Fyn beplanning bring dubbelgoud

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

1874

Uitstekende opbrengste in die mielie- en sojaboonafdelings vir die oostelike Hoëveld het aan Danie Bester van Balfour ’n dubbelgoud besorg in Graan SA se Groei vir Goud-opbrengskompetisie.

Hy produseer sojabone en geelmielies onder droëlandtoestande in ’n geenbewerkingstelsel en sy pa, wat saam met hom boer, hanteer die beesboerdery. Hy plant 55% mielies, 45% sojabone en elke tweede jaar sonneblom om ’n gedeelte van die sojaboonhektare te vervang. Na strooptyd bewei die beeste die oesreste, maar hy maak seker dat daar genoeg materiaal op die lande oorgelos word.

In die mielie-afdeling van die kompetisie het hy ’n opbrengs van 15,91 t/ha met ’n ultrakort hoëpotensiaalkultivar van Pioneer, P 1197YHR, behaal en in die sojaboonafdeling 5,51 t/ha met die Agricol-kultivar, DM 5351RSF.

Dubbelgoud vir Danie Bester in die mielie- en sojaboonafdelings vir die oostelike Hoëveld.

’n Besonderse prestasie
Wat Danie se opbrengs besonders maak, is die produksie gemeet teenoor die vog wat beskikbaar was. Op die mielies het Danie 599,80 mm reën vir die seisoen ontvang: As dit verwerk word na opbrengs graan/mm reën het hy 26,52 kg/mm reën gestroop.

Danie se insetkoste vir die spesifieke mieliekultivar was R640,53/ton en R10 190,02/ha. As sy opbrengs vergelyk word met die opbrengste in ander produksiegebiede, het hy die hoogste opbrengs behaal van al die inskrywings onder droëland in die Groei vir Goud-kompetisie, maar tegelykertyd was sy insetkoste per ton graan die minste – boonop met die minste reën!

Selfs as ’n mens na die sojabone kyk, is sy opbrengs maar slegs ’n kortkoppie agter die opbrengs wat in die sojaboonmekka, Winterton, behaal is. Danie het 569,6 mm reën vir die seisoen ontvang en 9,67 kg graan/mm reën gerealiseer. Sy insetkoste vir die sojabone was R1 585,47/ton en R8 732,00/ha vir die spesifieke kultivar wat ingeskryf is.

Hy sê die inskryfland is soos ’n proef. “Ek gebruik dit om te kyk wat werk en om te sien hoe ek nog kan verbeter. Dit dien as maatstaf en basis om die voedingsvlakke vir al my aanplantings vir die volgende seisoen te bepaal. Ek het seker gemaak dat die regte produk in die regte vorm op die regte tyd teen die regte hoeveelheid toegedien is. Ek het ook die grondtemperatuur noukeurig dopgehou, veral in die eerste vyf dae na plant. Die natuur het natuurlik altyd die laaste sê,” verduidelik Danie.

Produksiepraktyke wat werk
Die gedeelte mielies wat vir die kompetisie ingeskryf is, is op 4 November 2020 met P 1197YHR op ’n land geplant waar die vorige jaar sojabone was. Daar is dekgewasse gevestig voor die sojabone na afloop van die vorige mielie-oes. Die land is reeds vir ses jaar onder geenbewerking. Die bemesting is aangepas om die voe­dingsvlakke te onderhou volgens die opbrengsdata van die vorige seisoen en die blaarmonsters wat geneem is. Al Danie se mielies word op hierdie manier bestuur, maar hy het wel ’n ekstra bespuiting swamdoder toegedien om seker te maak dat die plante gesond is.

Wat die sojabooninskrywing betref, het Danie DM 5351RSF van Agricol op 13 Oktober 2020 geplant. Die bemesting van die sojabone is ook proaktief gedoen volgens sy databasis en hy het mikro-elemente deur die seisoen toegedien. “Met sojabone fokus ek baie op boor en magnesium en ek sorg ook dat molibdeen en ander nodige elemente op die saad en in die plantvoor bygevoeg word. Dit is ’n praktyk wat nie noodwendig deur maatskappye aanbeveel word nie, maar vir my is dit nie onderhandelbaar nie. By sojabone is blaargesondheid uiters belangrik en stres moet so goed as moontlik bestuur word.”

