Gunstige vooruitsigte voorsien vir kanolabedryf

Gepubliseer: 9 Julie 2021

46
Jan Greyling,
SA Graan/Grain-
medewerker

Kanolaprodusente, insetverskaffers en navorsers het in Mei vanjaar in Hopefield byeengekom om tydens die Proteïennavorsingsentrum (PNS) se Kanola-inligtingsdag die verwagtinge en struikelblokke in die bedryf te bespreek.

Te midde van uiters gunstige klimaatstoestande en bogemiddelde vroeëwinterreënneerslae, beraam kundiges van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) ’n nasionale kanola-opbrengs van sowat 140 000 ton in 2021.

Suksesvolle markontwikkeling en ’n voortgesette groei in die verbruikersvraag na die gesondheidswaarde van kanolaprodukte kan die plaaslike oes egter teen 2030 tot sowat 240 000 ton laat styg, sê prof Ferdi Meyer, besturende direkteur van BFAP.

Prof Meyer sê waardeskepping deur die hele ketting raak nou, net soos in die sojaboonbedryf, vir kanola sleutelbelangrik. “Ons moet as ’n waardeketting saamstaan – nie net op primêre vlak nie, maar saam met verwerkers en insetverskaffers. Dit is reeds aan die gebeur.”

Hy verwys na geleenthede in die voerbedryf. “Onthou, sowat 30% van die land se voerbehoeftes is in die Wes-Kaap. Tans voer ons oliekoek van Argentinië en Brasilië af in.”

Ook Andries Theron, voorsitter van die PNS, het die bedryf ernstig gewys op die geleentheid om deur kanola en moontlike alternatiewe wintergraangewasse die premiepryse in die voer- en menslike mark te benut. “Kom ons druk vir intensiewe navorsing om die regte toekomsgewasse te kry. Daar lê baie geld daarin om gedeeltelik of in geheel self te kan produseer en boonop te kan uitvoer,” sê hy.

Prof Meyer sê verder: “Ons kanola is tans werklik ’n druppel in die internasionale emmer. Ons is op die oomblik gekoppel aan uiters goeie groente-oliemarkpryse. Met die gunstige klimaat kon ons in 2020 van ’n gemiddeld van 1,5 t/ha na 2,2 t/ha vorder en in perfekte toestande 160 000 ton vanaf 73 000 ha lewer.

“Vanjaar het die aanplanting met meer as 20 000 ha gegroei. In ’n normale jaar kan ons op 95 000 ha teen 1,5 t/ha sowat 140 000 ton tot 145 000 ton realiseer. Kom ons weer naby 2,2 t/ha, kan ons kyk na 175 000 ton tot 180 000 ton in die silo’s in 2021.”

BFAP projekteer dat groente-oliepryse – en dus kanolapryse – vir die volgende jaar op hoë vlakke sal bly. “Die huidige tendens bied ’n ideale geleentheid om swart boere en entrepreneurs se deelname deur die waardeketting dramaties te verhoog. Ons moet net realisties bly en ook minder suksesvolle jare verwag. Die regering en die privaat sektor moet hulle hulpbronne hiervoor reg belyn.”

Kies die regte kultivar
Dr Johann Strauss, senior wetenskaplike van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het in samewerking met kollegas Piet Lombard en Lisa Smorenburg bevestig dat onkruidsamestellings op die plaas van die belangrikste kultivarkeusefaktore by kanola bly. “Dit bepaal of geneties aangepaste kultivars soos CL Clearfield® (imasamoks-tolerant), TT-kultivars (triasien-tolerant) of konvensionele kultivars gekies moet word. Swartstam-weerstandigheid bly ook van kardinale belang.”

Die volledige kultivarlys vir die uiteenlopende produksiegebiede en data oor hul prestasie in beide die Swartland en die Suid-Kaap kan in die PNS se Kanolafokus gesien word.

