Syfers oor oeskwaliteit en gradering sal noodwendig verskil

Gepubliseer: 1 September 2021

103
Mariana Purnell, konsultant, e-Grain

Die vraag op almal se lippe die afgelope paar seisoene is of die graderingsresultate by silo’s wat deur die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) gerappor­teer word met die Suider-Afrikaanse Graan­laboratorium (SAGL) se oeskwali­teitsverslag vergelyk kan word en of daar ’n verskil tussen die twee kan wees.

Daar is gewis ’n verskil tussen die twee – wat aan verskeie redes toegeskryf word.

Kwaliteit en graad is twee verskillende konsepte. By silo’s word die graad van elke vrag graan bepaal volgens graderingsregulasies. Die SAGL, Suid-Afrika se nasionale verwysingslaboratorium vir kwaliteitsontledings, ontvang slegs ’n beperkte versameling van verteenwoordigende monsters graan per buis/sak/bunker/dam, per graad, per streek en dan ook slegs vanaf die elf lede van Agbiz Grain. SAGL gradeer nie net die monsters nie, maar voer verskeie kwaliteitsevaluasies daarop uit om die gemiddelde kwaliteit van graan oor die hele land te bepaal.

Die monsterneming deur Agbiz Grain-lede word oor die hele produksiegebied van elke tipe graangewas uitgevoer en SAGL rapporteer die kwaliteits­resultate van die ingesamelde monsters volgens die 36 produksiegebiede (Figuur 1), wat nie presies ooreenstem met provinsiale grense nie. Monsters vir die kwaliteitsopname van ’n produksieseisoen word ontvang vanaf Agbiz Grain-lede se silo’s en tydelike bergingstrukture wat in ’n bepaalde produksiestreek geleë is.

Figuur 1: Indeling van die Republiek van Suid-Afrika om 36 produksiestreke van verskillende graangewasse te toon.

Elke rolspeler se behoefte verskil ook. Vir verhandeling is dit belangrik dat gradering die gemiddelde vir ’n groot maat verteenwoordig sodat ’n prys bepaal kan word – dus die inligting wat opbergers en SAGIS rap­porteer. Vir eindgebruik is dit belangrik dat analitiese resultate die gemiddelde vir ’n groot maat verteenwoordig sodat die verwerker sy prosesse kan aanpas – dus die inligting wat SAGL rapporteer.

Opbergers verskaf ’n diens aan beide die ver­koper en die koper vir elke vrag en die gepaardgaande individuele transaksie moet onmiddellik afgehandel word, terwyl SAGL ’n landswye prentjie van die nasio­nale inherente graanoeskwaliteit vir ’n betrokke jaar skets. Omrede SAGL ’n ISO 17025-geakkrediteerde toetsfasiliteit is wat wêreldwyd aanvaarde toetsuitslae lewer, dien laasgenoemde inligting as ’n internasionale bemarkingsinstrument. Dit verbeter dus die mede­dingendheid van die Suid-Afrikaanse graanbedryf wat wêreldwyd meeding op grond van graankwaliteit.

Eerstens kan dié inligting insiggewende afleidings verskaf vir produksie-, verwerkings- en invoer- en uit­voerdoeleindes. Tweedens kan die langtermyndata verwerk word om kwaliteitstendense oor verskillende jare en verskillende produksiestreke te illustreer.

Gradering by silo’s
Spesifieke eienskappe/afwykings van graan word bepaal om die graad dienooreenkomstig toe te ken sodat die verkoper en/of die koper weet wat hulle beskikbaar het om te verkoop of koop en wat die prys daarvan is. Dit is vir verskeie rolspelers in die waardeketting belangrik.

