Palmer amarant en die cara-wet

Gepubliseer: 1 September 2021

1692
Dr Maryke Craven, LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs- en rentmeester-skapsbestuurder,
CropLife SA

Sedert Palmer amarant (Amaranthus palmeri) gedurende 2018 vir die eerste keer in Suid-Afrika in die Noord-Kaap in mielie-, katoen- en alfalfalande in die Douglas-omgewing opgemerk is, het verskeie plantbeskermingsmaatskappye asook navorsings- en landboukundige instansies inderhaas ingespring om die probleemonkruid se voorkoms en verspreiding te probeer keer.

Die onkruid het egter sy internasionale reputasie as mees pro­blematiese onkruid gestand gedoen, wat die regering nou noop om daadwerklike aksie te neem om nie net produsente nie, maar ook die hele landboubedryf, te beskerm.

Anders as die ander Amaranthus-spesies waarmee produsente­ dalk meer vertroud is, soos die gewone misbredie (A. hybridus), doringmisbredie (A. spinosus) en rooimisbredie (A. thunbergii), het Palmer amarant (Foto 1 en Foto 2) homself in die VSA bewys as een van die mees problematiese en ekonomies belangrike onkruidspesies in mielies, katoen en sojabone. Nie net is dié onkruid ’n aggressiewe groeier wat hom uiters kompeterend maak nie, maar dit besit ook ’n merkwaardige vermoë om weerstand te ontwikkel teen onkruiddoders. Hierdie inherente vermoë word toegeskryf aan die feit dat die spesie onderskeidelik manlike en vroulike plante het (tweehuisig). Dit maak van die plant ’n verpligte uitkruiser, wat verbastering tot gevolg het.

Foto 1: Amaranthus palmeri
Foto’s: Prof J Vorster, SAHRI, UP.
Foto 2: Amaranthus palmeri
Foto’s: Prof J Vorster, SAHRI, UP.

Ander Amaranthus-spesies soos die gewone misbredie, doring­misbredie en rooimisbredie is eenhuisig, met beide manlike en vroulike reproduktiewe organe op dieselfde plant. Internasionaal is daar reeds weerstandige Palmer amarant-populasies aangemeld teen agt groepe van onkruiddodermega­nismes: inhibering van die ensiem asetolaktaatsintese (ALS-inhibeerders) (Groep B/2), inhibering van fotosintese by fotosisteem II (PSII – Groep C1/5), inhibering van protoporfirinogeen-oksidase (PPO) (Groep E/14), bleikmiddels: inhibering van 4-hidroksiefenielpiruvaat-dioksigenase (Groep F2/27), inhibering van 5-enolpurivielshikimaat-3-fosfaat-sintase (EPSP-sintese) (Groep G/9), van mikrotobulesamevoeging (Groep K1/3), inhibering van selverdeling by baie lang vetsuurkettings (Groep K3/15) asook sintetiese ouksiene (hormone) (Groep O/4).

Internasionaal is bevind dat waar hierdie hardnekkige onkruid in sojaboonproduksies in stande van 3 plante/m2 tot 8 plante/m2 voorgekom het, opbrengste met 60% tot 79% verlaag het. Weens die gebrek aan onkruiddoders met effektiewe aktiewe bestanddele in sekere gewasse, het die voorkoms van die onkruid in Suid-Afrika reeds daartoe gelei dat katoenverbouing onmoontlik geword het in geaffekteerde gebiede in die Douglas-omgewing. Dit bemoeilik ook lusernverbouing in daardie deel van die wêreld.

Rede tot groot kommer vir belanghebbendes is dat onlangse navorsing deur ’n navorsingsgroep verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP) getoon het dat die onkruid reeds in ander provinsies voorkom (Nasionale Krugerwildtuin in die Limpopoprovinsie en Howick in KwaZulu-Natal). Verder is bevind dat die populasies van die Noord-Kaap (Douglas-omgewing) geneties verskillend is van dié in die Howick-omgewing, wat weer daarop dui dat daar moontlik verskillende bronne van oorsprong kan wees van die onderskeie populasies wat tot dusver in die land aangeteken en gemonster is.