Hy is oortuig dat 80% van die opbrengs deur die toestand van die grond bepaal word. Produktiwiteit lê opgesluit in jou grond en dit bepaal winsgewendheid en meet volhoubaarheid. “Die beskikbaarheid en opname van plantvoedingstowwe, bewerking en vog in die grond is bepalende faktore wat produksie betref. Die ander 20% word deur kultivarkeuse, implemente en akkuraatheid van die planter bepaal. Hoewel ek met van die beste uitmeeteenhede plant, het ek my plantspoed afgebring om beter spasiëring te kry. Hierdie aanpassing het ’n groot impak op my sojaboonopbrengs gehad. Vir die 2021/2022-plantseisoen het ek ’n nuwegenerasie-hoëspoed-uitmeeteenheid aangeskaf om hiermee te help. Dit is uiters belangrik dat al die sojabone gelyk opkom.”

“Ons boer met vog”
Water is die grootste beperkende faktor in sy boerdery. “Ons boer in werklikheid met vog. Deur bewaringslandboupraktyke toe te pas, probeer ek om elke druppel water op te vang en te benut. Ons probeer verdamping beperk deur deklae en minimumbewerking. Wanneer kilogram produksie per millimeter vog bepaal word, sien jy gou of die planne werk – of produksie doeltreffend is en hoe effektief jy boer.”

Hy voeg by dat behoorlike water- en grondbestuur noodsaaklik is om produsente deur moeilike seisoene te dra. “Minimumbewer­king is reeds gefokus op die opbou van die grond en vogbewaring. Genoeg organiese materiaal en die regte verhouding tussen die mikro-elemente dra daartoe by dat die plante die sonlig beter kan benut en deur fotosintese in opbrengs kan omsit.”

Data is koning
Grondkartering dui die teoretiese potensiaal van elke stukkie grond aan. “Kartering gee ’n aanduiding van die grondtipes en as dit saam met die stroper se opbrengsdata gebruik word, kan jy vasstel of jy optimaal op elke stukkie grond produseer. Elke jaar se opbrengs­evaluasies is hierop geskoei en as een land minder opbrengs gegee het as wat verwag is, begin die naspeurwerk daar.”

Danie neem reg deur die jaar en plantseisoen grond- en blaarmonsters om te bepaal watter voedingstowwe nie deur die plante opgeneem word nie. Deur die monsters met mekaar en met vorige seisoene se stroperdata te vergelyk, kan hy bepaal of swak wortelontwikkeling, stres, tekorte in die grond of verdigtingslae die oorsaak was – en dan regstellings doen. Die inligting help verder om bewerkingsfoute te identifiseer en gevolglik kan implemente reg gekalibreer word. “As die probleem geïdentifiseer is, kan regstellende stappe gedoen word,” beklemtoon hy.

Danie is ’n groot voorstander van presisietegnologie en glo dit kan vir baie meer as net optimale mielie- en sojaboonverbouing aangewend word.

Toets jou kultivars
Danie glo aan proewe. “Nuwe kultivars, tegnieke, produkte en bewerkings moet eers op klein skaal getoets word. Daarna kan dit met aanpassings op groter skaal geïmplementeer word. “Ek vergelyk jaarliks die opbrengs van verskillende kultivars op verskillende grondtipes en lande. Hierdie vergelykings wys tekorte uit wat reggestel kan word. Behoorlike kultivarproewe kan in komende seisoene ’n groot bydrae lewer om insetkoste in toom te hou.”

Hoewel hy saamstem dat nasionale kultivarproewe waardevol is, meen hy sy eie proewe wys hoe verskillende kultivars in sy omge­wing met sy eie mikroklimaat, gemiddelde reënval en verskillende grondtipes saam met sy bestuursinsette en bewerkingsmetodes reageer.