Die enigste manier om die kommersiële waarde van graan te bepaal, is dus om verteenwoordigende monsters te laat gradeer. Swak steekproefneming en daaropvolgende nieverteenwoordigende analitiese resultate kan beduidende finansiële gevolge hê (eise, verwerpings, graan buite spesifikasie of minderwaardige eind­produkte). Betroubare toetsing van homogene monsters van elke vrag wat verteenwoordigend van die geheel is, is dus die sleutel om graan te lewer met die wete dat dit aan die koper se spesifikasies sal voldoen.

SAGIS
Silo’s se gradering is intyds aangesien die graadbepalings tydens graanlewering gedoen word. Elke graansoort word dan apart volgens graad opgeberg. Altesaam 64 medewerkers van SAGIS wat produsentelewerings van kommersiële mielies ontvang en graan opberg, gee weekliks inligting oor gradering en tonnemaat van graaninnames deur na SAGIS, alhoewel hulle nie statutêr verplig is om dit te doen nie. Agribesighede wat lede van Agbiz Grain is, is die hoofrolspelers in die graanwaardeketting wat graanopberging betref. Ongeveer 87% van huidige lewerings van witmielies (WM) word weekliks volgens graad gerapporteer, met Agbiz Grain-lede wat 68% van die WM-lewerings verskaf. Dus word 19% van die WM-lewe­rings deur rolspelers wat nie lede van Agbiz Grain is nie, gedoen. Ongeveer 13% van die landswye WM-lewerings word nie weekliks gerapporteer nie.

Die medewerkers dien vrywilliglik weeklikse opgawes van die produsentelewerings aan SAGIS in volgens die grade wat in daardie betrokke week ingeneem is. SAGIS rapporteer dan die inligting op gereelde basis progressief per bemarkingseisoen om ’n lands­wye prentjie te skets van alle innames. Daarby word die weeklikse produsentelewerings by wyse van die maandelikse opgawes deur SAGIS geverifieer en waar nodig word regstellings (as gevolg van gewysigde en/of laat opgawes) gemaak. Aan die einde van elke maand word die mielielewerings per provinsie opgesom en op die SAGIS-webwerf (sagis.org.za) gepubliseer.

Agribesighede wat lede van Agbiz Grain is, doen ook op ’n roe­tinebasis gradering van die kommoditeit wanneer dit uitgelaai word vir ’n koper. Hierdie inligting word egter nie deur SAGIS vasgelê nie. Die persentasie brekasie wat tydens opberging en hantering plaasvind (soos wanneer graan berook en oorgeplaas word na ’n ander buis) word dus nêrens gereflekteer as ’n verlies aan gehalte nie. Dit is dus vanselfsprekend dat daar ’n afname is in tonne van die hoogste graad en ’n toename in laer grade. Wanneer ’n vergelyking gemaak word tussen die samestelling van grade oor enige seisoen op verskillende tye – byvoorbeeld by inname; dit wat na afloop van die seisoen uitgelaai is en dit wat in die buis agterbly – sal die tonnemate van die onderskeie grade dus nooit dieselfde wees nie.

Die inligting wat deur SAGIS verskaf word, is gebaseer op die silo’s se intydse data en kan dus slegs met die silo se innames vergelyk word aan die begin van die seisoen. Daarenteen word SAGL se inligting retrospektief verskaf, die insameling van kwaliteitsmonsters vind op ’n heel ander manier plaas en die evaluasie van inherente graankwaliteit word op ’n statistiese basis gedoen. Dit kan dus glad nie met die silo’s se intydse graderingsinligting of met SAGIS se saamgestelde inligting vergelyk word nie. Tweedens word SAGIS se saamgestelde inligting volgens die nege provinsies aangedui, terwyl SAGL se inligting 36 produksiestreke verteenwoordig waarvan die grense nie met die van die provinsies ooreenstem nie.