Die grootste struikelblok tans in pogings om die verspreiding van die onkruid hok te slaan, is dat daar geen regulatoriese meganisme bestaan om produsente te beskerm wat tans nie Palmer amarant op hulle plase het nie. Verder sal die verspreiding van hierdie onkruid ernstige implikasies vir die bedryf in geheel tot gevolg hê, sou dit deur die land posvat in mielie-, sojaboon- en katoenproduksies, met bewaringsbewerkingsgebiede wat die swaarste getref sal word. Die proses is gevolglik deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) aan die gang gesit om dit as ’n verklaarde onkruid onder die CARA-wet (Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, Nr. 43 van 1983) te laat verklaar. Kennisge­wing in hierdie verband is in die Staatskoerant, No. 44029 van 24 Desember 2020, gepubliseer. Die tydperk vir openbare terugvoer het reeds verstryk en nou word daar angstig gewag op die promulge­ring van hierdie voorgestelde regulasie. Sou die regulasie deurgevoer word, is dit belangrik vir produsente om kennis te neem van die ernstige implikasies daarvan.

Wetgewing onderskei tans tussen drie kategorieë van pro­bleemplante: verklaarde onkruide (kategorie 1), verklaarde indringerplante (kategorie 2) en ornamentele tipe indringerplante (kategorie 3). Sou die voorgestelde toevoeging van Palmer amarant deurgevoer word, sal hierdie onkruid onder kategorie 1 val. Hiervolgens sal dié onkruid nie op enige grondgebied of binnelandse wateroppervlaktes mag voorkom nie, behalwe waar biologiese beheer toegepas word. Die onkruid mag nie gevestig, onderhou, vermeerder, ingevoer of verkoop word nie. Produsente of enige ander grondeienaars sal verplig word om hierdie onkruid uit te wis, waar dit ook al op hulle eiendomme voorkom (behalwe in biologies beheerde gebiede). Dit moet ’n gefokusde uitwissingsaksie wees wat daartoe sal lei dat die voorkoms, vestiging, groei, vermeerdering en verspreiding van sulke plante heeltemal voorkom sal word. Verder sal grondeienaars waar die onkruid voorkom aan addisionele maatreëls onderworpe wees, soos onder meer dat daardie dele van plase waar die onkruid opgespoor word, onder kwarantyn geplaas word en dat geen gewasse van daardie gedeeltes verwyder sal mag word totdat die Palmer amarant-populasie totaal uitgewis is nie.

Onder die CARA-wetgewing sal munisipale inspekteurs en hulpbronouditeure (resource auditors) die reg hê om grondgebiede (eiendom) te inspekteer vir enige verklaarde onkruide. Sou sulke onkruide dan waargeneem word, sal die eienaar direktiewe ontvang rakende die stappe wat geneem moet word om die onkruid uit te wis. Deur ’n konsultasieproses met die eienaar sal daar verder op ’n tydsverloop ooreengekom word waartydens die onkruid uitgewis moet word asook ’n sperdatum waarteen die vereiste maatreëls suksesvol geïmplementeer moet wees. Teen die spertyd sal die area weer geïnspekteer word. Sou die grondeienaar nie ag geslaan het op die direktief om die onkruid effektief uit te wis nie, sal daar ongelukkig ’n boete en/of moontlike tronkstraf gehef/opgelê word.

Wat staan die produsent te doen?

  • Die eerste en belangrikste stap is om kennis in te win rakende die identifisering van hierdie onkruid. Identifikasiegidse en pamflette kan vanaf CropLife SA asook SAHRI (South African Herbicide Resistance Initiative) se webtuiste afgelaai word. Onder die dokumente is daar ook ’n uitwissingstrategie wat uiteensit hoe produsente te werk moet gaan, sou hulle die onkruid op hul gronde waarneem (Figuur 1).
  • Kontak kundiges indien daar enige vermoede is dat Palmer amarant op die grond voorkom (kontakbesonderhede verskyn op die identifikasiegidse).
  • Besef laastens dat hierdie ’n uiters hardnekkige en aanpasbare onkruid is, wat met alle mag en mening van grond afgekry en afgehou moet word.
Figuur 1: Verskeie inligtingstukke is beskikbaar op CropLife asook SAHRI se webtuiste om produsente te help met die identifisering van Palmer amarant.

