Peperduur pryse maak insetaankope ’n ware kuns

Gepubliseer: 1 September 2021

1773
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Suid-Afrika is op die drempel van die nuwe somergraanplantseisoen. Produ­sente wat nog nie insette aangekoop het nie, staan voor ’n moeilike besluit: Koop hulle nou ten duurste aan of wag hulle tot insetpryse moontlik kan daal, maar dra die risiko om sonder insette te sit. Met logistieke kettings wat se­dert die aanvang van die COVID-pandemie heeltemal deurmekaar is, vat dit langer om insetinvoere in die land te kry.

Internasionale kunsmisgrondstofpryse in randterme, behalwe vir kaliumchloried, is op geskiedkundige rekordvlakke. Internasionale pryse van ammoniak, ureum en DAP het in randterme selfs die pieke wat in 2008 bereik is, verbygesteek. Asof rekordpryse nie genoeg is nie, word daar ook tekorte in sekere insetmiddele verwag, soos glifosaat om net een te noem.

Met kunsmis wat tussen 30% en 50% van ’n graan- en oliesadeprodu­sent se lopende produksiekoste beloop, plaas dit opnuut winsgewendheid in die graanbedryf onder druk. In hierdie omstandighede is dit baie maklik om oorhaastige besluite te neem of selfs kortpaaie te vat wanneer dit by inset­aankope kom.

Dit is goed om op insetkoste te probeer spaar, maar daar moet dubbeld seker gemaak word dit is nie ’n kortsigtige besluit nie – die kwaliteit van die produk en die bestendigheid van die maatskappy bly uiters belangrik.

Prys
Doen hierdie jaar ekstra moeite om seker te maak die inset met die beste kwaliteit word teen die regte prys aangekoop. Kry soveel as moontlik kwotasies; probeer groothandelpryse in die hande kry; vind uit wat jou buurman betaal of koop meer insette saam as ’n groep om beter pryse te beding. Graan SA-lede kan met die kantoor kontak maak vir die jongste insetprystendense.

Kwaliteit
Produsente spandeer jaarliks miljoene rande aan insette, hoekom dan kanse vat met die kwaliteit daarvan? Graan SA staan elke jaar sy lede by om te help met die beslegting van insetdispute waar die kwaliteit van insette skade aan die lid se oes veroorsaak het. Die afgelope seisoen was weer eens ’n bewys daarvan toe heelparty insetprobleme by Graan SA aangemeld is.

Die gebruik van ongetoetste insetmiddele en die aankoop van insetmiddele by onbekende verspreiders, stel produsente jaarliks aan groot risiko’s bloot. Let dus op die volgende wenke wanneer insetmiddele aangekoop en gebruik word:

    • Maak seker dat die insetverskaffer ’n erkende maatskappy is met ’n be­wese rekord.
    • Sorg dat alle aanbevelings sover moontlik op skrif gestel en veilig bewaar word.
    • Hou rekord van alle aankope.
    • Gaan die kwaliteit van die insetmiddel na.
    • Dit gee oor die algemeen meer gemoedsrus as gesertifiseerde saad geplant word.
    • Wanneer saad behandel word, moet dit deur die saadmaatskappy self of met gesertifiseerde saadbehandelingstoerusting gedoen word.
    • Wanneer landbouchemikalieë aangekoop word, maak seker van die volgende:
      • Die middel moet geregistreer wees onder Wet Nr. 36 van 1947 vir die doel van gebruik.
      • Die maatskappy wie se middel dit is, moet ’n lid van CropLife wees.
      • Verspreidingsmaatskappye moet lid van CropLife wees.
      • Agente moet gekwalifiseerd wees.
      • Dit gee ekstra gemoedsrus as die maatskappy waarby aangekoop word lid van ’n sambreelorgani­sasie is. Byvoorbeeld vir saad, die Suid-Afrikaanse Nasionale Saad­organisasie (SANSOR); vir kunsmis, Fertasa; vir landbou-chemikalieë, CropLife en vir landboumasjinerie, die Suid-Afrikaanse Landboumasji­nerieassosiasie (SAAMA).

Gebruik oor die algemeen klein kontrolepersele om nuwe insetmiddele te toets alvorens dit op groot skaal gebruik word. Moet nie ’n nuwe middel op al die hektare gebruik nie.

Wat Rhizobium-bakterieë betref,­ is dit belangrik dat slegs geregistreerde entstowwe (Wet Nr. 36 van 1947) gebruik word. Die spesifieke produk moet ook verkieslik deur die betrokke saadmaatskappy wie se saad geplant word, aanbeveel word. Moenie nuwe produkte op groot skaal gebruik nie. Produsente wat hul entstof wil laat toets­ om seker te maak dat dit lewensvatbaar is, kan die LNR-PPRI (Roodeplaat) hiervoor kontak:

LNR-PPRI
Poppie Mthimunye – mthimunyep@arc.agric.za

Dr Ahmed Hassen – hassena@arc.agric.za

Francina Bopape – phalanef@arc.agric.za
Telefoonnommer – 012 808 8138

Hoe gemaak as kwaliteit wel lol?
Wanneer probleme met die kwaliteit van ’n inset vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gevolg word:

  • Kontak so gou moontlik die verteenwoordiger van wie die insetmiddel aangekoop is en dring op ’n ondersoek ter plaatse aan. Hou rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames om later
    na terug te verwys.