Teen erge onkruidprobleme stel dr Strauss TT-kultivars voor. Hier word opbrengspotensiaal egter benadeel omdat aanpassings in een van die foto­sintesesisteme gedoen is. “Daar is alternatiewe nuwe TT-kultivars wat die gaping in opbrengs verklein. CL Clearfield® se opbrengspotensiaal is soortgelyk of selfs beter as die van konvensionele tipes.”

Dr Strauss wys daarop dat die meeste kultivars nie meer oopbestuif is nie, maar hibriede wat in jaar een goed doen. Wanneer saad egter terug­gehou word, kan hul prestasie afneem.

“Kultivars met ’n langer groeiseisoen moet net oorweeg word vir streke waar daar vroeër geplant kan word en/of in ’n natter, kouer omgewing. In die Swartland met sy droër somers is die oordrag van sekere onkruiddoders soms ’n uitdaging.”

Hy sê produsente in die Suid-Kaap kan vroeër plant en ’n kultivar met ’n langer groeiseisoen kies. In die Swartland plant produsente verkieslik ’n vroeë kultivar wat gouer klaarmaak of ’n mediumgroeier om die beskikbare seisoen ten volle te benut. “Opbrengs sal met 1,55% vir elke 1 mm reën wissel in die 60 dae ná blom en vir elke dag wat die saailinge vroeër opkom, verbeter die oesverwagting met 1,5% tot 1,6%.”

Dr Strauss herinner produsente aan hul kultivarprogram met alle toepaslike data oor bestaande kanolakultivars. “Dan het ons ook die elitekultivarprogram waar nuwe kultivars oor twee tot drie jaar getoets word. Ons selekteer dan vir inpassing in ons produksiegebiede en sluit suksesvolle opsies by die kultivarprogram in.

“Onthou ook om kultivars gereeld af te wissel. As jy byvoorbeeld in TT-kultivars glo, gebruik die volgende keer ’n ander maatskappy s’n. Daar is geenverskille met verskillende weerstand teen siektes, wat afwisseling vereis.”

As alternatief kyk die departement volgens dr Strauss indringend na onder meer nuwe lupien­opsies vanuit Australië. “Ons ondersoek soveel moontlik ander wintergraangewasse wat alternatiewe inkomste vir produsente kan beteken.”

Dr Strauss herinner produsente aan die risiko’s van grond­bewerking. “Ongelukkig vernietig alle grondbewerkingstoerusting grondstrukture op die een of ander manier. Dit verminder waterinfiltrasie asook die beskikbare biomassa op die grond. Bewerking en die gebruik van onkruiddoders laat onkruid met verloop van tyd toeneem.”

Nuwe fokus op swartstam
Dr Gert van Coller, sy kollega dr Diane Mostert, en Huibré Schreuder,­ ’n PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch, het goeie nuus vir die plaaslike kanolabedryf. Huibré pak, onder leiding van haar mentors, vir die eerste keer ooit ’n plaaslike studie aan oor die voorkoms en reuse-impak van swartstam (Leptosphaeria maculan en Leptosphaeria biglobosa) as ’n bedreigende saadgedraagde siekte op kanola.

Volgens dr Van Coller is swartstam in Kanada, Wes-Australië en Suid-Afrika die belangrikste bydraer tot ekonomiese verliese op kanola. Hoewel ’n 90%-oesverlies al in Australië voorgekom het, word gemiddeld 10% tot 15% van die oeswaarde jaarliks hierdeur vernietig. Wêreldwyd beloop verliese sowat $900 miljoen.

Kanadese navorsing het in 2013, 2014 en 2015 bevind dat die intensiteit van swartstam laer was en saadopbrengste 120% tot 128% groter was met matig bestande en bestande hibriedkultivars, vergeleke met vatbare oopbestuifde kultivars.

Piet Lombard van die Wes-Kaapse Departement van Landbou sê volgens ’n verslag in die Kanolafokus dat kanolakultivars jaarliks van hul swartstamweerstand verloor. “Saailinge word direk na ontkieming geraak. Die siekte oorleef op kanolastoppels in donkerkleurige vrugliggame, wat as luggedraagde spore na herfsreën vrygestel word. Hierdie spore waai tot 500 m ver.” Dr Van Coller wys daarop dat die kultivars se weerstand onveranderd bly. Die patogeen pas egter aan en oorkom dan die kultivars se weerstand.

