Goeie verhoudinge in landbou al hoe belangriker

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain, foto’s: Reint Grobler
Gepubliseer: 10 Augustus 2021

2008

Hy beskryf homself as ’n aartsoptimis en ’n kritiese denker wat daarvan hou om nuwe maniere van probleme aanpak, te beproef. As deeltydse produsent het hy nie net ’n passie vir landbou nie, maar verstaan hy ook die vreugde, struikelblokke en uitdagings daarvan. Dr Pieter Taljaard (43) stap uit sy pos as bemarkingsbestuurder: Kleingraan en Nywerheidsgewasse by Bayer om vanaf 1 September vanjaar die leisels as HUB van Graan SA op te neem.

Met ’n PhD in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Pieter Taljaard die afgelope paar jaar verskeie bestuursrolle gevul, waaronder inkomste-optimaliseringsbestuurder by Monsanto en produksiebestuurder by NWK. Hy was tot en met 2009 ook ’n dosent en navorser aan UV.

Pieter se liefde en passie vir landbou kom ’n lang pad. In Noordwes-mieliewêreld – op ’n plaas net buite Potchefstroom waar sy pa deeltyds geboer het – het Pieter op ’n jong ouderdom besluit om landbou sy lewenspad te maak. Behalwe vir ’n loopbaan wat die afgelope paar jaar veral in die saadbedryf gedraai het, boer hy ook reeds 19 jaar deeltyds – ’n stokperdjie wat vir hom en sy gesin eindelose vreugde verskaf.

SA Graan/Grain het tien vrae aan hom gestel om meer uit te vind oor sy drome vir Graan SA en sy eie toekomsvisie.

Wat bring Pieter Taljaard na die graantafel?
Praktiese en ekonomiese optimalisering van die bedryf is een van my groot belangstellings en ook iets waarin ek gespesialiseer het. Dit is vir my baie lekker om saam met produsente om die tafel te sit om te bepaal hoe hulpbronne die beste aangewend kan word. Uit my eie ondervin­ding en kennis weet ek dat optimalisering baie belangrik is vir ’n volhoubare graanbedryf.

Verder is ek opgewonde oor hoe die vooruitgang en verbete­ring van tegnologie – veral presisieboerdery – graanverbouing na die volgende vlak gaan neem, maar daarmee saam is dit belang­rik om te besef dat risiko’s gaan vergroot. Produsente moet presies weet wat hul risikoprofiel is en hoe om te werk te gaan om die besigheid optimaal te bestuur. Ek glo dat Graan SA ons lede hierin kan bystaan en raad gee en ek is opgewonde om hier ’n rol te speel.

Wat gaan jy eerste aanpak as Graan SA-HUB?
Ek het reeds verskeie gesprekke met mense soos dr Ferdi Meyer van BFAP gevoer oor die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking (AAMP) wat geïmplementeer en geaktiveer moet word. Ek sal graag wil sien dat Graan SA ’n daadwerklike rol hierin speel.

Hoe sal jy jou bestuurstyl beskryf?
Ek beskou myself as ’n visionêre bestuurder en glo daarin om mense te mobiliseer. Ek en my vrou, Hilana, wat ’n dieetkundige is en haar besigheid van die huis af bedryf, het so drie jaar gelede besluit om ons kinders, Dieter-Uys (13) en Jenneli (11), tuis te onderrig. Ons glo sterk in lifelong learning – dat ’n mens nooit ophou leer nie. Daarom is afrigting (coaching) ’n belangrike faktor in hoe ek ’n span lei. Ek wil self aanhou leer en groei om daardeur beter leiding te kan gee. Goeie verhoudinge gaan in die toekoms net al hoe belangriker raak – binne landbou en in die breër gemeenskap.

Hoe belangrik is die onafhanklikheid van Graan SA as ’n vrywillige produsente-organisasie?
Wat my opgewonde maak oor Graan SA is die feit dat dit ’n organi­sasie uit produsente vir produsente is. Aangesien die produsent die lid én kliënt is, is dit dus belangrik dat die organisasie sin maak en ’n bestaansreg het.

Verandering is natuurlik die enigste konstante en daarom glo ek dat die organisasie buigbaar genoeg moet wees om aan te pas en relevant te bly. Die vraag wat ons moet vra, is hoe om meer produ­sente betrokke te kry. Hier glo ek dat indien ’n produsent deurentyd die waarde van die organisasie sien en beleef, hy meer betrokke sal raak.

Produsente gaan in die toekoms meer ondersteuning nodig hê en dit is hier waar die organisasie toenemend ’n groter rol kan speel. Kommunikasie is natuurlik uiters belangrik – produsente moet voortdurend ingelig word oor mylpale wat bereik is en suksesse wat behaal word. Ek het nog nie ’n plan op die tafel om meer produsente betrokke te kry nie, maar ek glo dit is iets waaraan ons as ’n span onafgebroke sal werk.

Dit is baie belangrik dat die organisasie outonoom bly funksioneer. Die belange van graanprodusente is ons besigheid en daarom sal dit altyd die eerste prioriteit wees om die omgewing vir graanprodusente beter en meer winsgewend te maak.

5. Hoe lyk die toekoms van die graanmark wat deursigtigheid en mededinging betref?
Ons staan op die vooraand van ’n fantastiese era van landbou. Tegnologie word meer bekostigbaar en die tempo van verandering gaan al hoe vinniger raak. Daarom is dit belangrik dat produsente met mekaar en met organisasies soos Graan SA skakel. Inligtings­tegnologie maak dit makliker om meer deursigtig te werk en ek glo dat inligting van markte selfs in die mediumtermyn meer deursigtig gaan raak.

