Riglyne vir produsente wat eerste keer sojabone plant

Gepubliseer: September 2021

8752
Wessel van Wyk, sojaboonkundige en kontrakteur, PNS

Wanneer ’n produsent besluit om sojabone te begin produseer, moet dit twee jaar voor die werklike plant daarvan plaasvind, aangesien sekere faktore eers in plek moet wees alvorens geplant kan word.

Die belangrikste faktor is om grondmonsters te trek van die beplande grond, dit te ontleed en te interpreteer en dan daarvolgens grondregstellings te doen. Die pH en kalkbe­hoefte is veral belangrik, want as daar kalk toegedien moet word moet dit reeds op die gewas voor sojabone gedoen word. Indien daar groot toedienings van fosfor (P) en kalium (K) gedoen moet word, kan ’n groot gedeelte daarvan ook al op die voorafgaande gewas gedoen word.

’n Tweede faktor wat aandag moet kry, is die moontlike oordra van onkruiddoders van een jaar (gewas) na die ander jaar (gewas). Onkruiddoders wat byvoorbeeld op mielies en koring gebruik word, kan in die meeste gevalle nie op sojabone gebruik word nie. Daar is ook wagtydperke alvorens sojabone ná ’n spesifieke onkruiddoder aangeplant kan word. Dit is raadsaam om onkruiddoders wat ’n wagtydperk van tien tot twaalf maande het reeds twee jaar voor die plant van sojabone op daardie grond te onttrek.

Derdens moet enige verdigtingslae opgehef word met ’n grondbreker. Dit is ook belangrik om lande te kies waar daar nie klippe is of wat baie ongelyk is nie. Sojabone word baie laag gestroop (30 mm tot 60 mm) en dus kan die stropermes beskadig word indien die land ongelyk of vol klippe is. Indien die produsent nie oor sy eie stroper beskik nie, moet hy seker maak dat hy ’n ooreenkoms met ’n kontrakteur aangaan om op ’n spesifieke datum vir hom te kan stroop. Die aantal dae van plant tot stroop verskil geweldig tussen kultivars – dit is nodig om hierdie inligting vir spesifieke kultivars by die saadmaatskappye te kry. Vermy ook lande waar versuiping kan voorkom en waar daar probleme met veral uintjies is.

Vervolgens word die grond en ander praktyke een vir een bespreek soos wat dit deur die seisoen toegepas word.

Grond
Bly weg van gronde waarvan die struktuur seergekry het. Die voorkoms van kluite met groottes tussen dié van ’n golf- en ’n tennisbal dui gewoonlik op struktuurprobleme (Foto 1) en slaan maklik toe met harde buie reën. Dit lei tot swak opkoms van die sojabone. Gronde wat as gevolg van tekstuurprobleme (kleiper­sentasie) toeslaan, moet ook eerder vermy word – andersins moet bewerkingsmetodes verander word om die organiese inhoud van die grond te verbeter. Sojabone aard op ’n wye spektrum van kleipersentasie en kan op gronde met 10%- tot 45%-klei geplant word.

Foto 1: Beskadigde struktuur van grond.

Alhoewel sojabone steeds redelik vaar op gronde waarvan die elemente nie optimaal is nie, is dit belangrik om te weet wat die optimale waardes vir hierdie elemente in die verskillende grondsoorte is. In Tabel 1 word hier­die waardes aangedui. Die pH-waarde van grond waarop sojabone verbou gaan word, moet wissel tussen ’n water-pH van 5,8 en 6,5.

Indien kalk toegedien moet word, word die magnesiuminhoud (Mg-inhoud) dikwels gebruik as ’n aanduiding van watter tipe kalk gebruik moet word. Indien dit onder 100 mg/kg is, moet dolomitiese kalk gebruik word. Bo 100 mg/kg of 0,6 x grondkalsium (Ca) moet kalsitiese kalk gebruik word. Alhoewel sojabone nie baie gevoelig vir brakgronde is nie, is dit verkieslik dat die natrium onder 50 mg/kg moet wees, die weerstand (R) tussen 2 000 en 3 500 ohm en die geleiding (EC) onder 75 mS/m.

