Elke pit ’n belegging in uiteindelike opbrengs

Gepubliseer: 11 Augustus 2021

985
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Mielieprodusente kyk voortdurend hoe hulle opbrengs kan opstoot sonder om kwaliteit en wins in te boet. Een van die grondbeginsels hiervoor is om bastersaad van goeie kwaliteit onder optimale omstandighede in goed voorbereide lande te plant.

Hoewel optimum omstandighede op die land vóór plant bewerkstellig kan word deur grondregstellings en goeie vooropkomsonkruidbeheer om kompetisie uit te skakel, het produsente nie noodwendig beheer oor alle aspekte nie. Om risiko’s te help beperk, vertrou die produsent op die nuutste genetika en saad van goeie gehalte.

Optimale plantestand
Benewens die inherente opbrengspotensiaal van ’n baster, word opbrengs ook in ’n groot mate bepaal deur die finale plantestand wat gerealiseer het. Mielieprodusente beplan hul produksie volgens die hoeveelheid pitte wat per hektaar geplant word, ’n uniforme plantestand en dan ook die water en bemesting wat benodig word vir die spesifieke plantestand. Die regte plantestand vir ’n spesifieke kultivar is noodsaaklik vir optimale opbrengs.

Dit is daarom belangrik dat ’n baster die vermoë moet hê om ná ontkieming vinnig op te kom en sterk saailinge te vorm. Goeie groeikragtigheid van saailinge is veral belangrik onder ongunstige omgewingstoestande.

Elke pit wat nie opkom en elke saailing wat nie in ’n volwaardige mielieplant ontwikkel nie, bring ’n potensiële opbrengsverlies mee. Volgens Leonard Oberholzer, markontwikkelingsbestuurder by Bayer Suid-Afrika, is optimale plantestand baie belangrik vir die Suid-Afrikaanse produsent. Die korrekte stand op ’n spesifieke potensiaalsone is belangrik om die hoogste wins per hektaar te realiseer.

Pieter Rademeyer, hooflandboukundige by Pannar, wys egter daarop dat ’n 10%-afname in die finale plantestand nie noodwendig beteken dat die produsent ’n 10%-oesverlies gaan hê nie, aangesien plante langs ’n gaping in ’n ry dikwels kompenseer met groter of meer koppe of deur spruitvorming.

Andries Wessels, produkontwikkelingsbestuurder by Syngenta, stem saam dat plante direk langs ga­pings waar plantjies nie opgekom het nie, in ’n mate sal kompenseer deur ’n groter kop of meer koppe te produseer in die geval van ’n meerkoppige baster. Tog meen hy dat ’n goeie stand bepalend bly vir die verwagte opbrengs. “’n Paar gapings is in ’n mate aanvaarbaar, maar niks kan kompenseer vir swak opkoms en plantestand nie.”

Volgens Leonard is die opkomsproses een van die kritieke stadiums tydens die ontwikkeling van die mielieplant. Hy stem saam dat plantestand in ’n groot mate die potensiaal van alles wat vorentoe in die seisoen gebeur, bepaal.

Die kwaliteit van saad
Saad moet aan sekere standaarde voldoen en produsente kan as’t ware die inligting op die etiket van ’n gesertifiseerde sak saad van ’n saadmaatskappy as ’n versekeringspolis beskou. Die etiket bevat die bewys dat die saad binne daardie sak aan sekere minimumkwaliteitstandaarde sal voldoen, sê Andries. Gesertifiseerde mieliesaad moet aan die minimum vereiste vir kieming, wat 90% is, voldoen.

Andries waarsku egter dat ’n waarborg dat die saad onder gunstige omstandighede gaan ontkiem, nie noodwendig beteken dat die saailing wel bo die grondoppervlak gaan verskyn nie. Kiemkragtigheid van saad (seed vigour) kan deur verskeie genetiese kwaliteite en omgewingstoestande sowel as bestuurs­praktyke beïnvloed word. Faktore wat ’n rol speel, is die inherente eienskappe van die spesifieke kultivar, saadkwaliteit, bergingstoestande van die saad voor plant, weersomstandighede tydens plant en plantertoerusting.

Chemiese skade speel ook ’n rol – veral die toe­diening van sekere onkruidmiddels as omstandighede nie reg is nie. Volgens Leonard is jong saailinge meer gevoelig vir onkruiddoderskade wanneer grondtemperature laag is en kan die ontwikkeling van jong plantjies nadelig geraak word sou sekere middels onder die verkeerde omstandighede toe­gedien word.