SAGL-oeskwaliteit
Monsterneming deur Agbiz Grain-lede begin teen einde April elke jaar, wanneer die eerste lewerings van die seisoen vir opberging ingeneem word. Elke jaar gedurende die oestyd word ’n verteen­woordigende monster van elke graanlewering by elke in­na­me­punt geneem en die graad volgens die voorgeskrewe graderingsregulasies bepaal. Dit is hierdie intydse proses wat by die silo’s sowel­ as tydelike opbergingstrukture soos silosakke, bunkers en graandamme plaasvind (soos hierbo beskryf) en die resul­tate word dan aan SAGIS gerapporteer. Hierdie inligting word weekliks en maandeliks deur SAGIS verskaf.

Monsters
Die oesmonsters word aan SAGL voorsien gebaseer op ’n ooreenkoms met Agbiz Grain-lede wat bogenoemde graderingsmonsters hou en verteenwoordigende saamgestelde monsters aan die laboratorium verskaf om die gemiddelde inherente kwaliteit van graan landswyd te bepaal. Die bron waaruit SAGL monsters ontvang, verteenwoordig dus nie die opbergingsinfrastruktuur vir die hele kommersiële oes in Suid-Afrika nie, maar is voldoende om kwaliteitsbepalings te doen.

Tydens die innameproses word sodanige verteenwoordigende monsters gegradeer in ooreenstemming met die graderingsregulasies soos in die Staatskoerant gepubliseer. Nadat die silopersoneel ’n vrag gegradeer het, word elke graderingsmonster (met inbegrip van alle afwykings wat tydens die gradering verwyder is) in ’n groot versamelhouer geplaas. Aparte houers word gebruik volgens gewas, klas en graad, per silobuis/sak/bunker/graandam.

Submonsters
’n Werksgroep bestaande uit onder andere Agbiz Grain-lede, ’n statistikus en SAGL, het die proses en aantal monsters bepaal wat nodig is om te verseker dat die monsters wat na SAGL gestuur word, verteenwoordigend van die kwaliteit van die oes (per graantipe) is. Seisoenale variasie in die werklike tonnemaat gelewer word nie op ’n jaarlikse basis in ag geneem nie.

Nadat 80% van die verwagte oes in die toevoerarea van die Agbiz Grain-lid se innamepunt ontvang is, word die inhoud van elke versamelhouer deur middel van ’n meervoudigegleuf-apparaat verdeel om ’n verteenwoordigende submonster van 3 kg te verkry. Indien daar meer as een houer van dieselfde graad of buis, ensovoorts is, word die gekombineerde inhoud van die houers verdeel deur middel van ’n meervoudigegleuf-apparaat om ’n saamge­stelde verteenwoordigende deelmonster van 3 kg te verkry. Hierdie 3 kg-monsters word aan SAGL gestuur. Elke monstersak is gemerk met die naam van die silo, die nommer van die silobuis/sak/bunker/dam en die graad van die graan.

Dit is belangrik om daarop te let dat al hierdie monsters vir SAGL op eenvormige wyse deur alle Agbiz Grain-lede versamel word uit ’n versamelhouer by elke innamepunt wat graan per silo­buis/sak/bunker/dam van dieselfde graad verteenwoordig. SAGL ontvang dus ’n verteenwoordigende monster van elke graad en silo­buis/sak/bunker/dam wat by ’n opbergingspunt gelewer is, maar het geen aanduiding van hoeveel ton graan die betrokke monster verteenwoordig nie, omdat daar van elke besending, ongeag die tonnemaat, slegs een verteenwoordigende monster getrek word. Die monsters wat SAGL ontvang, is dus nie wiskundig en statisties vergelykbaar met die inligting wat SAGIS per graad rapporteer nie.

Sub-submonsters
Die verwagte kommersiële produksie per seisoen word jaarliks vir elke tipe graan deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) bepaal en persentasiegewys aan die provinsies toegedeel. Die SAGL bereken die relatiewe aantal monsters wat die nasionale oes proporsioneel verteenwoordig volgens die provinsiale oesskattingsyfers vir die betrokke jaar. Hulle ontleed dan ’n ooreenstemmende aantal monsters wat proporsioneel geselekteer word uit al die monsters wat ontvang is vanaf Agbiz Grain-lede.