Dit is goed om te sien dat die mark meer volwasse raak en dat al hoe meer rolspelers toetree. So gaan ons verseker dat markte en markinligting meer deursigtig is.

Safex is in die middel 1990’s gestig en was nodig vir produ­sente om op die ope mark hul pryse te verskans. Die produsente wat Safex oor die jare vir verskansing gebruik het, het beslis baat gevind hierby. Safex kan egter ook vir spekulasie gebruik word en kan dus ’n ander geleentheid of doel bied, maar dit het op sigself sy eie risiko’s. Ek glo die rolspelers, produsente en verbrui­kers moet die mark bepaal. Inligtingstegnologie maak dinge baie meer deursigtig en ek is daarom baie opgewonde oor wat die volgende vyf jaar gaan gebeur op graanplase, nie net produksiegewys nie, maar ook in terme van markte!

6. Hoe sien jy die toekoms van die graanbedryf in Suid-Afrika?
Ek is ’n aartsoptimis en ek glo dinge sal reg uitwerk. Ons kan maar net bly glo in wie ons is, wat ons is en waar ons genade vandaan kom. Innovering en entrepreneurskap is sleutelelemente vir ’n suksesvolle toekoms en dit is die individue wat aanhou wat sal oorleef en floreer onder die huidige druk en ten spyte van die toestande. Die landbousektor doen tans baie goed en daar is genoeg rede om opgewonde te wees oor die toekoms. Ja, daar is dinge wat pla, maar as ’n mens vasbyt en verby die geraas kyk, is daar baie positiewe goed wat gebeur. Ons as gesin het gekies om te bly, ons glo daar is ’n toekoms hier. Dit is besonder lekker en ’n baie groot voorreg om in die Suid-Afrikaanse landbousektor betrokke te wees.

7. Watter rol moet die regering en privaat sektor in landbounavorsing speel?
Dit is belangrik dat die privaat sektor die leiding neem in navor­sing en tegnologie-ontwikkeling. Die rol van die owerheid moet bloot wees om ’n positiewe, kompeterende mark en ’n gemaklike en ondersteunende besigheidsomgewing te skep. Selfs in ontwikkelende lande speel die privaat sektor deesdae ’n groter rol en die regerings se rol word al hoe kleiner. Dit verseker dat navorsing al hoe meer kliëntgedrewe raak – dit is uiters belangrik vir die vooruitgang van die sektor.

8. Wat moet landbou-ontwikkeling se bydrae wees?
Landbou-ontwikkeling is ’n groot deel van ons toekoms en sukses hier is die enigste manier hoe kommersiële produsente ’n toekoms in Suid-Afrika kan verseker. Ons sien voorbeelde van vooruitgang in dié verband in verskeie bedrywe. In die graanbedryf het Graan SA tot dusver fantastiese werk gedoen en baie mense se lewens is deur die projekte verander en verbeter. Ek sal graag hierop wil voortbou. Vir opkomende boere om kommersieel te raak, is dit belangrik dat hulle herbelê in die grond waarop hulle boer.

Om winsgewend en volhoubaar te boer, is belangrik om hierdie boere vorentoe te neem, juis omdat hulle in ’n meerdere mate uitgelewer is aan omgewings- en ekono­miese faktore. Produktiwiteit moet verbeter en geoptimaliseer word en daarvoor is daar ’n passie vir landbou nodig. Dit is makliker om te belê in iets waarvoor jy lief is.

Ek sal graag wil sien dat Graan SA toenemend ’n rol speel in die ontwikkeling van winsgewende boere en daarom is dit so maklik om verlief te neem met die reeds bestaande strategieë in dié verband.

9. Hoe handhaaf Pieter ’n balans tussen werk en ontspanning?
Ons as gesin ontspan graag in die natuur. Ons boer nou amper 20 jaar deeltyds en naweke spandeer ons baie tyd op die plaas. Hoewel ek boerdery as my grootste stokperdjie sien, is ek en my seun ook baie lief vir langafstandteikenskiet. Ons geniet die fisika daaragter en gesels graag oor die trajek en spoed van ’n koeël. Dan geniet ons bergfietsry en is gelukkig om hier waar ons in die Wieg van die Mensdom by Muldersdrif woon, heerlik in die natuur te kan ry. Ek is verder baie lief daarvoor om met my hande te werk, goed reg te maak en veral met staal te werk.

10. Vertel ons meer oor jou eie betrokkenheid by boerdery?
As kind het my pa deeltyds geboer op ’n plaas tussen Potchefstroom en Parys in die Noordwes. Dit was ’n gemengde saai- en veeboer­dery en dit is hier waar ek lief geraak het vir beeste, die veld en die natuur.

Ek het self lank met beeste en mielies geboer, maar het – nadat ons Gauteng toe getrek het toe my verantwoordelikhede by Monsanto verander het – die saaigedeelte van ons boerdery by Lichtenburg gestaak. Ek het nog vir twee jaar aangegaan met die beesboerdery, maar in 2018 het ons om verskeie redes besluit om die beeste te vervang met wild. Dit het vir ons gegaan oor die regte tydsberekening en dit was ’n goeie beleggingsgeleentheid. Wild is ook makliker om oor ’n afstand te bestuur. Ons liefde vir wild het natuurlik ’n rol gespeel en ons kon in ’n stukkie wildsgrond net buite Swartruggens belê. Ons boer op hierdie stadium net met wild – gewone wild of plains game soos hulle in die bedryf daarna verwys. Dit is hier in die hartjie van die Marico-Bosveld waar jy my en my gesin oor naweke sal aantref – in die natuur en op ons gelukkigste.

Met ’n passie vir landbou en groot liefde vir die natuur, meen Pieter dit is ’n besonderse voorreg om in landbou betrokke te kan wees.