Daarna moet die volgende stappe oorweeg word indien die pro­bleem nie opgelos is nie. (Moenie te lank hiermee wag nie. Hoe langer hier ge­sloer word, hoe moeiliker raak dit om te bewys dat dit kwaliteitspro­bleme is wat skade veroorsaak het.):

  • Graan SA-lede moet die organisasie in kennis stel indien ’n maatskappy nie die nodige aandag skenk aan en oplossings bied vir die betrokke probleem nie.
  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.

Saad
Indien ’n produsent steeds vermoed dat daar probleme met die saad is wat hy aangekoop het nadat die saak reeds met die verteenwoordiger en die maatskappy wat die saad verskaf het, opgeneem is, kan hy die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling kontak. Dié departement sal dan ’n handelskontrole-ondersoek ingevolge die Plantverbeteringswet doen.

Oos-Kaapse streeksverteenwoordigers:
Gerald Jack, Port Elizabeth: 041 484 2725
Felicity Daniels, Port Elizabeth: 041 484 2725

Vrystaatse streeksverteenwoordiger:
Zanele Buhlungu, Bloemfontein: 051 406 0967

Gautengse streeksverteenwoordiger:
Lazarus Rachidi, Kempton Park: 011 971 5136

Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger:
Phillip du Toit, Stellenbosch: 021 809 1656

KwaZulu-Natal-streeksverteenwoordiger:
Rakhee Subban: 031 337 2755

Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou aangesien indieningsmonsters van alle saadlotte by die betrokke geregistreerde saadlaboratoriums waar kwaliteitskontrole uitgevoer word, vir dispuutondersoeke beskikbaar is. Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat ten opsigte van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word wat uitgereik is deur ’n ge­registreerde saadlaboratorium.

Verder word produsente aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is vir die aankope van die spesifieke lot. Om bloot ’n saadmonster te hou, sal in baie gevalle nie goed genoeg wees as bewys nie. ’n Geseëlde sak saad sal wel dien as ondersteuning.

Produsente wat dalk saad van die vorige jaar oorgehou het en die kieming wil laat toets, kan gesertifiseerde laboratoriums hiervoor vind deur op die QR-kode te klik.

Kunsmis
Alhoewel al hoe meer ongetoetste produkte in die mark beskikbaar raak, moet produsente nie op groot skaal nuwe middels gebruik nie.

Produsente word aangeraai om hul kunsmis onafhanklik te laat toets. Dit is uiters belangrik dat kunsmismonsters reg geneem moet word. Monsters om kunsmiskwaliteit te toets, moet in same­werking met die kunsmismaatskappy geneem word. Produsente kan in dié verband vir Graan SA, Fertasa of vir William Deale direk­ kontak vir die neem en ontleding van monsters om die kwaliteit daarvan te toets. William se kontakbesonderhede is 083 947 2389 of wideale@gmail.com.

Indien ’n produsent vermoed dat daar probleme is met die kuns­mis wat hy gekoop het – nadat die saak met die kunsmismaatskappy opgeneem is – kan hy Graan SA skakel of ’n klagte direk by die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947 aanhangig maak.

Landbouchemikalieë
Die kwaliteit van landbouchemikalieë (aktiewe bestanddele) kan by die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) getoets word.

Gewasbeskermingsafdeling – SAGL
Cecilia Breedt
cecilia.breedt@sagl.co.za
012 807 4019 x 2023
082 458 9327

Diesel
Deesdae is daar baie nuwe brandstofverspreiders in die mark, gewoonlik met uiters kompeterende pryse. Produsente moet seker maak dat die kwaliteit van hierdie diesel aan spesifikasies voldoen.

Daar is verskeie bronne wat gebruik kan word om diesel­­kwaliteit te laat toets. Indien vermoed word dat daar pro­bleme is met diesel­kwaliteit, veral in gevalle van moontlike dieselkontaminasie, kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geskakel word vir die toets daarvan.

SAID
Russell Allison
021 943 7778
rallison@sars.gov.za

Indien produsente self hulle diesel wil toets, kan die webblad by www.dieseltesting.co.za besoek word of 087 575 3568 geskakel word vir die aankoop van toetsinstrumente.

Nog ’n opsie is om diesel in ’n laboratorium te laat toets. Die volgende laboratoriums is al deur lede gebruik: