Dié riglyne help produsente met bemesting

Gepubliseer: 11 Augustus 2021

1176
Dr Pieter Haumann, hoof- uitvoerende beampte, Fertasa

Fertasa se bemestingshandleiding word ge­reeld gekritiseer oor die bemestingsriglyne wat daarin vervat is.

Eerstens moet dit gestel word dat Fertasa se lede geloofwaardige, verantwoordelike en volhoubare grondvrugbaarheid en plantvoeding voorstaan. Fertasa bestaan reeds vir langer as sestig jaar – dit is nie ’n mylpaal wat behaal word deur ’n instansie waarvan lede die verbruikers van hulle produkte mislei nie.

Alle bemestingsriglyne wat in die bemestings­hand­leiding verskyn, is deur wetenskaplike proewe wat onder sekere toestande uitgevoer is, ontwikkel. Dit is belangrik dat nuwe riglyne deur produsente getoets word voor algehele toepassing. Indien daar vasgestel word dat sekere riglyne bewese gebreke het, is Fertasa altyd bereid om daarna te kyk en die nodige stappe te doen om regstellings te maak.

Riglyne is natuurlik net dit – riglyne (guidelines). Indien iemand ’n gewas wil produseer waarvoor daar geen vorige inligting ten opsigte van bemesting vir die gewas op daardie land bestaan nie, sal die riglyn ’n aanduiding gee van die bemesting wat moontlik kan werk, natuurlik gebaseer op die volgende:

  • Inspeksie van die grond op die land.
  • Ontledings van die grond.
  • Inligting wat op aangrensende lande versamel is.
  • Enige ander relevante inligting ten opsigte van gewasproduksie in daardie gebied.

Sodra ’n seisoen voltooi is, sal die produsent kan bepaal wat die geslaagdheid van die bemestingsprogram was en daarvolgens aanpassings maak.

Dit kan natuurlik moontlik wees dat toestande sodanig was dat die riglyne die kol getref het en toegepas kan word vir opvolgende seisoene. Wanneer ’n droogte of ’n reeks droogtes voorkom, kan die hele proses egter omvergegooi word. Net so kan besonder gunstige jare die produsent in staat stel om buitengewoon hoë opbrengste te behaal.

Die produsent of landboukundige sal beslis nie net blindelings die riglyne bly toepas indien dit nie werk nie of wanneer toestande varieer. Alle produsente van gewasse in Suid-Afrika weet wat op hulle lande aan die gang is en kan nie maklik mislei word nie.

Presisieboerdery het gekom om te bly
Studies wat gereeld gepubliseer word, bevestig dat gewasproduksie nie net kunsmistoediening behels nie. Daar is heelwat ander aspekte wat net so belangrik is en wat die doeltreffendheid van toegediende kunsmis kan versterk en verbeter.

Baie van Fertasa se lede het lankal reeds besef dat biokunsmis ’n groot rol het om te speel en het in daardie bedryf belê. Net so belangrik is die besef onder lede dat prosesse in die grond wat gepaardgaan met die verbetering van “grondgesondheid” van kardinale belang is.

Die onderwerpe wat by Fertasa-kongresse, -werkswinkels en -simposiums aangebied word, bevestig bogenoemde. Fertasa se lede is bereid om te leer van kenners op ander terreine en ook om kennis wat oor dekades opgebou is met alle rolspelers te deel.

Verder word die bemestingsadviseursertifise­ring- en opleidingskursus (BASOS-kursus) aangebied om deelnemers op te lei oor die beginsels van verantwoordelike kunsmisaanbevelings. Hoewel suksesvolle deelnemers aan die kursus punte vir voortgesette professionele opleiding (CPD-punte) kan verdien, moet dit beklemtoon word dat adviseurs ook moet voldoen aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplike Professies (SARNAP) se vereistes rakende registrasie as natuurwetenskaplikes.

Suksesvolle bemesting verg opleiding
Fertasa en sy lede onderskryf verantwoordelike en volhoubare grondvrugbaarheid en plantvoeding. Dit is daarom ’n vereiste by die meeste lede dat hulle landbou-adviseurs en agente onder meer Fertasa se BASOS-kursus moet slaag voordat hulle toegelaat word om bemestingsaanbevelings te doen. Die Engelse weergawe van die kursus staan bekend as FACTS (Fertilizer Advisory Certification and Training Scheme).

Die kurrikulum behels agt modules, insluitende onderwerpe soos grondklassifikasie, beginsels van plantvoeding vir verskillende gewasse, berekende aanbeveling van bemestingstowwe, die hantering en berging van misstowwe asook toedieningsmetodes en betrokke omgewingsimplikasies wat oorweeg moet word.

Afstandsonderrig stel kursus­gangers in staat om hul studie­tempo en eksamenaflegging die beste by hulle persoonlike omstandighede in te skakel.

Skakel Fertasa by 012 349 1450, stuur ’n e-pos na hermien@fertasa.co.za of besoek die webblad by www.fertasa.co.za vir verdere inligting.