Met befondsing van die Olie- en Proteïensade Ontwikkelings­trust (OPOT) is Huibré op soek na antwoorde oor die karakterisering en bestuur van swartstampatogene in kanola in die Wes-Kaap. Die siekte veroorsaak blaarvlekke, stamkankers en verrotting van die wortelkroon en saadsakkies wat die bedryf se potensiaal beperk. Sy sal in 2021, 2022 en 2023 veldwaarnemings en kweekhuisopnames van ’n verskeidenheid kultivars kombineer en dit met swamsensitiwiteitbevindings in die laboratorium integreer. Bevindings oor kultivarweerstand en swamvatbaarheid sal gepubliseer word.

Lizette Nowers, die Wes-Kaap se departementele kenner van die voorkoms en bestuur van Sclerotinia by kanola, het beaam dat kultivars met ’n langer groeitydperk ’n groter risiko vir dié en ander siektes dra. Sy beveel aan dat plantdigtheid nie deur produsente as ’n maatstaf vir die moontlike voorkoms van die siekte gebruik word nie.

“Ongesertifiseerde saad is egter ’n groot risiko en die gebruik van skoon kanolasaad word ten sterkste aanbeveel.” Sy versoek produsente ook om die werk van die Suid-Afrikaanse Sclerotinia navorsingsnetwerk (SASRN) te volg.

Sprekers tydens PNS se Kanola-inlig­tingsdag vir 2021 was prof Ferdi Meyer, dr Johann Strauss, Andries Theron (PNS-voorsitter), Huibré Schreuder en dr Gert van Coller. Voor: Lizette Nowers en prof Stephanie Midgeley.
Foto: Jan Greyling

Nuwe klimaat word bestuur
Sedert Januarie vanjaar het die nuwe klimaatsverandering­spesialis by Elsenburg, prof Stephanie Midgeley, omvattende beplanning gedoen vir die implementering van die 2016 Smart Agri Plan. Prof Midgeley het tydens die inligtingsdag gesê die impak van klimaatsverandering op voedselsekerheid baan die weg vir ’n meer klimaatveerkragtige landboutoekoms vir die Wes-Kaap.

Sy sê produsente en hul werkers, die volle waardeketting en verbruikers moet op hoogte kom van klimaatswerklikhede en alle moontlike samewerking gee om dié werklikheid te bestuur.

Volgens prof Midgeley sal die kwik, afhangend van unieke plaaslike topografie, teen 2050 in die Wes-Kaap met nagenoeg 1,5˚C styg (met 1990 as basis). In die binneland kan dié syfer 2˚C tot 2,5˚C wees. “Uit verskeie reënvalmodelle verwag die meerderheid dat die winterreënvalstreek se gemiddelde reënval teen 2050 gering kan verminder en dat die reënseisoen dan ook later kan begin en langer kan duur.”

Sy sê landbounavorsers moet nouer saamwerk met verwante vakgebiede wat direk geraak word. Die groot verskille in weerpatrone – uiterste langertermyndroogtes en skielike, onverwagse buitensporige vloedreëns – verg tans aandag. Sy sê produsente moet gehelp word om beter te beplan en op te tree teen veranderinge. Dit sluit onder meer bewaringslandbou en die beste genetiese keuse van gewasse in wisselboukombinasies in. “Maksimum grondgesondheid en doelgemaakte siektebestuur sal die veerkragtigheid teen klimaatsverandering bevorder,” meen prof Midgeley.

Produsente word aangespoor om nie oorhaastig te wees nie, maar om getoetste, beskikbare inligting oor klimaatsverandering te vertrou. “Ons moet ten alle tye, in die oorgang na meer volhoubare praktyke, winsgewendheid behou.

Besoek www.greenagri.org.za vir meer inligting oor die landbouklimaatsplan.