Om die inligting sinvol te weerspieël, is Suid-Afrika in 36 graanproduksiestreke verdeel. Die landboubesighede wat graanopberging bied, is versprei oor al die streke en dus kan geen spesifieke afleiding vir ’n enkele opbergingspunt gemaak word nie. Op hierdie manier word daar voldoen aan die vereistes van die Mededingingskommissie en word die onderskeie innamepunte se inligting nie openbaar gemaak nie. Die graanproduksiestreke stem nie ooreen met die provinsies nie en is min of meer as volg ingedeel:

1: Namakwaland-streke
2 tot 4: Swartland-streke
5 en 6: Streek Rûens
7 en 8: Oos-Kaap-streek
9: Karoo
10: Griekwaland-Wes
11: Vaalharts
12 tot 20: Noordwes
21 tot 28: Vrystaat
29 tot 33: Mpumalanga
34: Gauteng
35: Limpopo
36: KwaZulu-Natal

Groot produksiestreke word verder verdeel volgens klimaatskenmerke soos byvoorbeeld:

  • Warm westelike streek (westelike dele van die Vrystaat en die grootste deel van Noordwes)
  • Gematigde oostelike streek (Gauteng en die sentrale dele van die Vrystaat)
  • Koue oostelike streek (Mpumalanga se Hoëveld en Oos-Vrystaat)
  • KwaZulu-Natal-streek (die westelike/hoogliggende en sentrale/middellande van KZN)

Alhoewel verteenwoordigende monsters van die oes wat gelewer is by alle opbergingstrukture in hierdie streke aan SAGL gestuur word, verteenwoordig die opberging in die permanente strukture (silo’s) die grootste tonnemaat graan en dus ook die grootste aantal submonsters vanuit die groot versamelhouers.

In een enkele produksiejaar kan SAGL byvoorbeeld mieliemonsters ontvang vanaf 219 silo’s, versprei oor verskeie produksiestreke (Grafiek 1), insluitend die tydelike opbergingstrukture wat omtrent vyf innamepunte met silosakke, 28 met bunkers en een of meer graandamme behels. Onthou egter dat Agbiz Grain-lede slegs 68% van die inligting oor WM-lewerings landswyd aan SAGIS verskaf en dus verteenwoordig hulle monsters aan SAGL ook nie alle mielielewerings nie.

Grafiek 1: Permanente opbergingspunte vir mielies oor verskeie produksiestreke kan soveel as 219 silo’s insluit.

Opbergingspunte vir koring kan in een jaar soveel as 192 silo’s insluit, versprei oor verskeie produksiestreke (Grafiek 2). Ongeveer 16 innamepunte met silosakke, 20 met bunkers en een of meer graandamme word verteenwoordig.

Grafiek 2: Permanente opbergingspunte vir koring oor verskeie produksiestreke kan soveel as 192 silo’s insluit.

Die kwaliteit van die graan in die drie belang­rikste graan­produserende provinsies, naamlik die Vrystaat (streke 21 tot 28), Mpumalanga (streke 29 tot 33) en Noordwes (streke 12 tot 20) kan moontlik met SAGIS se inligting vergelyk word aangesien die grense min of meer ooreenstem. SAGL se resultate word gerapporteer as geweegde gemid­deldes oor streke per seisoen en as geweegde gemiddeldes oor seisoene. Daarby verteenwoordig elke streek een of meer Agbiz Grain-lede se innamepunte (Grafiek 3 en Grafiek 4)­en vloei van die graan dalk ook na ander opbergingspunte in die betrokke gebied en voorsien sodanige rolspelers dus nie monsters aan SAGL nie.