“Ek hou daarvan om te bepaal hoe verskillende kultivars op stand en op verskillende grondtipes reageer. Geen twee lande lewer dieselfde standresultate nie. Standproewe vorm jaarliks deel uit van my program en so bou ek data en noukeurige inligting op oor die lang termyn.”

Elke kultivar het sy eie voedingsbehoeftes om sy optimale opbrengs te realiseer en daarom is dit noodsaaklik om jaarliks grondmonsters en gereeld blaarmonsters te neem sodat regstellings tydig gedoen kan word. “Hierdie ontledings vorm die kern van my bemestingskedule vir mielies en sojabone en kan aan die einde van die seisoen ekstra kilogramme inbring net omdat ’n kultivar reg bestuur is. So mors ek ook nie geld met oor- of onderbemesting nie.”

In sy sojaboon- en mielieproewe het hy heelwat proefpersele opgestel om die verskillende aspekte te meet wat produksie en opbrengs beïnvloed. Hy vergelyk nuwe kultivars met mekaar en ook met ouer kultivars om te bepaal watter kultivar vir sy plaas en omstandighede geskik sal wees. Hy kyk ook na die uitwerking wat verskillende maatskappye se chemiese produkte en voedingstowwe op kultivars het. In die sojaboonkultivar en -standproewe ver­gelyk hy die opbrengs in strookproewe met ’n stand van 60 000 tot 300 000 plantjies per hektaar.

“In my minimumbewerkingspraktyke gee nou rye van 76 cm vir my ’n mikroklimaat in die lande tot voordeel van die plante se opbrengspotensiaal. Onder die omstandighede gee die plante gou ’n sambreeleffek wat vog bewaar en grondtemperature meer konstant hou. Ek oorweeg glad nie meer 91 cm-rye nie.”

Danie plant sy mielies en sojabone in ’n tweejaarwisselbou­sisteem met geen oorlêlande nie. Hy plant wel dekgewasse tussen seisoene as die tyd en seisoen dit toelaat.

Onkruidbeheer vorm ’n belangrike deel van die produksiesiklus. “’n Land moet skoon wees van onkruid. Tydige bespuitings is uiters belangrik, want as jy te laat spuit gaan jy die res van die seisoen sukkel. Ek plant mielies na ’n algehele bespuiting wat ek partymaal reeds vroeg in die winter gedoen het om onkruide, veral skraalhanse, te beheer. Na plant volg ek op met ’n vooropkoms- en na-opkomsstandaardprogram. Voor ek sojabone plant, doen ek ook ’n algehele bespuiting, maar ek verminder die vooropkomsdosisse van die vooropkomsprodukte, want ek het agtergekom dat hierdie produkte my opbrengs benadeel. Die veiligste produk vir my om op sojabone te gebruik, is glifosaat.”

’n Spanpoging
Danie se pa hanteer hoofsaaklik die bemarking. Hulle besluit so deur die verloop van die seisoen en volgens die veranderinge in die graanpryse wanneer om te bemark. “Ek is in die bevoorregte posisie dat ek my graan kan bemark wanneer ek wil.”

“As ’n mens stapsgewys planne implementeer wat gebaseer is op noukeurige proefdata en wetenskaplike ontledings, skakel dit raaiwerk uit. ’n Mens moet ook uit jou foute leer en aanpas. Jy kan nie jaar na jaar dieselfde dinge doen en ander resultate verwag nie,” sê hy.

Danie hou daarvan om met ander produsente te gesels en win gereeld inligting in van sojaboonprodusente in die VSA. “Al is daar streeksverskille, bly sekere beginsels universeel.”

Hy waarsku egter om nie sommer jou ore aan enigiemand uit te leen nie. “Nie almal in die bedryf beskik oor voldoende kennis om jou van die beste raad vir jou plaas te bedien nie. Voordat jy iets nuuts op groot skaal aanpak, toets eers die idees op klein skaal of gaan steek kers op by meer ervare produsente – anders kan jy jou vingers lelik verbrand,” beveel hy aan.

Danie deel graag sy kennis en sê as hy net ’n paar ander produsente kan inspireer en help, kan die gesamentlike resultate ’n groot bydrae lewer om die grond te verbeter en om volhoubaarheid te verseker.