Bemesting
Die bemesting van sojabone berus soos by baie ander gewasse op die verwydering van elemente uit die grond deur ’n sekere oes. Indien die voedingselemente dus op optimale vlakke is, word slegs dit wat deur die vorige oes verwyder is, teruggeplaas. In Tabel 2 word die verwyderingsyfers deur sojabone uit die grond gegee.

Sojabone is in staat om deur middel van simbiose met Rhizobium-bakterieë selfversorgend te wees ten opsigte van hul stikstofbehoefte.

Soos in Tabel 2 gesien kan word, is daar ’n groot behoefte aan veral K by die verbouing van sojabone. In Tabel 3 en Tabel 4 word bemestingsriglyne vir P en K vir sojabone gegee.

Die meeste produsente strooi kunsmis breedwerpig uit en werk dit in of in die geval van geenbewerking word kunsmis deur reën en erdwurms ingeneem. Daar is ook produsente met planters wat verseker dat kunsmis nie met planttyd naby die saad geplaas sal word nie en dus plant hulle gewoonlik met ’n mengsel.

Waar winde en sandgrond ’n probleem is (soos tipies in die weste), kan daar met ’n volledige NPK-mengsel geplant word met die beperking dat daar nie meer as 15 kg tot 20 kg N in die plantvoor geplaas moet word nie. Die mengsel moet ook weg van die saad geplaas word sodat kunsmisbrand nie voorkom nie. In Foto 2 en 3 kan tekortsimptome van P en K gesien word.

Foto 2: P-tekortsimptome op die middelste twee rye.
Foto 3: K-tekortsimptome op die middelste twee rye.

Kultivars en volwassenheidsgroepe
Alle kultivars word in volwassenheidsgroepe (VG) ingedeel wat dui op die aantal dae wat dit neem vandat die kultivar geplant is totdat dit volwasse en reg om te stroop is. Volwassenheidsgroepe is ingedeel van ’n groep 000 wat die naaste is aan die pole tot ’n groep 10 wat die naaste is aan die ewenaar – anders gestel ’n VG van 000 word in koue dele aangeplant, terwyl ’n VG van 10 in warm gebiede aangeplant word. Volwassenheidsgroepe is verder in tiendes tussen groepe verdeel, byvoorbeeld 4,4 of 6,2. In Suid-Afrika word daar hoofsaaklik groepe 4, 5, 6 en soms 7 aangeplant. Die groepe 4 en 5 word in die koeler dele aangeplant, groepe 5 en 6 in die matige gebiede en groepe 6 en 7 in die warm gebiede.

Dit is verkieslik dat meer as een volwassenheidsgroep aangeplant word om risiko’s van droogte, hael en siektes te verlaag. Dit verleng ook die strooptydperk. Sekere sojaboonkultivars het ’n bepaalde groeiwyse. Dit beteken dat dit begin blom, dan binne vier weke tot ses weke klaar blom en eindig op die hoofstam met ’n raseem van peule. Die ander tipe groeiwyse is onbepaald. Dit is baie gevoelig vir daglig en sal begin blom wanneer die naglengte ’n sekere tyd lank is. Indien hierdie tipe sojabone in ’n droogtetoestand ingaan, sal dit ophou groei en peule maak, maar sodra daar weer vog is, sal dit aanhou groei en blom totdat dit ’n sekere aantal dae na plant bereik het (spesifieke volwassenheidsgroep).

Ander eienskappe wat by die keuse van ’n kultivar in ag geneem moet word, is die saadmassa en struktuur (bosagtig of regop). ’n Bosagtige struktuur het byvoorbeeld ’n groter potensiaal as gevolg van meer systamme. Oorweeg ook weerstand teen uitspring laat in die seisoen en planthoogte (plante van 76 cm tot 80 cm is groot genoeg en sal minder omval as langer plante). Daar is tans oor die 40 verskillende kultivars wat deur verskeie maatskappye verkoop word. Dit is belangrik dat saad voor die seisoen begin (so vroeg as Mei) bestel word sodat produsente verseker is hulle kry die kultivar wat hulle soek.