Grafiek 3: Verspreiding van opbergingspunte per kommersiële landboubesigheid vir mielies oor al die produksiestreke in Suid-Afrika, uitgesluit tydelike opbergingstrukture.
Grafiek 4: Verspreiding van opbergingspunte per kommersiële landboubesigheid vir koring oor al die produksiestreke in Suid-Afrika, uitgesluit tydelike opbergingstrukture.

SAGL ontvang gewoonlik die eerste besen­ding monsters sowat een tot drie maande nadat die oes begin het en spring dadelik aan die werk. Uitslae word weekliks op die SAGL-webwerf bygewerk nadat die ontledings begin het. Die volledige grade­rings- sowel as die fisiese en voe­dingkwaliteitsinligting van alle gewasmonsters vir die verskillende grane (mielies, koring, sonneblom, sojabone en sorghum) is dan elke jaar ongeveer ses maande later op die SAGL-webblad beskikbaar.

Die graan in versamelhouers wat die onderskeie grade verteenwoordig en waaruit saamgestelde monsters geneem word, moet baie goed vermeng word. Dit is belangrik om te onthou dat die monster wat SAGL ontvang, geneem is uit die groot versamelhouer waarin die graderingsmonster met al die afwykende mate­riaal wat tydens die gradering verwyder is, geplaas word. By die silo word ’n produsent ’n voorlopige graad toegeken op grond van die moontlikheid dat sy vrag gesif kan word vir sifsels asook gifsade. Na afloop van die sifproses word ’n massa-aanpassing ook gemaak. Die inligting wat SAGIS ontvang oor gelewerde graan is dus die resultaat van ’n vrag nadat al die sifsels en gifsade verwyder is. Dit is nie ’n spesiale vergunning aan die produsente nie, maar ’n roetinediens wat opbergers teen vergoeding aanbied om te verseker dat ’n produsent die volle waarde van die gehalte van sy graan realiseer.

Uit ’n SAGL-verslag mag dit dus blyk dat ’n baie groot persentasie van die land se oes ’n laer graad moes wees, maar produsente ervaar dit nie noodwendig so tydens die gradering van hul graan nie. Terwyl die opbergers aan SAGIS die graad rapporteer op ’n “skoonmonsterbasis” (met ander woorde die sifsels en gifsade is reeds verwyder), ontvang SAGL dus “vuil” monsters (die sifsels, gifsade en alle defekte is steeds deel van die monster) waarvolgens die oeskwaliteit bepaal word. Die SAGL-verslag toon dus spesifiek watter faktore dalk tot afgraderings kon gelei het.

Die tyd (aantal weke na aanvang van die stroopseisoen) wanneer die saamgestelde monster by die betrokke innamepunt geneem word, is ook baie belangrik. Grafiek 5 toon dat indien die verteenwoordigende monster byvoorbeeld na September 2020 geneem is, kan sodanige verteenwoordigende monsters wat SAGL bereik ook ’n skewe prentjie skets van die grade wat gelewer is. Omdat die saamgestelde monsters nie intyds is nie, oor ’n onbepaalde periode strek, onberekende tonne behels en nie die hele oes verteenwoordig nie, kan die inligting wat deur SAGL verskaf word dus glad nie met SAGIS se opsommende inligting van die gradering van die totale oes vergelyk word nie.

Grafiek 5: Wisseling in WM-gradering oor een seisoen.

’n Onlangse SAGL-verslag het getoon dat alhoewel die mielie-oes van die 2019/2020-seisoen byvoorbeeld die tweede grootste in die geskiedenis was, die gehalte van die saamgestelde monsters wat ontvang is vanaf Agbiz Grain-lede vir die tweede agtereenvolgende seisoen van ondergemiddelde gehalte was. Slegs 43% van die WM-monsters is as graad een geklassifiseer teenoor die vorige seisoen se 58%. Direkte vergelykings tussen die SAGL-oes­kwaliteitsverslag se graderingsresultate met SAGIS se verslag is dus ongegrond. SAGIS se syfers is gebaseer op monsters van elke vrag van 87% van die landswye WM-lewerings (waarvan Agbiz Grain-lede slegs 68% verskaf), terwyl SAGL nooit meer as duisend WM-monsters in totaal ontleed nie.

