Eenvoudige boerderyresep laai die opbrengsskaal

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

666

Die landboubedryf stel deesdae groot uitdagings en dit verg toewyding, slim planne en baie genade om sukses te behaal. So meen Hannes Bruwer van Genade Boerdery in Hopetown in die Noord-Kaap. Hy sê sy sukses is te danke aan ’n eenvoudige resep: Doen die basiese dinge in die boerdery reg, probeer voortdurend om te verbeter en skakel foute so veel as moontlik uit.

Hannes is onlangs as die wenner aangewys in die Groei vir Goud-afdeling vir mielies wat verbou word onder besproeiing, met ’n opbrengs van 23,36 ton met Pioneer se ultravinnige geelbaster P 1197YHR. Hannes het 23 360 kg/650 mm vog gestroop, wat beteken dat sy graanopbrengs 35 kg/mm vog was. Die wenkultivar, P 1197YHR, is op 25 November laas jaar op 50% van ’n 70 ha-spilpunt geplant met DKC 65-52BR op die ander helfte. Dit is vroeg in April vanjaar gestroop.

Die insetkoste van dié spilpunt is bereken op R1 198,58/ton en R28 000/ha. Voor mielies was daar lusern op die spilpunt en na die mielies gestroop is, is koring geplant. Bemesting en elektrisiteit verteenwoordig die grootste deel van sy insetkoste. Hannes sê die spesifieke land waar die wenkultivar geplant was se insetkoste was minder as van die ander aangesien die elektrisiteitsverbruik laer was, maar verder was daar geen verskil in bestuur nie.

“Ek dink my insetkoste is kompeterend met die van ander produsente in die omgewing. Ons is deel van ’n GWK-maatstafinisiatief waar ’n aantal produsente in die omgewing se syfers met mekaar vergelyk word.”

Met ’n opbrengs van 23,36 ton is Hannes Bruwer van Hopetown aangewys as die wenner in die afdeling vir mielies onder besproeiing. Hier is hy saam met sy gesin.

Wisselbou en diversifikasie is die sleutel
Benewens mielies, verbou Hannes ook lusern (25%), springmielies (15%) en saadsonneblom (10%) in die somer. Mielies verteenwoordig 30% van die someraanplantings. Sowat 20% van die lande is in ’n oorlêstelsel sodat hy weer vroeg mielies kan plant in die komende seisoen. Die winteraanplantings word opgemaak uit koring (50%), lusern (25%), beet en uie (10%), met sowat 15% van die lande wat rus. Omdat hulle in ’n warm klimaatstreek boer, kan hulle twee gewasse in een jaar verbou en die somergewas direk na stroop opvolg met ’n wintergewas. Die beskikbare water bepaal egter hoeveel gewasse in ’n siklus verbou kan word.

Diversifikasie en gebalanseerde risikoverspreiding is noodsaaklik en die wisselboustelsel vorm deel van laasgenoemde. “Wisselbou is ’n uiters belangrike beginsel en dra by tot ons volhoubaarheid. Lusern is die ideale wisselbougewas om te plant om gewassiektes op ’n natuurlike manier te beheer. Wanneer die lusern na drie jaar vervang en met mielies opgevolg word, lewer die mielies uiters ­goeie opbrengste,” sê Hannes.

Hy gebruik sagte chemiese produkte op die springmielies om plae en insekte te beheer sodat dit voldoen aan die vereistes wat gestel word vir die verbruikersmark. “Die Roundup Ready-mie­lies help ons om die hoë onkruiddruk op die ouer lande te beheer. Wisselbou is verder belangrik vir onkruid- en insekweerstandsbe­stuur. Ek probeer jaarliks die aanplantings wissel tussen springmie­lies, oorlêlande, sonneblom en Roundup Ready-mielies sodat ek nie die heel tyd dieselfde chemiese produkte gebruik nie. Dieselfde beginsel geld vir insekbeheer en die plant van Bt-mielies.”

Hannes sluit basters van verskillende maatskappye in die mielie­pakket in en kies elkeen omdat dit geskik is vir ’n spesifieke land se grondtipe en -status. Die mielies word in 76 cm-rye (30 duim) teen ’n plantestand van 95 000 plante/ha geplant. Die gemiddelde opbrengs tussen plase vir mielies die afgelope seisoen het gewissel tussen 16 t/ha en 20 t/ha.

Klimaat bly ’n uitdaging
Grond en water is twee bepalende faktore vir sukses en die ekstreme weersomstandighede van die Noord-Kaap bied die grootste uitdagings waarmee hulle jaarliks rekening moet hou. “Die afgelope seisoen se vloede en donderbuie, met ’n neerslag van 100 mm tot 150 mm, het ’n hele aantal uitdagings voor ons deur kom lê. Ons boer eintlik in die Karoo en ons grond kan nie soveel water op een slag hanteer nie.”

Genade Boerdery spandeer jaarliks groot bedrae aan dreine­ring. “Al my lande het dreineringslote, maar dit is nie genoeg om ’n massa water van donderbuie betyds uit die lande te kry nie. Deur die grond gelyk te maak met behulp van lasertegnologie kan ek dit beter as hulpbron benut en ook waterskade verminder.”

Goeie data verseker goeie beplanning
Al die grond is chemies en fisies gekarteer om die opbrengspotensiaal te bepaal en die infrastruktuur is daarvolgens ontwerp. Voor koring geplant word, word die grond ongeveer 500 mm diep met ’n tandimplement bewerk. Na die koring gestroop is, word die plantreste op die lande gelaat om windskade te beperk. Mielies word direk in die stoppels geplant na ’n strookbewerking om vog beter te bestuur.

