Graan SA het in Maart, April en Mei vanjaar met verskeie landboumasjineriemaatskappye vergader. Dié vergaderings spruit uit toenemende wekroepe en kommer van Graan SA-lede oor die pryse van veral onderdele en dienste. In sekere gevalle is genoem dat dit tot R2 000 kos om ’n tegnikus op die plaas te kry voordat daar met probleemopsporing begin kan word.
Gelei deur ’n afvaardiging bestaande uit onder andere die voorsitter, Derek Mathews; die uitvoerende hoofbestuurder, Jannie de Villiers en die voorsitter van die Produksie/Insetwerkgroep, André Kirsten, het Graan SA dit duidelik gemaak dat bedrywe in die landbouwaardeketting nie sonder mekaar kan bestaan nie. Die volhoubaarheid en winsgewendheid van graanproduksie verkeer onder uitermatige druk en kan nie die volgehoue stygings in masjineriekoste absorbeer nie.
Die landboumasjineriemaatskappye se afvaardiging is gelei deur hulle onderskeie hoof- uitvoerende beamptes en besluitnemers. Dié maatskappye het hulle verbind tot die plaaslike bedryf met betrekking tot investering en dienste.
Belangrike uitkomste wat uit die gesprekke voortgevloei het, sluit die volgende in:
- Rolspelers het mekaar se probleme beter begryp en probeer verstaan.
- Landboumasjineriemaatskappye kyk na maniere en tegnologie om die koste van dienste te beperk, byvoorbeeld met “afstanddiagnose”.
- Die belangrikheid van tegnologie wat waarde tot Suid-Afrikaanse produsente toevoeg, is benadruk. In teenstelling hiermee is die koste van tegnologie wat nie waarde toevoeg nie, as ’n groot meulsteen geïdentifiseer.
- Gedurende die COVID-pandemie is logistiek van byvoorbeeld onderdele ’n groot uitdaging en dra dit by tot kosteverhogings en beskikbaarheidsprobleme.
- Die belangrikheid van verhoudings in die bedryf is weer beklemtoon en die behoefte om meer gereeld te vergader, is uitgespreek.
Graan SA het ’n voorlegging aan die maatskappye gedoen, wat die volgende statistieke beklemtoon het:
- ’n Onlangse studie van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het getoon dat landboumasjinerie die heel grootste kostekomponent van invoere van insette na Suid-Afrika is, naamlik ongeveer R8,2 miljard. Trekkers hoër as 130 kW maak 32% hiervan uit en onderdele 20%.
- Daar is verder gewys hoe die pryse van trekkers oor tyd vergelyk met die prys van mielies (sien Grafiek 1).
- Voorbeelde is gewys van hoe die pryse van onderdele oor veral die afgelope twee jaar toegeneem het.
- Trekkerprystendense teenoor vragmotorprystendense is getoon, met trekkerpryse wat oor tyd baie vinniger toegeneem het as vragmotorpryse.