Die kwaliteitseienskappe waarvoor SAGL toets, is die RSA-gradering- en fisiese kwaliteitsfaktore, maar kan ook ander kwaliteits- en voedselveiligheidseienskappe behels. Vir koring word byvoorbeeld ook die maal- en bakwaarde bepaal bo en behalwe die RSA-gradering. Hierdie data het oor jare gehelp met besluitneming rondom die verandering in koringgradering en die aanpassing van evaluasie­norme vir die toelating van nuwe koringkultivars.

Vir mielies sluit die analises verder in:

  • Gradering volgens die Amerikaanse graderingsregulasies.
  • Voedingswaardes soos ruproteïen, ruvet, ruvesel en stysel.
  • Die witheidsindeks van mieliemeel afkomstig van alle WM-monsters.
  • Mikotoksienontledings verteenwoordigend van die onderskeie produksiestreke.
  • Geneties gemodifiseerde (GM) graan.

Die resultate word as ’n gemiddeld, minimum en maksimum per graanproduksiestreek gerapporteer en graankwaliteit van die kommersiële oes op nasionale vlak. Hierdie waardevolle data toon algemene neigings, beklemtoon enige kwaliteitsverskille in die kommersiële mielies wat in verskillende produksiestreke geproduseer word vir plaaslike markbehoeftes en verskaf belangrike inligting oor die kwaliteit van byvoorbeeld kommersiële mielies wat vir uitvoer bedoel is.

SAGL se kwaliteitsbepalings op graan wat ingevoer word vir huishoudelike gebruik illustreer verder Suid-Afrika se mede­dingendheid. SAGL toon jaarliks in sy verslae dat indien die kwaliteit van byvoorbeeld ingevoerde koring vergelyk word met dié van plaaslik geproduseerde koring, die Suid-Afrikaanse koring met die beste ter wêreld kan meeding.

Inligting per gewas is beskikbaar op die SAGL-webwerf (sagl.co.za) en wek wêreldwyd belangstelling by veral moontlike internasionale kopers en bewondering by eerstewêreldse graanproduserende lande wat die plaaslike bedryf beny. Die verslae word jaarliks versprei aan groepe in die plaaslike graanwaardeketting wat direk geraak word en belangstellendes landswyd.

Die doelwit van die oesgehalte-opname is die jaarlikse bepaling van die kwaliteit van die kommersiële graanoes op ’n nasionale vlak. Dit het die SAGL in staat gestel om langtermyn­kwaliteitsdata per seisoen te versamel – mielies (23 jaar), koring (22 jaar), sojabone (9 jaar), sonneblom (8 jaar) en sorghum (3 jaar). Die gemiddelde data van die vorige seisoen(e) kan verder in elke verslag opgeneem word om die seisoene met mekaar te vergelyk.

Databasis van graankwaliteit
Data word jaarliks by hierdie bestaande datastelle gevoeg en ’n omvangryke databasis is nou reeds saamgestel. Hierdie waardevolle data wat oor verskeie seisoene versamel is, maak dit moontlik om belangrike statistiese ontledings uit te voer. Die inligting toon algemene neigings en beklemtoon kwaliteitsverskille in die kommersiële graan wat in die onderskeie produksiestreke geproduseer word. Die databasis kan dus ’n besluitnemingsinstrument bied om belangrike inligting te verskaf oor die kwaliteit van kommersiële graan wat vir uitvoer bedoel is – met die gevolg dat kieskeurige kopers soos Japan, Suid-Korea en Taiwan byvoorbeeld Suid-Afrikaanse mielies verkies.