Blaarontledings word voor kritieke stadiums in die plante se groeisiklus gedoen sodat hy dadelik regstellings kan maak as tekorte waargeneem word. Weeklikse satellietbeelde help om betyds op enige afwyking te reageer. Swamdoders word voorkomend op al die gewasse gespuit – voorkoming is vir Hannes beter as genesing wanneer dit by swamsiektes kom.

Bemesting word beplan na gelang van die grondstatus, die resultate van die blaarmonsters, die gewas wat geplant gaan word asook die opbrengsmikpunte. Hulle doen jaarliks grondontledings en in die winter wanneer lande diep bewerk word, maak hulle regstellings. Satellietbeelde word gereeld geneem en ontleed om produksie sinvol te monitor en tydig aanpassings en regstellings te maak. Hannes monitor die toediening van water en bemes­tingstowwe noukeurig om te verseker dat die regte bemesting op die regte tyd en op die regte dele van ’n land toegedien word. “Ons dien nog nie bemesting variërend toe nie, maar ek voorsien dat ons in die toekoms daarheen sal beweeg. Op die oomblik probeer ons nog eers om die basiese dinge reg te doen.”

Besproeiingskedulering en watertoediening word beplan en bestuur volgens behoefte. Hulle stap weekliks deur elke land en boor profielgate om die week se presiese waterbehoefte te bepaal. Beurtkrag is egter ’n groot probleem. “Ons moes die hele tyd die lande op grondwaterkapasiteit bestuur wat beteken dat die lande nat was. Dit was nodig omdat ons net sekere tye krag het om te besproei. Ons moes verseker dat daar altyd genoeg vog in die grond is vir die gewasse se behoeftes. Wanneer daar dan ’n stortbui op hierdie lande val waarvan die waterprofiele reeds hoog is, veroorsaak dit versuiptoestande.”

Hulle wil graag na alternatiewe energiebronne beweeg. Hoewel die topografie van die omgewing ideaal vir sonkrag is, is die koste verbonde aan die stoor van die energie vir gebruik in die nag onbekostigbaar.

Omdat hulle in ’n besproeiingsarea boer en van konstante water afhanklik is, is dit noodsaaklik dat pomp- en besproeiingstoerusting in stand gehou word. Hulle versterk en gradeer gereeld hulle vlotte en pompstasies op. “Donderbuie veroorsaak kits­vloede wat groot skade aan ons toerusting kan aanrig. Wanneer die rivier reeds in vloed is, kan donderbuie veroorsaak dat pompstasies verswelg word.”

Die foto wys hoe mooi die mielies na windskade herstel het. Die mielies in die kompetisieblok is net voor pluimstadium plat gewaai tydens ’n storm wat met erge wind en reën gepaardgegaan het.

Streng sakebeginsels
Om volhoubaar te bly voortbestaan, is winsgewendheid ’n vereiste en daarom word die boerdery streng volgens sakebeginsels bestuur. Vir Hannes is presisieboerderypraktyke noodsaaklik vir winsgewendheid. “Om goeie produksie te verseker, is dit noodsaaklik dat alles op die regte tyd gebeur. Ons mikpunt is om ons insetkoste goed te bestuur, maar steeds goeie opbrengste te realiseer. Effektiwiteit en noukeurigheid in alle aksies is dus van groot belang,” sê Hannes.

Hy verduidelik dat prysbestuur van insette intensiewe aan­dag geniet. “Die gelykbreekprys vir die komende seisoen word vir elke gewas bereken en dié prys vorm dan die basis vanwaar die bemarking bestuur word. Mielies word gekontrakteer deur twee of drie aankopers en hulle verskaf lusern aan drie uitvoerders. Ons maak seker dat daar altyd ’n rendement op ons beleggings in die boerdery is,” verduidelik Hannes.

Leer by mekaar
“Ons pa is die groot dryfveer in die boerdery en ek het geweldig baie by hom geleer. Hy ken boerdery en het al ’n ver pad in die landbou gestap. “Leef en laat leef” is sy lewensfilosofie en hy het ons geleer dat menseverhoudinge besonder belangrik is.”

Sy raad aan medeprodusente is om saam met ander produ­sente van die omgewing te werk wat ook ’n passie vir vooruitgang het. “As elkeen sy bietjie ervaring in een gemeenskaplike kennispoel gooi en koppe bymekaar sit, is die gesamentlike kennis goud werd.”

Hy sê dit is hoe hy leer. “Ek is deel van ’n studiegroep wat kwartaalliks mekaar se lande en praktyke besoek, ondersoek en evalueer. Ons voel dat ons op dié manier waardevolle tyd spaar wat proewe betref. Elkeen doen een proef in stede daarvan dat een persoon vyf of ses verskillende proewe doen. Ons fokus op verskillende aspekte en omdat ons mekaar ten volle vertrou, het ons die vrymoedigheid om eerlike kommentaar en insette te lewer. Oom Klasie Jacobs en Frans Wiid is deel van die groep en beskik oor ongelooflik baie kennis. Ons leer geweldig baie by mekaar op hierdie manier.”

Hulle bemestingskonsultant, Reg Meintjies, se praktiese kennis en ervaring is van onskatbare waarde. Hannes sê hulle ruil gereeld idees uit en doen saam navorsing oor wat landbouleiers wêreldwyd doen om te presteer.

Hannes is lid van Stroom-op Boerevereniging en Graan SA, asook voorsitter van die Vanderkloof-watergebruikersvereniging. Georganiseerde landbou se bydrae is vir hom uiters waardevol. “Die leiers in hierdie organisasies is toegerus om namens produsente belangrike sake op openbare platforms te stel.”

Aan jong produsente wat nou begin, sê Hannes: “Neem verantwoordelikheid. Wys aan dié wat jou ’n geleentheid gee dat jy bereid is om die taak op jou skouers te neem en met verantwoordelikheid uit te voer.”