Een aspek wat produsente tot dusver geïgnoreer het, is om fitosanitêre maatreëls op hul plase toe te pas. Dit behels byvoorbeeld dat alle implemente en voertuie 100% van alle plantdele en saad van Palmer amarant gereinig word voor dit na ander gebiede op die plaas of selfs ander plase verskuif word. Die Onkruiddoderweerstandskomitee (HRAC) van CropLife SA hou Palmer amarant hoog op die agenda om die situasie te moniteer en beheermaatreëls aan te beveel waar dit nodig mag wees.

Beheerstrategieë
Daar is tans nog onsekerheid rakende die onkruiddodergroepe waarvoor die Suid-Afrikaanse Palmer amarant-populasie weerstandig is. Weet egter dat wanneer onvoldoende beheer op hierdie onkruid verkry word ten spyte daarvan dat die onkruiddoder onder die korrekte toestande en instruksies toegedien is, dit na alle waarskynlikheid ’n weerstandige populasie is.

Die effektiefste beheerstrategie teen hierdie onkruid is om dit met behulp van grondbewerking heeltemal uit te wis, reeds voordat gewasse aangeplant word. Diep skoffel en tussenry-bewerking kan die saad wat in die saadbank teenwoordig is, verminder asook saailinge van weerstandige populasies tot ’n groot mate beheer. Verder word geregistreerde, nie-selektiewe (burndown) onkruiddoders soos die van Groep D (parakwat) internasionaal gebruik om die onkruid te beheer. Daar is tans geen onkruiddoders spesifiek vir die beheer van Palmer amarant in Suid-Afrika geregistreer nie, maar produsente moet hul plaagdodermaatskappye in hierdie verband raadpleeg, siende dat verskeie onkruiddoders geregistreer is vir Amaranthus as ’n genus, met ander woorde alle spesies. Dit beteken dat sulke middels wel regmatig teen die onkruid aangewend mag word.

Vermy glifosaatbevattende onkruiddoders omdat Palmer ama­rant alreeds ernstige weerstand daarteen toon. Tenkmengsels bestaande uit minstens twee onkruiddoders met verskillende meganismes van werking (met ander woorde verskillende weerstandsgroepe) wat na opkoms toegedien word, verleen tans internasionaal goeie beheer. Produsente moet kennis neem dat weens die vinnige groei­tempo van die onkruid, daar ’n baie nou (kort) toedieningsperiode of -tydperk is. Verder moet produsente ook in gedagte hou dat deur wisselbou toe te pas, toegang verkry kan word tot ’n groter verskeidenheid onkruiddoders met verskillende meganismes van werking. Wees egter bedag op die wagperiodes as opvolggewasse beplan word op landerye waar onkruiddoders toegedien is. Die wagperiodes word gewoonlik onder die voorsorgmaatreëls op plaagdoderetikette aangedui.

Omdat Palmer amarant ’n breëblaaronkruid is, is die meeste geregistreerde middels vir Amaranthus-spesies selektief vir breëblaaronkruide, wat mag beteken dat breëblaargewasse nie vinnig na die stroping van byvoorbeeld mielies aangeplant sal kan word nie. Dit is raadsaam om ’n kontakuitwissende onkruiddoder soos parakwat aan te wend wanneer die onkruidplantjies korter as 100 mm is, omdat hulle dan baie maklik doodgespuit word. ’n Vooropkomsonkruiddoder se aanwending sal enige saad wat daarna mag ontkiem, se saailinge doodmaak. Indien moontlik moet die onderskeie onkruiddoders met mekaar afgewissel word ten einde te voorkom dat dié plantpopulasies enige verdere weerstand ontwikkel. Dit is van deurslaggewende belang om te verstaan dat die plant alreeds op ’n baie jong stadium blom en saad produseer. Dit noodsaak dus uiters vroeë beheer na die opkoms van die onkruid. Jong plante is in elke geval baie meer sensitief vir onkruiddoders as ouer plante.

Verbouingspraktyke wat ongunstige toestande skep vir die ont­kieming en groei van die onkruid sal ook bydra tot die beheer daarvan. Enige praktyke wat die gewas dus ’n kompeterende voordeel gee, terwyl die sonlig wat die grondoppervlak bereik, beperk word, moet toegepas word. Vervroegde plantdatums stel die gewas in staat om vinniger te vestig, wat dit ’n kompeterende voordeel sal gee. Deur vroeg te plant, kan die gewas se blaredak vinniger vorm, met die gevolg dat ongunstige toestande vir ontkieming en groei vir die onkruid geskep word. Nouer rywydtes en optimale plantestand kan ook ingespan word vir hierdie doel.