Die SAGL-databasis van gewasse se kwaliteitsbepalings oor die verskillende seisoene en streke leen hom ook daartoe om gebruik te word vir die identifisering van potensiële probleem­areas in graan­kwaliteit en om die fokus vir toekomstige navorsings­aktiwiteite aan te dui. Data-ontginning sowel as kwaliteitsverwante ondersoeke en behoeftebepalings vir navorsingsprojekte, soos aangevra deur die onderskeie bedryfskakelkomitees, word gebaseer op die resultate wat verkry word uit hierdie databasis. Die databasis maak verder tendensontledings en die ontwikkeling van voorspel­lingsmodelle moontlik. So is daar byvoorbeeld pro­bleme ondervind met die opberging van nuwe varië­teite mielies en kan die data dan moontlik aandui of daar ’n toename in die vatbaarheid vir brekasies en spanningskrake is by nuwe vinnige groeiers. SAGL-data is ook as basis gebruik toe die mie­liegraderingsriglyne verlede jaar heroorweeg is.

Ontwikkeling van ’n geografiese in­ligting­stelsel (GIS-kaarte) is ook moontlik gemaak waar graanproduksiestreke (met die ge­ïllustreerde grense) aangebied word op ’n kaart van Suid-Afrika. Hierdie GIS-kaarte kan gemiddelde waardes vir elke betrokke kwaliteitseienskap toon vir mielies, koring, sojabone, sonneblom en sorghum in ’n spesifieke streek as ’n gemid­delde vir alle seisoene of as individuele seisoene op ’n jaar-tot-jaar basis. Die resultate van die kwali­teitseienskappe van die gewas word voorge­stel in ’n kleurskaalformaat – die hoogste tot dielaagste waardes word aangedui van die don­kerste tot die ligste kleur om ’n enorme hoeveelheid inligting te verpak en met een oogopslag aan te bied.

In die perfekte sisteem
Indien geld nie ’n kwessie was nie, sou die bedryf ’n onwrikbare sisteem in werking kon stel deur die volgende te doen:

    • Alle gradeerders neem jaarliks deel aan ringtoetse (SAGL se nasionale vaardigheidstoetsskema) om tegniese bekwaamheid en kundigheidsvlakke te waarborg.
    • SAGL en alle opbergingspunte landswyd is gekoppel deur middel van ’n rekenaarnetwerksisteem.
    • Alle opbergingspunte se graderingsresultate word onmiddellik vasgevang op ’n netwerksisteem.
    • SAGL ontvang al die graderingsresultate en verwerk dit om geselekteerde faktore van die oeskwaliteit te weerspieël soos deur die graderingsregulasie bepaal. Kwaliteitsparameters wat op instrumente deur middel van kalibrasies getoets word, maar nie noodwendig in die graderingsparameters ingesluit is nie, is:

      • Mielies – proteïene, vog, maalindeks, olie, stysel.
      • Sonneblom – olie, vog.
      • Sorghum – vog.
      • Sojabone – proteïene, vog, olie.
      • Koring – hektolitermassa, proteïene, vog, valgetal.

So ’n netwerk tussen graaninnamepunte, SAGIS­ en die SAGL sou die ideaal wees. SAGIS sou dan steeds rapporteer oor die weeklikse gradering en maandeliks ’n opsommende verslag verskaf en daar sou geen verskil tussen die gradering volgens SAGL en SAGIS wees nie. Slegs die graad en beperkte kwaliteitsfaktore sou egter dan beskikbaar wees. Geen van die ander kwaliteits- en voedselveiligheidsfaktore wat versekering van internasionale vergelyk­baarheid moontlik maak, sou beskikbaar wees nie. Om Suid-Afrikaanse graan steeds mede­dingend in die wêreldmark aan te bied, sou verteenwoordigende monsters steeds aan SAGL verskaf moet word om die inherente oes­kwaliteit te bepaal.