Enting van saad met Rhizobium-bakterieë
Die sojaboonplant is geheel en al afhanklik van die stikstof (N) wat dit van die Rhizobium-knoppies op die wortels kry. Die plant verskaf koolhidrate en suikers aan die Rhizobium in ruil vir N. Aangesien die spesifieke ras van die Rhizobium wat hier gebruik word nie endemies aan Suid-Afrika is nie, is dit belangrik dat die saad elke seisoen behoor­lik geënt word.

Dit is belangrik dat wanneer sojabone vir die eerste keer aangeplant word, die saad voor plant en tydens plant in die plantvoor geënt word. Onthou dat Rhizobium lewendige organismes is wat gedood kan word deur direkte sonlig asook die afwesigheid van suurstof in die grond as gevolg van versuiping. Indien daar ’n fout met enting gemaak word, kos dit die produsent baie geld vir iets wat hy vir R60/ha tot R90/ha kon gekry het. Bowenal is dit nie naastenby so effektief nie. Daar is tans saadmaatskappye wat sojabone self ent en dan as sodanig verkoop. Maak net seker dat die sojabone geplant word voor die vervaldatum van die entstof.

Rywydtes en plantdigtheid
Sojabone word aangeplant in rywydtes van 25 cm tot 150 cm. Die meeste rywydtes wissel egter tussen 38 cm en 90 cm. Indien die regte plantpopulasie gebruik word, kan sojabone in enige van bo­genoemde rywydtes geplant word solank die spasiëring van plante binne die ry nie nader as 4 cm en verder as 8 cm is nie. Die redenasie rondom hierdie praktyk is dat die produsent nie van planter hoef te verander waarmee hy mielies plant nie. Dit moet onthou word dat die plantpopulasie die populasie plante is wat tydens stroop op die land moet wees. Daar is baie faktore wat kan bydra tot die “wegraak” van plantestand deur die seisoen, soos swak kiempersentasie, insekte, siektes en onderdrukking van sekere plante deur ander. Daar moet dus ongeveer 15% tot 20% meer saad geplant word as die beoogde plantestand teen strooptyd.

Plantdatum en plantproses
Plantdatum word bepaal deur die streek (koel, matig of warm). In die koeler gebiede word sojabone soms so vroeg as 10 Oktober geplant, maar die optimale planttyd is tussen 20 Oktober en 20 November. In die matige gebiede is die planttyd tussen 1 en 30 November en in die warm gebiede is dit tussen 15 November en 15 Desember. Die groeilengte van die kultivar speel ook ’n rol by plantdatum. Indien kort groeiers te vroeg geplant word, kan dit al stroopgereed wees in begin Maart, wanneer nog heelwat reën kan val wat stroop kan vertraag.

Moet dit egter ook nie te laat plant nie, want dan kan dit dieselfde tyd ryp word as die langer groeiers. Die beste is om eers die langste groeiers te begin plant om ten volle gebruik te maak van die hitte-eenhede van die seisoen, dan die kortste groeiers en dan die kultivars tussenin volgens groeilengte. Let daarop dat as daar gepraat word van die langste en kortste groep kultivars, dit betrekking het op die gebied waar dit geplant word. Met ander woorde in die koel gebiede sal die langste groep iets soos ’n 5,8 of 6 wees, terwyl die kortste groep iets soos ’n 4,2 of 4,4 sal wees. Net so sal in die warm gebiede ’n kort groeier gereken word as ’n 5,5 tot 5,8 en ’n lang groeier as ’n 6,8 tot 7,0.

Wanneer daar as gevolg van swak opkoms en haelskade oorgeplant moet word, word ’n ander benadering gevolg. Indien daar swak opkoms of vroeë hael was en daar kan dadelik oorgeplant word, gebruik dieselfde volwassenheidsgroep as wat geplant was. Indien laat hael voorkom en sojabone kan nog steeds geplant word, gebruik dan ’n kultivar wat medium lank is soos tussen 5 en 6. Die redenasie hier is dat vinnige groeiers twee weke na opkoms begin blom – die plante is uiteindelik baie klein met lae opbrengs. Lang groeiers kan weer in ’n situasie beland waar ryp dit kan beskadig. Mediumgroeiers maak egter groot genoeg plante om beter opbrengste te lewer.

