“Bou liewer brûe as om af te sonder van ander”

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 10 Desember 2021

733

Vir dr John Purchase is dit nie die posisies wat hy in sy luisterryke loopbaan beklee het wat uitstaan nie, maar die feit dat hy kon help bou aan iets om die land beter en sterker te maak. John, wat sedert 2007 die uitvoe­rende hoof van Agbiz is, tree aan die einde van 2021 uit diens.

’n Loopbaan wat ’n verskil gemaak het
Al het sy ouers gehoop dat hy regte sou studeer, het sy liefde vir landbou wat op sy ouers se plaas in die Arlington-omgewing ontstaan het, sy finale loopbaankeuse beïnvloed. Sy professionele loopbaan het begin by die Kleingraansentrum (nou die LNR-Kleingraan) in Bethlehem, waar hy ook as student vakansiewerk gedoen het omdat hy ’n beurs­houer was. Hy was daar werksaam tot aan die einde van 1999 toe hy as hoof van die Somergraansentrum in Potchefstroom aangestel is. Later is hy bevorder tot senior adjunkdirekteur van die LNR-Instituut vir Graangewasse met die samesmelting van die Somergraansentrum en die Olie- en Proteïensadesentrum.

Navorsing en tegnologie-ontwikkeling lê John na aan die hart en hy het dit dus sterk ondersteun in sy loopbaan. “Navorsing moet ’n bydrae maak tot die produsent se winsgewendheid en volhoubaarheid. Vir my is behoeftegedrewe navorsing belangrik. Ek het dus hard gewerk om seker te maak dat al ons navorsingsprogramme belyn was met die behoefte van die produsent en die bedryf.”

In 2002 het John by die span van Graan SA aangesluit as be­stuurder van bedryfsdienste. Hy is later bevorder tot uitvoerende hoofbestuurder. Vir hom was hierdie tyd ’n waardevolle leerskool omdat dit ’n uiters uit­dagende tyd in veral die mieliebedryf was.

Dr John Purchase

John het in 2007 ’n aanbod van die Landboubesigheidskamer (nou Agbiz) aanvaar. Wat dié pos vir hom aanloklik gemaak het, was die feit dat hy die geleentheid sou kry om betrokke te raak in ’n gro­ter speelveld van die landbou en ook ’n groter invloed op regeringsvlak met beleidsvorming sou kon uitoefen. “Beleidskwessies lê my na aan die hart. Ons het destyds moeilike tye ingegaan met die nuwe regering, veral wat grondhervorming betref en hoe die nuwe voedselstelsels moes lyk. Dit was belangrik dat ons deelneem aan die gesprekke en in dié pos sou ek in ’n posisie wees om ’n verskil te maak en deel te neem aan gesprekke waar ons brûe kon bou.”

Tydens die COVID-19-krisis het hy die ekonomiese werkstroom binne die COVID-19-taakspan van die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, me Thoko Didiza, gelei om voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners in hierdie tyd te verseker. Hy was onder meer ook die leier van die agribesigheidswerkgroep binne die BRICS Business Council en speel tans ’n leidende rol in die ontwikkeling van die meesterplan vir landbou en landbouvoedselverwerking.

’n Brugbouer in aksie
John glo dat ’n mens die produk is van die interaksie wat jy oor tyd met ander mense het. “Ek was bevoorreg om oral met mense te werk by wie ek kon leer. Soms is dit moeilik en ongemaklik, maar jy word tydens die proses geslyp,” deel hy oor die belangrikheid van interaksie. “Wat jy regkry, is nooit uit jou eie alleen nie – dis altyd spanwerk.”

Volgens hom hoef spanwerk nie ’n strukturele eenheid te wees nie, maar ’n gedeelde doelwit. “Jy gaan nooit 100% ondersteuning kry nie. Kyk dus met wie jy ’n gedeelde visie kan ontwikkel en stap die pad saam met hulle.” Hy het in sy leierskap probeer om mense bymekaar te kry om oplossings wat tot die land se voordeel is, te bewerkstellig.

Een van sy mentors, Corwyn Botha (erevoorsitter van Agbiz wat in 2014 oorlede is), het vir hom gesê hy moet vertroue bou. “En dit was wat ek die laaste paar jare probeer doen het – vertroue bou tussen verskillende rolspelers in landbou.” John het nooit wegge­skram van uitdagings nie en dit liewer as ’n geleentheid gesien om ’n “brug te bou” deur vertroue tussen mense en groepe te bewerkstellig. Op die vraag hoe hy graag in die landboubedryf onthou sal word, sê John: “Al is daar mense wat dalk nie gaan saamstem nie, hoop ek dat ek as ’n brugbouer onthou sal word.”

Die belangrikste lewenslesse wat hy uit sy onderhandelinge met mense geleer het, is dat jy almal met respek moet hanteer. “As jy respek wil verdien, moet jy ander met respek hanteer – maak nie saak wie hulle is nie. Moenie mense se waardigheid ondergrawe nie. Probeer hulle standpunte en omstandighede ook verstaan.” Tweedens glo John dat die meerderheid mense goed is en na gemeenskaplike doelwitte toe wil werk. Derdens is alle mense afhanklik van mekaar op die een of ander manier. “Bou liewer brûe as wat jy jou afsonder van ander.”

Groot erkenning vir sy rol in landbou
John het in sy loopbaan erkenning uit verskeie oorde ontvang. Hy het onder meer die Alumnus van die Jaar-toekenning in 2011 van die Universiteit van die Vrystaat ontvang asook die Suid-Afrikaanse Landboukundige van die Jaar-toekenning in 2012. In 2019 het IFAMA sy rol in landbou erken en in September 2021 is hy vereer met die AFMA Persoon van die Jaar-toekenning. Selfs internasionaal is sy toewyding raakgesien en in Desember 2018 is hy vereer en tot ridder geslaan deur die Franse regering vir sy diens aan landbou en landboubesigheid. Die titel “Le Grade de Chevalier dans l’ordre du Mérite Agricole” (ridder van die orde van landboukundige meriete) is aan hom toegeken deur die Franse ambassadeur in Suid-Afrika.

Oor die talle toekennings wat hy ontvang het, sê John: “Ek het waardering vir die toekennings, maar dis nie waarvoor jy werk nie. Waarvoor jy werk, is om ’n omgewing te skep waarbinne entrepreneurs volhoubaar kan opereer en groei.”

Vir John loop sy suksesvolle loopbaan hand aan hand met sy opvoeding. “Die manier waarop ek grootgemaak is, het ’n groot rol in my lewe gespeel. My ouers het baie sterk op waardes gefokus.” Die feit dat hy goeie geleenthede gegun is toe hy jonger was, speel ook ’n rol. “Mense het seker maar ’n mate van potensiaal in my gesien en daarin belê en my ondersteun.” Sonder sy toewyding, harde werk en lang ure sou die verskil wat hy gemaak het ook nie gerealiseer het nie.

Die toekoms
John noem dat hy nie aftree nie, maar net uittree by Agbiz. Hy gaan operasioneel afskaal, maar steeds strategies betrokke wees by ’n paar sake. Hy wil meer tyd vir homself en sy gesin hê. “Ek sal ook graag saam met my vrou, Esté, wil reis en meer van ons land en Suidelike Afrika wil sien. Daar is nou ander prioriteite wat ek in my goue jare wil geniet.” John en Esté verhuis binnekort na die Suid-Kaap. “’n Nuwe omgewing met nuwe uitdagings vir my nuwe lewe.”