Streng gesproke is die groei van die saailing (opkomsproses) nie deel van die ontkiemingspro­ses nie. Ontkieming is voltooi wanneer die radikula (kiem­wortel) te voorskyn kom. Leonard beskryf die opkoms­proses soos volg: Die saad absorbeer water waarna die kiemwortel verleng en afwaarts groei. Die koleoptiel met plumula (kiemplant) groei na bo. Drie tot vier sywortels vorm. Ontkieming en opkoms (VE) word bewerkstellig deur die vinnige verlenging van die mesokotiel. Die mesokotiel druk die koleoptiel deur die grondoppervlak. Wanneer die koleoptiel aan sonlig blootgestel word, stop die verlenging van die mesokotiel en die VE-stadium is bereik. Die groeipunt is dan 2,5 cm tot 3 cm onder die grondoppervlak.

Skakel opkomsprobleme uit
Die meerderheid opkomsprobleme word veroorsaak wanneer die vinnige verlenging van die mesokotiel beïnvloed word deur omge­wingstoestande. Leonard verduidelik dat wanneer die mesokotiel te stadig verleng, dit nie genoeg krag het om die koleoptiel deur die grondoppervlak te druk nie.

Verskeie nadelige faktore kan ’n saailing verhoed om deur die grondoppervlak te breek. Waar goeie kiemkragtigheid die saad in staat stel om onder gunstige omstandighede vog op te neem en die ontkiemingsproses te begin, is groeikrag (vigour) die vermoë van die nuwe saailing om deur die grondoppervlak te breek en in ’n sterk plantjie te ontwikkel onder óngunstige toestande. Dit is juis hierdie groeikrageienskap wat veroorsaak dat verskillende kultivars in dieselfde planttoestande anders reageer.

Grondtemperature speel ’n uiters belangrike rol in die hele ontkiemingsproses. Indien die grondtemperatuur onder 10°C daal, kan dit ’n groot invloed op die ontkiemingstempo hê. Met optimale grondtemperature kan mielies binne ses dae opkom, maar in koue toestande kan dit tot drie weke neem. Hoe langer die pit onder die grond bly, hoe meer is dit blootgestel aan omgewingstoestande en aan vooropkomsonkruiddoders, waarsku Leonard.

Saadbehandeling is noodsaaklik om saad in die grond teen patogene en insekte te beskerm en die plantjie daardie eerste hupstoot te gee. Net soos in die geval van die gehaltewaarborg van die saad, is ’n saadbehandeling egter nie bedoel om swak groei­kragtigheid van ’n baster te verdoesel nie.

Pieter maan produsente om nie van goeie verbouingspraktyke en optimale plantdatums af te wyk nie. Dit is noodsaaklik om korsvorming as gevolg van ’n harde reënbui of hittetoestande tydig te takel deur onder meer ’n rolbewerking. “Selfs saad met gesonde groeikrag sal nie noodwendig deur hierdie verdigtings­lae kan groei nie,” sê hy.

Elke mielieplant se opbrengspotensiaal word reeds gedurende die eerste paar weke na opkoms vasgelê. Vir die res van die groei­seisoen word die opbrengspotensiaal net gehandhaaf – of as die seisoen nie optimaal is nie, verlaag. Teoretiese opbrengspotensiaal word tydens die vyfblaarstadium vasgelê en werklike opbrengs word tydens die twaalfblaarstadium bepaal. Sterk, groeikragtige saailinge gedurende die eerste 40 dae na plant is dus deurslag­gewend vir uiteindelike opbrengs.

Stelsels met verminderde bewerking stel bykomende uitdagings aan produsente omdat die residuele deklaagmateriaal fisiese versperrings veroorsaak wanneer saailinge opkom en ook deur dié materiaal moet breek. Lande met baie materiaalbe­dekking is verder in heelwat gevalle ’n teelaarde vir insekte wat ont­kiemende saailinge teenaan die grondoppervlak kan afvreet.

Die praktiese implikasie van goeie kiem- en groeikrag lê dus daarin opgesluit dat die verlangde plantpopulasie verkry word. Dít lê die eerste bousteen van die produsent se opbrengsmikpunt, meen Andries.

Foto: Magda du Toit