Sojabone word hoofsaaklik met mielieplanters waarvan die plate aangepas is om die uiters hoë plantdigtheid te hanteer, geplant. Die oopmaak van die plantvoor – hetsy deur kouters of tande – word vir bepaalde toestande gebruik. In gebiede waar windskade na plant kan voorkom, word ’n “dieper” plantvoor verkies sodat saailinge teen die wind beskerm kan word. Die gebruik van tande is dus ’n beter opsie en dit kan later met ’n roller gelyk gerol word.

Met kouters is daar basies net ’n sny in die grond en die grond is klaar gelyk vir die stroopproses (Foto 4). Sojabone neem 50% van hul gewig in vog op voordat dit kan ontkiem en dus moet daar gewaak word teen te droog en te vlak te plant. Plantdiepte kan wissel tussen 3 cm en 5 cm. Indien die kanse goed is dat daar nie reën tussen plant en opkoms sal val nie, kan verkieslik ’n bietjie dieper geplant word, soos 3,5 cm tot 4,5 cm.

Foto 4: Oopmaak van plantvore: links (kouter) en regs (tand).

Onkruidbeheer
Die meeste sojaboonkultivars is deesdae bestand teen glifosaat. Dit veroorsaak dat produsente onkruide nie meer ordentlik vanaf opkoms beveg nie omdat hulle dit later kan beheer. Hierdie praktyk is egter verkeerd – baie produsente is die afgelope paar seisoene gevang deur deurdringende reën tydens Desember. Hulle kon dus nie met spuittoerusting in die lande kom om onkruid te beheer nie. Sojabone wat saam met onkruid opkom, kry skade vanaf die begin en verliese aan opbrengs is ’n werklikheid.

Deesdae is daar baie goeie vooropkomsdoders wat grasse, breëblare en uintjies kan beheer. Produsente wat met van hierdie doders plant, hoef in die meeste gevalle nie eers terug te gaan met glifosaat nie en dus is dit ekonomies ’n goeie praktyk.

Daar is tans onkruide wat weerstandbiedend raak teen glifosaat, soos die skraalhanse, wandelende Jood en selfs misbredie. Beheer met ander onkruiddoders is dus uiters belangrik sodat weerstand nie hande uitruk nie.

Insekte en siektes
Insekte wat skade doen op sojabone moet betyds beheer word. Bolwurm, sojaboon-“looper”, bontrokkielarwe, alle stinkbesies, rooi­spinnekop, luise en sprinkane is peste wat beheer moet word.

Van die verskillende siektes wat op sojabone voorkom, is daar veral twee wat ekonomies besonder belangrik is, naamlik sojaboonroes en Sclerotinia. Beide hierdie siektes is vernietigend en alhoewel sojaboonroes suksesvol met voorkomende chemiese bespuitings beheer word, is daar nog geen middel wat regtig effektief is op Sclerotinia nie. Daar word gepoog om Sclerotinia met vinnige groeiers te probeer vermy, want dit infekteer net deur wondjies waar blom­me afval. Op daardie stadium is die mikroklimaat vir die siekte om te begin met sy lewensiklus nog nie reg nie en plante word dus nie besmet nie. Onder besproeiing is dit veral houtskoolvrot wat pro­bleme gee.

Oes
Sojabone word met ’n koringtafel op ’n stroper gestroop. Dit is belang­rik om die spoed van die “intrekwiel” te stel sodat daar nie onnodige uitspring van die sojabone is nie. Die dromspoed en konkawe moet ook gestel word sodat gesplete sade soveel moontlik beperk word. Die hoeveelheid lug wat die reste na buite waai, moet ook gestel word. Hou eers stil en kyk hoeveel sojabone mors voordat dit in die stroper ingaan en hoeveel agter die stroper verlore gaan. In sekere gevalle is hierdie syfer so hoog as 150 kg/ha. Onthou graansilo’s ontvang sojabone teen 12,5%-vog – probeer om so gou as moontlik klaar te stroop, aangesien die vogpersentasie sommer gou na 8% val.

Figuur 1: Waardes in groen en blou is die optimale rywydte en plantpopulasies met strooptyd.
Bron: Proteïennavorsingstigting