Dekgewasse kan nie net die onkruid onderdruk deur sonlig te weerhou nie, maar meng ook op fisiese wyse met die groei en ontwikkeling daarvan in. Die allelopatiese eienskappe van dekgewasse kan ook ’n addisionele voordeel inhou rakende die onderdrukking van die onkruid. Allelopatie is die verskynsel waar een plantspesie (gewoonlik die dominante een) ’n ander se fisiologiese groei benadeel deur chemiese middels af te skei wat die ander plant se biochemiese pro­sesse benadeel.

Alhoewel dit baie duur is, moet handskoffel deel vorm van beheer- en uitwissingprogramme, veral in die vroeë stadia van be­smetting wanneer daar nog min onkruidplante teenwoordig is. Alle plantmateriaal moet totaal verwyder, opgestapel en heeltemal uitgebrand word, omdat uitgeskoffelde plante wat op die grondoppervlak gelaat word, die vermoë het om weer baie vinnig wortel te skiet en verder te groei. Opvolgaksies binne tien dae na handskoffel mag nodig wees indien enige hergroei plaasgevind het.

Verder moet besmette lande laaste geoes word, waarna die stropers deeglik op ’n betonblad of groot plastiekseile skoongemaak moet word. Onthou dat die water wat gebruik is om sulke apparaat af te spuit ook kan bydra tot die verspreiding van die saad. Die ideaal is dus om sulke waswater op te vang en op ’n verantwoordelike manier te verwerk of daarvan onslae te raak. Internasionaal word sulke water verbrand (incinerated), maar plaaslike produsente kan daardie waswater se pH aanpas na 13 tot 14 met bytsoda en oornag laat staan sodat dit die saad heeltemal vernietig. Neutraliseer dan die water met iets soos fosforsuur sodat die pH effens suur is (5,5 tot 7) en spuit daardie water oor grondpaaie uit.

Laastens moet die kante van lande, wenakkers, spoelslote en alle dreineringskanale (waterweë) verken word om seker te maak dat alle Palmer amarant-plante wat daar mag voorkom, uitgeroei word. Die beste is om enige Palmer amarant-plante net daar en dan uit te trek en te verbrand. (Wees versigtig vir veldbrande!) Lig plaaswerkers in oor die plant en versoek hulle om alles wat na ’n Palmer amarant lyk dadelik uit te trek, in ’n saadsak te seël en plaasopstal toe te neem sodat daar vasgestel kan word watter misbredie dit is. Verbrand dit dan onverwyld.

’n Finale waarskuwing
Die situasie met Palmer amarant is tans so kommerwekkend dat die HRAC aanbeveel dat produsente alle misbrediespesies met groot agterdog moet bejeën en al sulke spesies, waar ook al hulle voorkom, moet uitroei. Die rede daarvoor is dat daar reeds bewyse bestaan dat die Palmer amarant met ander Amaranthus-spesies verbaster. Indien dit gebeur, vestig hierdie gevaarlike boosdoener sy weerstandsgene in die inheemse misbrediespesies, wat vir alle produsente ’n totale nagmerrie gaan veroorsaak. Moet dus geen misbrediespesie lig ag nie. Takel dit met meganiese beheer, bewerkingsbeheer en die ge­registreerde onkruiddoders teen die maksimum dosis wat op etikette aangedui word, terwyl onkruiddoders van verskillende weerstandsgroepe met mekaar afgewissel word. Die weerstandsgroep van ’n onkruiddoder word op die hoofpaneel van die etiket saam met die afkorting HRAC aangedui.

Alle nuwe Palmer amarant-populasies moet by DALRRD aangemeld word. Produsente is ook welkom om dr Craven te kontak by 018 299 6100 of cravenm@arc.agric.za of dr Verdoorn by 082 446 8946 of gerhard@croplife.co.za. Neem foto’s met die slimfone en stuur per WhatsApp aan vir vinnige identifisering en inligting om die vermeerdering van die onkruid te voorkom.

Klik op die QR-kodes vir toegang tot identifikasie-gidse en pamflette.
Klik op die QR-kodes vir toegang tot identifikasie-gidse en pamflette.