan veroorsaak dat ons maklik aan die verkeerde kant van ’n prysbeweging gevang kan word. Om net die gemiddelde mielieprys vir die seisoen te kry as jou opbrengste nie bogemiddeld is nie, is dikwels nie goed genoeg om wins te maak nie. ’n Suksesvolle prysbestuurstrategie is dus noodsaaklik.”

Jozeph is lid van Schweizer-Reneke se distrikslandbou-unie. As lid van Graan SA tree hy op as die verteenwoordiger van hulle streek op die GSA-hoofbestuur. Hy sê hy is gelukkig om in die Schweizer-Reneke-distrik te boer waar produsente mekaar ondersteun en met raad en daad help. “My medeprodusente se sukses is vir my ’n geweldige inspirasie en spoor my aan om altyd beter te probeer doen.”

Jozeph glo ’n mens word geseën sodat jy vir ander ook tot seën kan wees en daarom help hy waar hy kan. Sy raad aan nuwelinge wat die graanbedryf betree: “Bly ingelig oor navorsing, nuwe tegnologieë en tegnieke. Doen proewe op jou eie grond en evalueer hierdie aspekte. Implementeer dit wat werk. Behoorlike rekordhou­ding is belangrik. Wees noukeurig en presies met alles.”

Hy beskou dit as ’n groot voorreg om te kan boer en ten spyte van al die uitdagings is dit iets wat hy elke dag koester.